Afrikaans 90: Afrikaans is ’n taal van status

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Potchefstroom Gimnasium

As oudste Afrikaanse hoërskool in die wêreld, is Potchefstroom Gimnasium baie trots op die feit dat ons vir meer as 100 jaar al onderrig kan gee in ons moedertaal, Afrikaans.

Afrikaans is een van die 11 amptelike landstale in Suid-Afrika en tans die derde grootste wat amptelike moedertaalsprekers betref. Engels is vyfde op hierdie ranglys! Afrikaans verdien ’n gelyke plek naas elke ander taal in Suid-Afrika, veral wat betref die gebruik daarvan as werkstaal, skryftaal, digtaal, studietaal, ekonomiese taal, maar veral ook as ’n opleidingstaal.

Dit is ’n bewese feit dat moedertaalonderrig die beste medium van onderrig is. Indien ’n leerder in ’n ander taal as sy moedertaal onderrig ontvang, verwar dit hom en bemoeilik dit die leerproses.

Tale bestaan egter nie in ’n lugleegte nie en daarom is beïnvloeding van Afrikaans deur ander tale inderdaad ’n faktor om mee rekening te hou. Daar moet na taalsuiwerheid gestreef word, aangesien ’n suiwer taal ’n positiewe bydrae tot doeltreffende kommunikasie lewer. Taalvermenging verwoes die besondere karakter en aard van Afrikaans en is sosiaal onaanvaarbaar, want onsuiwer taal is ’n weerspieëling van ’n mens se algemene opvoeding en geleerdheid. Afrikaans het inderdaad heelwat woorde by Engels gaan leen, maar in Engels is daar tereg geen beter beskrywende woorde vir koeksister, braaivleis, lekker, dorp, kraal, padkos, verkramp, verlig, voetstoots (en die lys gaan voort …) nie!

Afrikaans se heterogeniteit maak dit ekstra spesiaal; dink maar net aan die streeksverskille, sosiale verskille, geslagsverskille en ouderdomsverskille van die sprekers wat sorg vir die wonderlike variëteit van Afrikaans!

Afrikaans voldoen aan al die behoeftes van sy gebruikers, want dit word in die media, pers en boeke gebruik, maar ook in die skole, kerke, staatsinstellinge en taalverenigings. Dink maar net aan die verskeie Afrikaanse kunstefeeste wat nie net op eie bodem nie, maar internasionaal, gereël en deur groot getalle aanhangers bygewoon word. Daar is uitmuntende nuwe Afrikaanse films op die silwerdoek, ritse nuwe Afrikaanse sangers en skrywers en die mark wemel weer van nuwe Afrikaanse jeugverhale! Afrikaans het status op ekonomiese, kulturele, godsdienstige, politieke en ander gebiede. Die standaardvorm van Afrikaans word erken en die gehalte daarvan word deur die Taalkommissie en die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans gekontroleer. Omdat Afrikaans voldoen aan die funksies van onderwys- en kultuurtaal is dit ’n simbool van nasionale eenheid en trots onder Afrikaanssprekendes.

Talle Gimmies het al op nasionale en internasionale vlak hul merk gemaak en is vandag wêreldbekende medici, wetenskaplikes en besigheidslui. Gimmies sal altyd met trots onderrig in Afrikaans bly aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.