Afrikaans 90: Balans in Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Evelyn D Ferreira (Senior bestuurder: taal, ATKV)

Hoekom Afrikaans? Om so ’n vraag te beantwoord, is dit nodig om te verduidelik hoekom ek is wie ek is. En om dit te verstaan, moet ek my storie vertel – hoe dit gekom het dat ek vandag is wie ek is en… dit weet!

My pa was ’n Afrikaanse Ferreira uit die Tsitsikamma, my ma ’n Afrikaanse Schreuder uit die Swartland en ek is gedoop in ’n Afrikaanse kerk en het my pa se volle name. My ma het kleintyd vir my en my drie susters Afrikaanse stories gelees en ons het as musikale gesin dikwels saam uit die FAK, die Hallelujabundel en die kerk se sangbundel, die Koraalboek, gesing en my ma het ons soggens voor skool wakker gemaak met ’n koppie koffie en die neurie van ’n Hallelujalied. My pa het gereeld vir ons gesin uit die Afrikaanse Bybel gelees en in Afrikaans gebid. En ons het gereeld na die radio geluister – hoofsaaklik Afrikaans, maar ook Engels.

As skolier het ek my opleiding en baie lewenslesse in Afrikaans aan ’n Afrikaansmedium skool (die enigste in die Setlaarsdorp, Grahamstad, met sy groot aantal Engelse skole) gekry en daarna na ’n Afrikaanse universiteit gegaan. As onderwyser het ek vir kinders onder andere die vak Afrikaans gegee en moes in die dubbelmediumskole waar ek was, dikwels ook my kennis van Engels inspan.

My vrou kom uit ’n Afrikaanse familie en voel soos ek oor Afrikaans. Jy kan sê ek het haar met ’n Afrikaanse hand uitgesoek! Ons twee seuns is as kleuters saans in die bed gesit met ’n Afrikaanse storie of Bybelverhaal, het in Afrikaans skoolgegaan en was op ’n Afrikaanse universiteit soos hul pa en ma. As jong mans in hul twintigs werk albei vandag by finansiële firmas waar hulle hulself effektief in Engels handhaaf, maar hulle bly die Afrikaanse seuns wat ek en my vrou grootgemaak het. Dit was dus nie nodig om hulle na ’n Engelse skool of universiteit te stuur om die sogenaamde “uitdagende” Engelse wêreld van werk te kan hanteer nie.

Vandag werk ek by ’n Afrikaanse organisasie waar ek my lewe toewy aan die bevordering van Afrikaans in meertalige Suid-Afrika. En dis asof ek hierdie hele ding van “Hoekom Afrikaans?” na al die jare van Afrikaanswees nog beter verstaan. Ek verstaan dat sommige mense onseker is oor in watter taal hulle hul kinders moet laat opvoed en laat oplei, want… hulle het dit nog nie met taal uitgemaak nie. Want as jy ’n keuse vir ’n taal/tale maak, is dit eintlik een van die dinge wat jou definieer. Wat sê wie jy is.

My ouers en familie, onderwysers, vriende en kollegas, en dan uiteindelik keuses het van my gemaak wat ek vandag is. En dit beteken vir my gesonde balans. Ek moes Engels as verpligte tweede taal op skool neem en op universiteit was baie van my handboeke in Engels en het ek daaroor geen keuse gehad nie. My eksamens het ek egter in die taal van my keuse, Afrikaans, afgelê bloot omdat ek my beter in my moedertaal kon uitdruk. Ek het egter ook die keuse gemaak om Engels as een van my vakke op universiteit te neem. Benewens Afrikaanse boeke hou ek daarvan om somtyds ’n Engelse boek, tydskrif of koerant te lees – my keuse. Ek kan my redelik goed uitdruk in verstaanbare Engels en praat dit soms hoflikheidshalwe of as my werk of sekere situasies dit (na my mening) vereis. Weer eens my keuse. Ek verkies dit selfs partykeer om na Engelse rugbykommentaar oor TV te luister bloot omdat ek van die kommentator se styl hou; nie omdat dit Engels is nie! Sommige van my goeie kennisse is Engelssprekend en ek en my vrou is lede van ’n simfoniekoor waarvan die lede oorwegend Engelssprekend is en wat voor oorwegend Engelse gehore optree en hoofsaaklik internasionaal gekomponeerde en verwerkte koorwerke uitvoer; wat nie noodwendig Afrikaans insluit nie. Ons dreig al lankal om ’n inheemse Afrikataal soos Tswana of Zoeloe aan te leer bloot omdat dit help met goeie kommunikasie in ’n meertalige land soos Suid-Afrika. Ons verwonder ons gereeld aan die pragtige plekke met die wonderlikste geskiedenisse en kulture en tale wat daar op aarde is, maar waar Afrikaans nie eens ter sprake is nie. Ten spyte hiervan bly ek ten diepste Afrikaans en het my en my vrou se besluit om ons kinders in Afrikaans op te voed en te laat oplei, geblyk die allerbeste keuse te wees.

Bogenoemde lewensbeskouing maak van my in ’n sekere sin ’n Afrikaanse “wêreldburger”. ’n Gebalanseerde mens wat hom/haar oral kan handhaaf, maar in eerste instansie in alles kies om Afrikaans te wees. Hoekom Afrikaans? Want dis wie ek is en… wil wees! Jy het ook daardie keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsabe ·

Pragtig geskryf! Stem heeltemal saam. AFRIKAANS is wie ek is. Selfs hier in die buiteland is ons trots Afrikaans. Ons kommunikeer met ons kinders in Afrikaans, lees vir hulle stories in Afrikaans, ons leer ons kinders om self inAfrikaans te lees en skryf. Afrikaans as taal is DEEL van wie hulle is!

Agnes ·

hoekom het jy dan jou Afrikaanse land verlaat Elsabe? Ons het opregte Afrikaners juis so nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.