Afrikaans 90: Die Afrikaanse kat kom weer – My Afrikaanse storie

afrikaans-90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Flip Buys (Solidariteit)

Jan was nie die gemiddelde kat op straat nie. Met Goliat se lyf en Dawid se hart, was Jan nie die gemiddelde kat op straat nie. Jy sien, Jan was ons huisheld sedert hy kat-alleen ’n reuserinkhals in die stikdonker huis doodgemaak het toe Pa nie mooi met die kers kon sien nie. Destyds, in die dae toe ’n plaashuis nie eers ’n sleutel gehad het nie, was slange nog die gevaarlikste goed op ’n plaas. Ná die geveg het Jan vir ’n paar dae verdwyn, en na baie soek het ons aanvaar hy’s dood. Eers ’n week later was Jan styf-styf terug, met ’n verergde trek om sy bek asof hy vies was dat ons nie geweet het met nege lewens is hy steeds (ram)kat genoeg vir tien slange nie.

Dis daar op die plaas waar ek die Afrikaanse wêreld en die wêreld deur Afrikaans leer ken het, en lief geword het vir die Jan-kat taaltjie wat die wêreldgrote aangevat het. ’n Taal so klein soos Dawid met ’n hart so groot soos Goliat. Vir my kindergemoed amper soos De la Rey wat lord Methuen se magte op ons plaas platgeloop het. Oupa – ’n oorlewende van die Barberton-konsentrasiekamp ‒ het altyd gesê dis vir hom ’n troos om te dink dat die laaste Engelse woord op ons plaas Tweebosch “Hensop” was! Afrikaans was vir hom en Ouma deel van die opstaan na die oorlog, deel van die “stok en die staf” van Totius se Psalm 23 wat hulle tydens boekevat onder die seringboom vertroos het. Later in my grootmensjare het Totius se Psalms en sy hartroerende pyngedigte oor sy kinders se dood, my ook vertroos wanneer ek langs ’n oop graf moes staan.

Daar was volop kos, liefde en Afrikaanse boeke en tydskrifte op ons plaas, danksy ouers wat opgeoffer het om vir hul plaaskinders ’n venster op die wêreld oop te maak. Die plaasboekerytjie se grense was oop en wyd, die liefde vir die taal en die boeke wat dit gedra het, is deur die buurplase gedeel. Ons Afrikaanse huis was nie bedompig nie, Ma het in oop taalvensters geglo. Genoeg vars taallug moes kon instroom om die koppe oop te maak. Sy het ook die Engelse wêreld geken en waardeer, en probeer om daardie gordyn vir ons oop te skuif, al het Oupa en Ouma daaroor gebrom.

Dit was nie vir my ’n bewustelike besluit om lief te word vir Afrikaans nie, dit was déél van my ‒ rondom my ‒ soos die grond en die gras en die geskiedenis. Ek het deur Ouma se geskiedenis-oë na die ontstaan van Afrikaans gekyk ‒ verstaan dat dit nie ’n maklike geboorte was nie, begryp dat dit kan doodgaan, en besluit dat so ’n kosbare skat die moeite werd is om te bewaar. Vir my was dit vanselfsprekend dat Afrikaans en die Afrikaner een is ‒ dat die een nie sonder die ander kan nie. Soos water deel is van ’n vis se bestaan en gelyktydig ’n bestaansvoorwaarde is, so was Afrikaans vir my onafskeidbaar deel van wie en wat ek is. Afrikaans is my asem ‒ soos Breyten gesê het ‒ die water waarin en waardeur ek leef, en die lewensasem wat ons moes deel – ook met nie-Afrikaanse mense. Almal moes kon deel in die vreugde van die Afrikaanse sonskyn.

Vir ons was Afrikaans nie net ’n “broodsaak” nie, dit was ’n wonderwerk, die stok en die staf waarop ons mense gesteun het om hulself op te hef. Later, baie later ‒ toe die plaas vir my te klein geword het ‒ het ek vir ’n ruk lank die wonderwerkbeloftes oor Afrikaans probeer glo. Maar toe ek agterkom dat nuwe taalmoordenaars én selfmoordenaars Afrikaans wéér aandryf na ’n kulturele konsentrasiekamp, het my rebellie begin. Hierdie keer is dit nie net ’n broodsaak nie, maar ’n doodsaak. Vir my gaan dit nie soos vroeër oor opheffing nie, maar oor die vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan van ons Afrikaanse mense. Engels word nou weer deur gretige hande gebruik as die stok en die staf om die sprekers van Afrikaans mee te slaan, weer as die wapen van massavernietiging van die taal én sy sprekersgemeenskap ‒ al mag mens dit nie sê nie.

Maar gelukkig het ons ’n geheime wapen. Ons taal en sy sprekers het nog altyd sterker geword as dit onder druk geplaas is. Konsentrasiekampe bereik snaaks genoeg altyd die teenoorgestelde. Dít wat die kerkhof moes wees, word die kraamkamer. Soos die VN se Human Development Report van 2004 so mooi in Engels sê: “If the history of the 20th century showed anything, it is that the attempt either to exterminate cultural groups or to wish them away, elicits a stubborn resilience.”

Dis hoekom ons Jan-kat-taal nege lewens het. Dis hoekom ons hierdie keer ook soos NP van Wyk Louw “die skat van Afrikaans veilig deur die skare sal dra”. Werk maar en wag maar, die kat kom weer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Herman ·

Baie goeie skrywe. Ek bly in die kaap waar die Afrikaanse mense met ander Afrikaanse mense engels praat, want ek dink hulle is skaam vir hulself. Was al selfs in n “net Afrikaanse” selgroep waar almal uit die engelse Bybel lees. Ek weet my passie vir Afrikaans neem toe hoe harder ons regering en media dit wil “swart smeer”, want ek ken my geskiedenis en ek is TROTS op wie Ons was en wie ons steeds is. Ek ondersteen al lankal net restuarante met Afrikaanse kelners en besighede wat my in Afrikaans bedien. Hoe gouer ons, ons finansiele stem duk maak, hoe gouer sal mense ons die bietjie respek gee wat ons toekom. Praat Afrikaans, ondersteun Afrikaans en wees TROTS Afrikaans! WANT ONS KAN!

JoeV ·

Stem saam Herman, niks om oor skaam te wees nie, alles oor die media propaganda wat oor lang tyd die waarde van die Afrikaans sprekende afbreek en as nietig afmaak. Baie in die land deur Afrikaans sprekendes gedoen en gebou wat hom die grootste en sterkste gemaak het op die kontinent.

JoeV ·

Mooi egte Afrikaanse storie, soos baie stories wat mens trots maak, wat beskryf soos mens net in Afrikaans kan beskryf, wat kan ontwikkel en laat ontwikkel in ‘n kultuur, maar helaas, ons is op ons eie! Baie swaar was dit toe ek vanoggend op Sanlam se webtuiste gaan soek vir skakel om inligting te kry en ondek dat daar slegs Engelse inligting beskikbaar is, het ons dan geen bydrae gemaak tot waar Sanlam vandag is nie? Is dit omdat dit ‘n vlek sal wees as ander dit sien, sou hulle as Grieke nie ‘n Griekse webtuiste gehad het nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.