Afrikaans 90: Afrikaanse boeke maak deure oop

afrikaans 90Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Nicol Stassen (uitgewer)

Protea Boekhuis is sowel ’n uitgewery wat grootliks Afrikaanse boeke publiseer as ’n groep boekwinkels wat ’n oorwegend Afrikaanse publiek bedien. Vir ’n beroep in ’n uitgewery of ’n boekwinkel is kennis van Afrikaanse boeke en die Afrikaanse letterkunde van deurslaggewende belang.

Afrikaans in die uitgewerswese
Hoewel slegs 14% van die bevolking van Suid-Afrika (7 miljoen mense) Afrikaans as moedertaal het, is ’n beduidende persentasie van die algemene boeke wat in Suid-Afrika uitgegee word Afrikaanse boeke. In die geval van volwasse fiksie en kinderboeke word sowat 75% – 80% van die boeke wat in Suid-Afrika uitgegee word, deur die tradisioneel Afrikaanse uitgewers uitgegee. Die drie grootste uitgewers van kinderboeke – NB Uitgewers, Lapa en Protea Boekhuis – is al drie Afrikaanse uitgewers. Benewens hulle is daar ook Lux Verbi, Fantasie, Naledi, Carpe Diem en ander. In 2013 was ongeveer 40 van die 100 topverkopers in Suid-Afrika Afrikaanse boeke. Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Irma Joubert, Wilna Adriaanse, Chanette Paul en andere tel onder hierdie topverkopers.

Hierdie groot aanvraag vir Afrikaanse boeke beteken dat daar heelwat geleenthede by Afrikaanse uitgewers beskikbaar is vir jong mense met tersiêre kwalifikasies in Afrikaans. Hoewel dit dikwels aanbeveel word om ’n kwalifikasie in uitgewerswese of selfs joernalistiek te hê, het verreweg die meeste Afrikaanse redakteurs gewoonlik ’n BA-graad met Afrikaans as hoofvak. Daar is baie min Afrikaanse redakteurs wat nie hierdie kwalifikasie het nie.

As iemand dus in ’n beroep as uitgewer belangstel, is ’n BA-graad die poort tot baie geleenthede. As dit boonop gekombineer word met kwalifikasies in een of meer ander tale open dit selfs nóg meer deure. By sommige uitgewers (soos Protea Boekhuis) word byvoorbeeld heelwat boeke uit ander tale soos Nederlands, Frans, Duits en Engels vertaal en in Afrikaans uitgegee. Dit is byvoorbeeld Protea Boekhuis se missie om die beste boeke wat in die wêreldliteratuur beskikbaar is in Afrikaans te publiseer.

Sewe van die 20 grootste uitgewers in Suid-Afrika publiseer oorwegend Afrikaanse boeke. Daar is dus ’n groot aantal Afrikaanse redakteurs by hierdie uitgewers in diens.

Miskien is die beste bewys dat Afrikaans as gedrukte taal ’n rooskleurige toekoms het die feit dat die grootste uitgewers in die wêreld – internasionale uitgewers soos Penguin en Random House – gedurende die laaste paar jaar begin het om ook in Afrikaans te publiseer en dit baie suksesvol en winsgewend doen. Wanneer internasionale uitgewers van skoolboeke in Suid-Afrika – soos Oxford University Press, Cambridge University Press, Pearson, Pan Macmillan – en uitgewers van universiteitshandboeke ook bygereken word, is dit duidelik dat daar in Suid-Afrika heelwat geleenthede is vir aspirant-boekeredakteurs wat graag hul belangstelling en liefde vir Afrikaans wil uitleef.

Afrikaans in die boekhandel
Met die groot hoeveelheid boeke wat in Afrikaans gepubliseer word, sou ’n mens ook verwag dat heelwat voorraad van Afrikaanse boeke in Afrikaanse boekwinkels aangehou en verkoop word. Dis ongelukkig nie ongekwalifiseerd so nie, want die meeste boekwinkels in Suid-Afrika het ’n oorwegende aanbod van Engelse boeke op hul rakke omdat 60% van die algemene boeke (hoofsaaklik Engelse boeke) in Suid-Afrikaanse boekwinkels uit die Verenigde Koninkryk, Noord-Amerika en Australië ingevoer word, terwyl net 40% plaaslik gepubliseer word. Daar is gelukkig ’n hele paar boekwinkels met ’n beduidende aanbod van Afrikaanse boeke op hul rakke om in die vraag vir Afrikaanse boeke te voorsien. Protea Boekhuis en Graffiti tel onder hierdie uitsonderings.

Uiteraard beteken dit daar by hierdie boekwinkels poste vir Afrikaanse boekhandelaars of verkoopsassistente is. In alle gevalle sal ’n kennis van Afrikaanse boeke en die Afrikaanse letterkunde ’n voorvereiste wees, terwyl ’n tersiêre kwalifikasie in Afrikaans ’n groot aanbeveling kan wees.

Boekwinkels met Afrikaanssprekende boekhandelaars trek beslis voordeel hieruit, want Afrikaanse lesers sal eerder hul boeke by ’n kundige verkoopsassistent koop as een wat nie Afrikaans kan (of wil!) praat nie.

Vir iemand met ’n liefde vir lees, en veral vir die lees van Afrikaanse boeke, is daar dus verskeie geleenthede om binne sy beroep sy liefde vir Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.