Afrikaans 90: Afrikaans is ’n taal van keuse

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Alet Rademeyer (joernalis)

Hoekom Afrikaans? Hierdie is deesdae tegelyk ’n moeilike én maklike vraag waarop elkeen vir homself die antwoorde moet probeer uitklaar.

Dié mooi taal wat sy wortels in Afrika, Europa en Asië het, is die afgelope twee dekades op verskeie samelewingsvlakke ondergrawe, uitmekaar getrek, vertrap, verdag gemaak en selfs opnuut tot ’n instrument van onderdrukkers en rassiste verklaar.

Natuurlik sal dít en die toenemende afskaling van die taal op byna alle lewensterreine die vraag laat ontstaan of dit enigsins sin het of belangrik genoeg is om vir ’n staanplek vir Afrikaans te pleit of self by ’n nuwe taalstryd betrokke te raak wat al soveel keer in die verlede geveg is.

Vir baie mense is Afrikaans hul moedertaal en onlosmaaklik deel van hul diepste wese. Dit gee aan hulle ’n individuele, maar ook ’n groepsidentiteit.

Hul taal is nou verweef met hul kultuur, tradisies en waardes waaraan hulle van kindsbeen af blootgestel is.

Diésulkes is lief vir Afrikaans en by hulle is daar nie twyfel dat dit die voorkeurtaal is waarin hulle onderrig wil word, sake wil doen, beroepe wil beoefen of sommer net wil leef nie.

Ander individue daarenteen is ongeërg oor dinge soos taal, kultuur of tradisies en sien hulle in die postmodernistiese globale wêreld eerder as wêreldburgers wat minder van ’n behoefte het om aan ’n spesifieke groep of kultuur te behoort.

Die wonderlike van die land waarin ons nou bly, is dat elke mens keuses het en keuses kan uitoefen.

Suid-Afrika het 11 amptelike tale en hoewel mense se belewing en persepsie dikwels is dat die regering dit eintlik sou verkies dat alles eentalig Engels moet wees, is daar darem nie ’n “verbod” op Afrikaans nie.

Afrikaans behoort vandag aan almal wat in Suid-Afrika woon. Die taal se skanse is lankal afgebreek en die medium waardeur miljoene mense elke dag leef.

Ons het nie nodig om skaam te wees oor Afrikaans of die herkoms van die taal nie.

Ons is eintlik soveel verskuldig aan ons voorgeslagte wat dit reggekry het om met drome, ideale en ongelooflike harde werk en toewyding Afrikaans te begin en uit te bou tot die taal wat dit vandag is.

Dis nou in ons hande om toe te sien dat Afrikaans nooit in die vergetelheid sal raak nie. En dit kan ons net doen, as ons dit brandend in ons harte laat bly leef en elke dag só gebruik dat dit ons bevry en nie kniehalter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae