Afrikaans 90: Die klank en kleur van Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Linette van der Merwe (UP)

Hoekom Afrikaans? Ek wil dadelik die teenvraag vra: ‘hoekom nie Afrikaans nie?’ Sedert die 2001-sensus het Afrikaans 871 000 moedertaalsprekers bygekry en as dit opsigself nie ’n antwoord is op die vraag nie, kan die paddastoelontploffing in die Afrikaanse musiekbedryf, uitgewersbedryf, tydskrifbedryf, filmbedryf en Afrikaanse feeste (wat die Afrikaanse uitvoerende kunste bevorder) sedert 2001 ’n verdere bevestiging wees dat Afrikaans beslis hier is om te bly.

Afrikaans is vir my ’n volkleurhoëdefinisietaal met genoeg verstellings om aan elke moedertaalspreker se geite te voldoen. As jy die taal instel op die Swartruggens-stasie sal ’n neushoringvoël bekend staan as ’n boskraai, maar op die Vaalwater-stasie kan daar dalk net gepraat word van ’n Jode-papegaai. Tydens die sesuur-nuus op die Namakwaland-stasie hoor mens dalk dat Piet Verdriet sy begrafnisgras begin kleur om sy buitevuurtjie te beïndruk en op die Krugersdorp-stasie word daar regstreeks uitgesaai van ’n obstrawasie in die hoofstraat, veroorsaak deur die lieplappers van die dorp. Daardie selfde aand sal die burgemeester vir hom ’n ojeetjie skink met eish! om die nerwe te bedaar. In Stella maak Jan Donderdag na die middagnuus oogbeen vir twintig minute terwyl sy vrou ’n beker kasaterwater op die stoep sit en drink.

Deur bloot net jou ore en oë oop te hou vir die klank en kleur van Afrikaans, raak dit baie gou duidelik dat dit die taal van baie is en dat daar vir elke groep, subgroep en individu, wat Afrikaans praat, plek is in die wêreld. Daar is dan Afrikaans aan universiteite in Rusland, Pole, Oostenryk en Amerika en ons ken almal ’n Afrikaanssprekende iewers in die uithoeke van die wêreld, óf dit nou in Kanada, Australië, Nieu-Seeland óf Engeland is. Tog is Afrikaans diep gesetel in Afrika. Nelson Mandela sê tydens ’n besoek aan die ATKV in 1995: “Afrikaans is ’n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na ’n eie identiteit en vryheid. Sy krag en hoop op die toekoms was nog nooit spesiale bevoorregting nie, maar as een van die tale van Suid-Afrika wat skouer aan skouer tesame met die ander tale met respek en gelyke regte die toekoms tegemoet moet gaan.” In die lig hiervan is dit uiters belangrik dat Afrikaans homself bly posisioneer as die leier op die gebied van moedertaalonderrig en ook as voorbeeld vir die ander amptelike tale in Suid-Afrika – as ’n instrument van toegang tot sosiale, opvoedkundige, politieke en ekonomiese geleenthede en van die uitoefening van menseregte.

In geen ander taal kan ’n mens “Skote Petoors!” uitroep as jy iets reggekry het nie en daar is werklik nie vertalingsekwivalente vir “die koeël is deur die kerk”, “’n kop vol muisneste” en “jou moer pluk” in ander tale nie. Hoekom dan Afrikaans? Omdat ek in Afrikaans kan menswees, leef, leer, lees, lag, sing en kan liefhê in al die kleure van die reënboog regoor die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae