Afrikaans 90: Daar is werk in Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Karen Meiring (kykNET)

Hoekom Afrikaans? Hoekom in Afrikaans leer en lewe? In ’n wêreld waar Engels makliker, voor die handliggend, die sogenaamde wêreldtaal is?

Omdat ons nie anders kan nie, sou ek wou sê. Ook omdat ons te veel is om net stil te word. Amper sewe miljoen mense praat Afrikaans (net in Suid-Afrika). Afrikaans-wees gee aan ons ’n unieke identiteit, met of sonder die bagasie van ’n uiteenlopende verlede – van die Boereoorlog tot apartheid. En al het die politieke landskap van die land en Afrikaans as amptelike taal vir ewig verander, is Afrikaans sterker as ooit. Afrikaans is nou besig met ’n gap jaar of twintig. Met net ’n rugsak betree ons nou plekke waar ons nog nie was nie.

Die alledaagse gebruikstaal in die werksplek is Engels. Maar mense het ook private en persoonlike lewens, waarin hulle uitdrukking gee aan wie hulle is, ’n wêreld waar kulturele en geestelike goedere funksioneer. ’n Kosbare wêreld van uniekheid en diepgang en uitdrukking in moedertaal. Sodat jy na werk, na die eise van ’n kapitalistiese, kompeterende wêreld by die huis kan kom en in eie taal kan afskakel. Kan luister na musiek. Of kyk na films en reekse op televisie en op al die nuwe digitale platforms tot ons beskikking. Of ’n Afrikaanse roman nadertrek. Alles in ’n taal so deel van jou soos asemhaal. (Dit wil nie sê ons geniet nie ook internasionale inhoud nie, ons is immers deel van ’n groter globale mark. Maar Afrikaans is die entiteit wat onderskei, wat ’n leefwêreld omvat.)

Afrikaans gedy in omgewings waar dit gaan om uitdrukking.

Die siklus van kunstefeeste lê onder meer ’n fondament en platform vir ’n kommersiële Afrikaanse bedryf en is uiteindelik deel van ’n volhoubare ekosisteem. Die skeppingskrag van taal en die mens se behoefte vir samesyn, musiek, skryf, diskoers en dig met ander wat deel in jou taal is ’n kreatiewe stimulus wat genereer en selfs tot brandpunte lei.

Voeg daarby die Afrikaanse media – van die gedrukte tot die digitale weergawes en nuwe platforms – wat Afrikaanses in staat stel om te lees, te ervaar en uiteindelik sin te probeer maak van die wêrelde waarin ons leef. Ons diversiteit as ’n taalgemeenskap sorg juis vir ’n wyer en groter verskeidenheid van musiek-, skryf-, dans- en kunste-genres, en maak die wêreld waarbinne ons leef groter.

Afrikaans het ’n lojale en toegewyde mark. Daar is varsdenkende, nuutskeppende, werk-generende Afrikaanse entrepreneurs wat tot die groei en uitbou van ’n indrukwekkende kulturele erfenis kan lei. Daar is werk in Afrikaans. Werk genereer werk en skep meer werk. Die Afrikaanse vermaaklikheids- en kunstebedryf floreer. Nog nooit in die geskiedenis van Afrikaans was daar soveel beskikbaar om te kyk, lees, luister en veral te doen nie.

Die reklamebedryf het groot behoefte aan Afrikaanse kopieskrywers, die filmbedryf aan draaiboekskrywers, in die televisiebedryf is daar talle werksgeleenthede veral by onafhanklike Afrikaanse produksievervaardigers.

Afrikaanse mense is nie lui nie, en omwentelinge het ons selfs nog meer ondernemend as vantevore gemaak. Afrikaans het as taal geherposisioneer en bestekopname geneem. As taalgemeenskap beskik ons oor uiters bekwame rolspelers wat baie kan bied aan ’n globale en eie wêreld.

Hoekom Afrikaans?

Daar is net eenvoudig te veel potensiaal om agteroor te sit.

As ons in die taal van ons hart bly glo, dink en droom, is ons Afrikaansheid en die volhoubaarheid van ons taal in ons eie hande of dan liewer op ons eie tonge!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae