Afrikaans 90: Afrikaans sonder grense

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Amanda de Stadler (Vriende vir Afrikaans)

4 Maart 2014

Liewe Henriette/Herman

Ek skryf hierdie brief aan julle as jong volwassenes omdat julle ’n baie belangrike rol te speel het in die voortbestaan of nie van Afrikaans. Binnekort is julle die geslag wat die stokkie moet oorvat by die huidige geslag en Afrikaans voortdra die toekoms in.

Ek sou baie graag wou hoor hoe julle oor Afrikaans dink en of julle dink ons taal se voortbestaan is sonder meer gewaarborg? Gaan julle op universiteit kies om die Engelse klasse by te woon en gaan julle eendag jul kinders na ’n Engelse skool stuur?

Julle wonder seker hoekom vra ek dié belaglike vrae vir julle? Wel, omdat ek nie weet wat en hoe julle dink oor Afrikaans en of julle julle hoegenaamd daaroor bekommer en wat julle daarvan in die toekoms verwag nie.

Wêreldwyd is daar ’n tendens dat Engels sekere domeine soos die mediese wetenskappe, ruimtevaartkunde, inligtingstegnologie, ensovoorts – eintlik enige terrein waarin daar nie meer terme geskep word vir nuwe verskynsels nie – begin domineer en oorvat. Naderhand praat en skryf mense oor hierdie kennisvelde net in Engels en nie in hul moedertale nie. Julle kan tog sien hoe dit ’n taal (hier Afrikaans) mettertyd dooddruk en al wat oorbly, is ’n verarmde spreektaal. As julle lus het, gaan kyk ’n bietjie op die internet na wat is aan die gebeur met ’n taal soos Sweeds.

Ons wat Afrikaans praat, sal moet wakker slaap en bewus wees van wat potensieel kán gebeur met Afrikaans en elke ander taal behalwe Engels in ons land. Ons kan mettertyd ’n monotalige, Engelssprekende Suid-Afrika oorhou.

My hartewens is dat julle en jul kinders in Afrikaans, jul moedertaal, kan leer praat, grootword, skoolgaan en leer, verder leer en elke dag kan leef. Hoe, dink ek, gaan julle dit regkry? Hoe gaan julle, dis nou as julle dink dis belangrik, probeer verseker dat Afrikaans blom en groei op alle terreine?

Net as julle aandring op Afrikaans op alle terreine; net as julle presteer in Afrikaans op alle terreine; net as julle vriende maak vir Afrikaans op alle terreine; net as julle deel wat julle het op alle terreine.

Onthou net een ding: ek sê nie julle moenie goed tweetalig wees nie – dis ’n geweldige voordeel om Engels goed te kan praat – nee, ek vra dat julle vlot tweetalig moet wees. Met al die voordele en goeie gesindhede en begrip wat dit meebring, gaan julle ’n beter Suid-Afrika vir jul kinders kan agterlaat.

Ek het in ’n geslag van waarborge grootgeword. Julle het geen waarborge nie. Op ’n manier gee dit vir julle meer vryheid, meer beweegruimte om vol en vry lewens te lei, om op ’n kreatiewe manier te sorg vir Afrikaans, of watter vorm van Afrikaans julle en jul nageslagte gaan praat – iets waarom ek my brein nie eers kan vou nie; dis buite my verbeeldingsvermoë.

Dit maak my skoon jaloers dat julle Afrikaans die toekoms gaan inneem en uitbou op maniere waarvan ek geen kennis dra nie – ’n ware Afrikaans sonder grense wat behoort aan almal wat Afrikaans praat.

Ek groet julle met ’n vrye vertaling in die woorde van Imelda Perley, ’n Maliseetsprekende uit Maine, VSA:

Oumas en Oupas
Dankie vir ons taal
Wat julle vir ons nagelaat het
Dit is nou ons beurt om dit te bewaar
Vir die kinders wat nog nie gebore is nie
Mag dit bewaarheid word.

Dink wyd, droom groot, werk hard en geniet die wonder van die lewe en van Afrikaans.

Mooi loop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.