Afrikaans 90: Afrikaans kook!

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Carla van der Spuy (joernalis)

Sy Russiese vrou praat Russies met hul tweelingdogtertjies en hy praat net Afrikaans met hulle. Oor Engels het hy geen slapelose nagte nie, want Engels leer jy in elk geval in Suid-Afrika.

Hierdie woorde van Suid-Afrika se eie gewilde beroemde ekonoom Dawie Roodt, som sy siening oor ons mooi taal op.

Hoekom moet leerders aangemoedig word om Afrikaans te praat, te leer, te skryf en te leef? Dit gaan oor veel meer as net sentiment of die feit dat Afrikaans ons hartstaal is en mens so lekker in Afrikaans kan vry, kuier en vloek.

Soos wat maar ’n joernalis se gewoonte is, het ek verskeie bekende Afrikaanses wat hul brood in Afrikaans verdien, asook buitelanders, om hul menings genader.

Belia Lourens, die bekende sangeres sê jongmense moet Afrikaans leer omdat dit ’n beskrywende, unieke taal is met woordeskat wat daagliks groei.

“Verloor jy Afrikaans, verloor jy veel meer as ’n taal, maar ook die insig wat beskrywende woorde bring,” sê sy.

Dink maar net aan die woorde “padpredikant”, “glimlag” en “uitsmyt”.

“Afrikaans is ’n hoor- en voeltaal. En waar kan jy ’n beter rede as dit kry om Afrikaans as opvoedingstaal te gebruik?”

Pastoor Harro Rust van Hartbeespoort wat ook die leier van hierdie dorp se gevreesde en gedugte hoewewag is, sê: “Praat Afrikaans sodat sekere mense ons nie kan verstaan nie …”

Die gewilde skrywer Helene de Kock beskryf Afrikaans as “dinamies met ’n gerespekteerde letterkunde. Afrikaans laat haar nie onderdruk nie. Dit leef.”

Skakel ons KwaZulu-Natal uit, is Afrikaans die taal wat in die res van die land die meeste gepraat word, meen At Schoeman.

Nederlandse vriende het Afrikaanses al as “gesellig” beskryf. Ja, meen joernalis Helena Visser Kolbe, Afrikaans is ’n sprekende taal, ’n maklike taal (sonder naamvalle) en dis meesal jollie mense wat Afrikaans as eie taal het.

Ek weet ook as jy ’n besoek oorsee bring en iewers ’n luidrugtige en uitbundige groep hoor wat lag tot hulle uitasem is (selfs oor die dinge waaroor mens eintlik behoort te huil) is die kanse goed dat dit ’n klomp Afrikaanses is. Wil jy werklik op al die pret uitmis omdat jy nie Afrikaans verstaan nie of te slapgat was om die taal te leer?

En wie wil nie op hoogte wees van dit wat op gewilde televisieprogramme soos Boer soek ’n Vrou, Binnelanders en Kokkedoor aangaan nie? Ja-ja daar is soms byskrifte in Engels, maar dit kan ook maar lastig wees.

Geleerdes stem saam dat indien jy nie ’n Afrikaanse laerskool bywoon nie, sal Afrikaanse hoërskole ook mettertyd tragies verdwyn.

Skrywer en uitgewer Theresa Papenfus van Litera Uitgewers sê: “Dis so ongelooflik arm en ingeperk om net een taal te praat. Afrikaans is ’n inheemse taal, maar dit vorm terselfdertyd ’n brug na die Weste. Buitendien vind mens in geen ander taal ’n woord wat kan troos soos toemaar nie.”

Talle buitelanders is gefassineer met Afrikaans. Hannu Lahti is ’n Fin wat nog nooit ’n voet in Suid-Afrika gesit het nie, maar homself sommer Afrikaans leer praat het en vlot in Afrikaans op Facebook gesels. Dit was vir hom nogal maklik om te leer omdat hy reeds Duits en Sweeds magtig is.

Sebastian Biehl is ’n Duitser van geboorte wat in 1992 in Suid-Afrika kom vakansie hou het en toe besluit het om aan die universiteite van die Vrystaat en RAU in Geskiedenis en Politieke Studies te studeer. Hier wil hy woon, het hy toe besluit. Vandag praat hy omtrent net Afrikaans. Hy voel tuis tussen Afrikaanses vir wie hy as “vriendelike, hartlike en mensliewende mense” beskryf.

Die taal wat “romanties en strelend kan wees, maar ook soms hard en afwysend, maar jou altyd aanraak”, pas by die land se landskap, meen hy.

En dan is daar die talle Nederlanders wat so geesdriftig oor Afrikaans is dat hulle sommer Afrikaanse woorde vir die HAT-woordeboek geborg het. Vir Kees Brandsteder van Stichting Ubuntu Nederland was dit regmakertjie. En vir Lucy van Neijenhoff laatlammetjie.

My Nederlandse skrywerneef Niek de Kruif is soos talle ander in die lae lande ook gek oor Afrikaans. Sy woorde is: “Engels dat is een algemene taal. Afrikaans is voor die fynproewer.”

Selfs Tsotsitaal is ryk aan Afrikaanse uitdrukkings en woorde aldus die Ikasi Ringas School of Tsotsi Taal wat ’n webtuiste bedryf waarop die taal bevorder word. Vandaar die woord “taal” waarmee dit beskryf word.

Tsotsitaal word deur miljoene mense in townships en in die middestad van stedelike gebiede gebruik en is ’n samestelling van Afrikaans, Engels en ander inheemse tale. Woorde soos vaar, dink en vat is direk uit Afrikaans geneem, asook woorde soos ag, babalas, bakkie, boerewors, braai, dankie, isit, kwaai, padkos, lekker, skelm, skop, skrik, veld en voertsek.

Jip, Afrikaans strek oor land- en taalgrense. Dis cool om Afrikaans te praat. Jy hoor dit wêreldwyd. Ons taal kook!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae