Afrikaans 90: Afrikaans reeds 90 jaar lank ‘n amptelike taal

afrikaans-90Hierdie artikel is oorspronklik in die Solidariteit Tydskrif gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media geplaas. – Red

Deur Jaap Steyn

Vanjaar 90 jaar gelede het Afrikaans een van die amptelike tale van Suid-Afrika geword. Die proses wat hiertoe aanleiding gegee het, het begin op 31 Mei 1910, die dag waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Een van die belangrikste bepalings van die 1910-grondwet was dat Hollands, buiten Engels, ook as amptelike taal erken is.

Voordat die onderhandelings oor ’n nuwe grondwet in 1908 begin het, het feitlik almal verwag dat Engels die enigste amptelike taal gaan wees. Nadat Brittanje die Vrystaat en Transvaal in die Anglo-Boereoorlog verower het, was Engels die enigste onderwys- en amptelike taal, net soos in die Kaapkolonie en Natal.

Vir die twee Vrystaatse leiers, pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog, was dit totaal onaanvaarbaar. Dit is aan hul sterk standpuntinname te danke dat die Nasionale Konvensie op 20 Oktober 1908 besluit het dat Engels én Dutch amptelike tale sou wees. Daar was nog ʼn meningsverskil oor die vraag of Afrikaans of Nederlands die skryftaal van die Afrikaanssprekendes moes word. Afrikanerleiers het vroeg in 1909 ooreengekom dat Hollands die regte vertaling van Dutch sou wees, omdat dit Afrikaans en Nederlands kon insluit.

Binne enkele jare het Afrikaans die oorhand oor Nederlands gekry en in 1925 is dit wetlik bepaal dat die woord Hollands in die grondwet ook Afrikaans insluit.

Die besluit om twee amptelike tale te erken, het die verengelsing van die openbare lewe in Suid-Afrika gestuit. Die twee alternatiewe was ’n langdurige taalstryd om erkenning, of berusting in die alleenheerskappy van Engels, en daarmee saam die agteruitgang en waarskynlik die ondergang van Afrikaans.

Afrikaners het Afrikaans gou opgebou tot ’n volwaardige kultuurtaal. Die gelyke behandeling van die amptelike tale in die staatsdiens, die uitbreiding van moedertaalonderwys na Afrikaanssprekendes en die skeppingskrag van joernaliste, skrywers en ander intellektuele het dit moontlik gemaak.

In 1948 het die Nasionale Party aan die bewind gekom. Die belangrikste wat dit op taalgebied vermag het, was om die Afrikaans-Engelse gelykheid van 1910 voort te sit, ook ná republiekwording in 1961.

Die bedeling gegrond op die 1910-grondwet – met sy reg en sy onreg – het aan Afrikaans ’n geleentheid tot ontwikkeling gegee.  Die feit dat die taal se skeppende geeste die kans aangegryp het en Afrikaans tot kultuurtaal met ’n bloeiende letterkunde, volwaardige wetenskapstaal en lewendige massamedia opgebou het, het tot gevolg gehad dat Afrikaans een van maar net vier tale geword het wat in die twintigste eeu hoëfunksiestatus bereik het.

  • Die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikaans word volledig deur prof. J.C. Steyn beskryf in sy boek “Ons gaan ’n taal maak – Afrikaans sedert die Patriot-jare”.  Hierdie standaardwerk oor Afrikaans is deur Kraal Uitgewers uitgegee en kan van Kraal bestel word teen R395 (posgeld uitgesluit). Besoek www.kraaluitgewers.co.za of skakel 012 644 4329 om jou eksemplaar te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thomas van Dalen ·

Net soos wat ons voorvaders moes baklei vir die voortbestaan van ons taal, gaan ons nou nog harder moet baklei as ooit tevore.

Alex Nissen ·

Alles wat vir ons Afrikaner volk belangrik is wil die regering tot niet maak, ons sal baklei vir ons taal en bestaan. Hoekom is engels so belangrik, ons moes nooit toe gelaat het dat ons so opgetrap word, dit kom daarvan as ons net stilbly en onverskoning vra vir die verlede. Dit het baie beter gegaan met almal in die verlede en dit moet gestaak word en ophou maak of die blankes nie bestaan, vernaam die afrikaans sprekende mense. Ons voor ouers het nie verniet gebaklei en baie hat gewerk om die land op te bou, wat nou ten gronde gaan en dit is n sonde om die grond wat die Here vir die boere gegee het aan mense te gee wat geen liefde het vir die grond en geen benul het van boerdery en ons moet dit beveg dat ons blankes in besit van eiedomme is wat hulle gesteel het, dit is wat die regering nou besig is om te doen en zuma kry deur sulke uitlatings meer stemme.Kannie glo dat mense met geen kwalifikasies die land se sake regeer en dan nog sulke buitensporige salarisse kry en hulle eie familie in sulke verantwoordlike poste sit. Die regering is onbevoeg om die land se sake te regeer. Dit is n skande, hulle moet onbevoeg verklaar word, dit lyk soos n sirkus in die parlement.

Shannon ·

‘Afrikaans’. Sluit dit nou Kaapse kleurling Afrikaans (“Cape Dutch”) in ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.