Afrikaans 90: Afrikaans is so deel van Namibië soos die Namib

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Callie Opperman (Netwerk vir Afrikanerbelange)

Van waar Afrikaans in Namibië?
Afrikaans is so deel van Namibië soos die Namib. Die mooi taal is reeds voor 1738 vanuit die Kaapkolonie deur Oorlams na hierdie land gebring. Die Basters het vanaf 1820 hulle in die suide en weste gevestig. Afrikaans is so wyd gebruik dat dit die taal vir sendelinge, besigheidsmanne en vir geskrewe vredesverdrae tussen Herero’s, Namas, Basters en Oorlams geword het. Dit is later (1885) versterk deur Blanke “Boer-Hollanders” wat hulle hier kom vestig het. ’n Sterk inspuiting het gekom deur die afstammelinge van die Dorslandtrekkers wat vir 50 jaar in Angola (onder ’n Portugese regering) die taal gehandhaaf het, maar toe (1928–29) na Suidwes-Afrika verhuis het.

Vir baie jare was Afrikaans saam met Duits en Engels die amptelike tale van die land. Dit het ten spyte van die politieke kleur daaraan ’n gewilde spreektaal van suid tot noord gebly – meer as Engels of Duits. Na onafhanklikheid in 1990 is Engels as die amptelike taal verklaar, en is ook gekies as die onderrigtaal in staatskole vanaf graad 4.

Waarom dan nog Afrikaans in Namibië?
• Afrikaans is ons moedertaal, vir baie mense uit verskillende etniese groepe. Daarom wil ons dit praat en skryf en sing.
• Dit is ’n geliefde taal waarop gebruikers trots is. Dit is geliefd met sy eie nuanses in tipiese Namibiese uitdrukkings, ’n lewendige taal wat steeds groei soos nuwe woorde gevorm word.
• Dit is ’n taal waarin jy kan bid, skryf, praat, stories vertel, gedigte skryf en lekker kan sing. Voortgaande gebruik van Afrikaans in die media, deur radiodienste, in boeke en liedere, asook tydens ’n Woordfees, is bewys daarvan.
• Mens kan in Afrikaans tot die hoogste akademiese sport vorder, selfs internasionaal.
• Afrikaners en Afrikaanses het nie gaan lê toe Afrikaans sy staatkundig bevoorregte posisie verloor het nie. Afrikaans word nog wyd gepraat. Afrikaans word as vak aangebied in die meeste skole, Christelike Afrikaanse Privaatskole is gevestig, waar kwaliteit onderrig gebied word. Afrikaanse kultuurorganisasies bloei steeds.
• Dit is steeds ’n (ge)maklike taal vir kommunikasie tussen verskillende taalgroepe.
• Afrikaanse taalgebruikers is nie teen ander tale gekant nie, en besef die waarde van meertaligheid. Ons moedertaal is egter ons hartstaal.

Behoeftes aan Afrikaans
Daar is egter, ten spyte van die feit dat Afrikaans lewenskragtig in Namibië is, tog ’n groot behoefte aan Afrikaansonderwysers in die staatskole. Daar is nie genoeg studente wat aanmeld vir onderwysopleiding om Afrikaans as vak te onderrig nie. ’n Afrikaanse Taalraad kan die voortbestaan en groei van Afrikaans op alle terreine van die samelewing verstewig. Dit sal voordelig wees vir leerders, sowel as die taal, indien Afrikaanse moedertaalonderrig (naas ander moedertale) in die staatskole teruggebring kan word. Daarvoor sal Afrikaanses oor etniese grense heen moet hande vat en saamstaan.

Hoekom dan Afrikaans?
Afrikaans is eie aan Namibië, aan Afrika en aan die mense van Afrika. Die enigste taal waarin die naam “Afrika” voorkom. Dit is ’n taal wat nog lank lewenskragtig sal bly. Daar is vir jou ’n toekoms as Afrikaanse taalgebruiker – plaaslik en internasionaal. Hierdie pragtige taal word wyd gebruik as huistaal, besigheidstaal, skryftaal en singtaal. Op skool, in kerke en op straat is Afrikaans stewig gevestig.

Jou bewaring en uitbouing van Afrikaans sal nie ’n eensame takie wees nie, maar ’n heerlike spanpoging met ’n gemotiveerde groep mense. Mense wat vir Afrikaans lief is en die onbegrensde moontlikhede daarvan raaksien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nico ·

Ek dink daar is nog steeds meer mense in Namibië wat Afrikaans kan praat as Engels. Dit is net die Owambos wat nie eintlik Afrikaans praat nie, maar dan is daar ook nie baie van hulle wat kan Engels praat nie. Seker die enigste land in die wêreld waar die amptelike landstaal slegs 1% van die bevolking se huistaal is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.