Afrikaans 90: Afrikaans se toekoms vanuit Namibië

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Neil Prinsloo (Vars Onderwys)

Jy is ’n jongmens wat besig is om jou eie identiteit te ontwikkel. Wel gedaan en welkom in die volwasse wêreld. Wie is jy? Waarin glo jy? Waarheen is jy op pad? Waar gaan jy bly? Watter werk gaan jy doen?

Dit is vrae wat jy oor die volgende paar jaar moet beantwoord. ’n Opwindende tyd vol uitdagings breek nou aan, maar kom ons wees eerlik: jy het nog nie antwoorde op al hierdie vrae nie. Een ding is seker: jy is Afrikaanssprekend en praat, net soos ek en baie ander, ook Engels.

Die vraag is: gaan jy Afrikaans bly praat? Gaan jy verder studeer in Afrikaans? Gaan jy trou met ’n Afrikaanssprekende en gaan jy jou kinders in Afrikaans grootmaak? Dink jy dis belangrik? Gaan dit jou baat om steeds getrou te bly aan jou moedertaal? Gaan dit vir jou voordelig wees om Engels asook Afrikaans, as die taal van ’n minderheidsgroep, te bly praat? Hoekom Afrikaans?

Ek wil die vraag omkeer. Hoekom nie Afrikaans nie?

’n Wêreld sonder grense bring geleenthede
’n Wêreld sonder grense is aan die ontwikkel. Dit klink baie opwindend en bied ongelooflike moontlikhede. Dieselfde mense wat McDonald’s en Superman aan die wêreld bekend gestel het, bring ook aan minderheidsgroepe regoor die wêreld moontlikhede waarby gebaat kan word. Menige Afrikaanssprekendes vind baat by hierdie globalisering.

Interaksie met ander tale en kulture van oor die wêreld verbreed ons horisonne, bied aan ons (’n verskeidenheid) keuses en verryk ons lewens. Tog hoef dit nie ons waardes te verswak nie. Internasionale kunstenaars inspireer plaaslike kunstenaars tot hoër hoogtes. Waar kontak in die verlede onmoontlik was, word mense nou globaal verbind. Vooruitgang is soveel makliker.

’n Wêreld sonder grense kan lewensgevaarlik wees
’n Wêreld sonder grense klink baie opwindend, veral vir die Amerikaners wie se taal, kultuur, produkte en dollars nie net die globale golf ry nie, maar ook die golf aandryf. Vir baie ander kleiner kulture in die wêreld lyk die golf van globalisering lewensgevaarlik. Die golf dreig om minderheidsgroepe se tale uit te wis, hul geloof te oorspoel en hul verhoudings tot water en grond, eetgewoontes, hul werke, aanbidding en selfs denke, te verander. Hierdie verandering en uiteindelik uitwissing vind plaas onder arm, afgeleë, agtergeblewe en tradisioneel konserwatiewe groepe mense, maar selfs ook welvarende kultuurgroepe in stede en dorpe in die wêreld se rykste lande, lei daaronder.

Die tale van minderheidsgroepe beleef wêreldwyd dieselfde druk. Jongmense kan soms nie meer die taal van hul ouers praat nie. Taalkundiges voorspel dat die helfte van die wêreld se huidige 6000 tale waarskynlik teen die einde van die eeu sal uitsterf of ernstig bedreig sal wees.

’n Taal wat sterf, sterf egter nie alleen nie. Saam met ’n taal wat sterf, sterf ook ’n geskiedenis, kultuur, stambome, maniere van dink en dalk geloof. Hierdie is deel van ’n tragedie met globale konsekwensies, want net soos biologiese verskeidenheid ekosisteme beskerm, beskerm verskeidenheid in kultuur en taal die mensdom. God het ook in Sy alwysheid verskeidenheid ingestel (Genesis 11).

Wat is jou generasie se uitdagings?
1. Weet wie jy is? Jy sal veral jouself ’n guns doen as jy dit so vinnig as moontlik uitsorteer. Om sekerheid van jou identiteit te kry, bring ook volwassenheid.
2. Antwoord die vraag: hoe gaan globalisering gebalanseerd hanteer word? Gaan ons ons laat insluk en deel word van een wêreldkultuur en -taal? So ’n wêreldkultuur en -taal gaan beslis heel anders lyk as die kultuur en taal waarin jy nou bid, sing, lag en huil.
3. Berei voor om die uitdagings vir ons taal en kultuur te kan aanpak.
4. Maak planne om verskeidenheid te bestuur – nie planne om te oorleef nie.

Afrikaans in Namibië
Ek woon in Namibië. Ek is trots Afrikaans en sien ’n blink toekoms vir ons taal in Namibië, Afrika en die res van die wêreld. Hier is maar ’n paar feite wat my oortuig daarvan:
1. Behalwe vir Suid-Afrika en Namibië, word Afrikaans gereeld gepraat in dele van Botswana, Zambië, Malawi en Zimbabwe.
2. In Namibië geniet Afrikaans grondwetlike erkenning as taal van onderrig in skole, alhoewel Engels die amptelike taal van Namibië is.
3. Afrikaans word, met uitsondering van die Caprivistrook, as spreektaal deur die res van die land gebruik.
4. Ongeveer 75% van alle Namibiërs kan waarskynlik klante in Afrikaans bedien.
5. Die grootste koerant in Namibië, die Republikein, is Afrikaans.
6. Drie radiostasies, Kosmos, Kanaal 7 en die Afrikaanse diens van die NBC, saai Afrikaanse programme uit.
7. Afrikaans as onderrigtaal is belangrik vir ’n groot deel van Namibië se bevolking.
8. Vars Onderwys beplan om ’n Afrikaanse tersiêre instansie op die been te bring om onderwyskwalifikasies in Afrikaans aan te bied.

Hierdie agt punte is rede tot groot opgewondenheid vir Afrikaanssprekendes.

Onthou dus: ’n taal is net so dinamies soos die mense wat dit praat. Die toekoms van Afrikaans lê in ons eie hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.