Afrikaans 90: Die reis, die Griekse eilande en die rooi Ferrari

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Susan Smith (Universiteit van Fort Hare, Oos-Londen)

Die reis, die Griekse eilande en die rooi Ferrari
(Oftewel, die wat, die waarheen en die hoe)

Dit is die gebeurtenis van jou lewe. Jy is op pad na die plek van jou drome. Jy het jou feite reg, jou voorbereiding afgehandel, elke stukkie besonderheid presies beplan. Die bestemming is idillies: daar waar kobaltlug en see een word, waar wit geboue lyf-teen-lyf oor die kranse hurk – dis waarheen jy mik. En dan is daar Die Motor. Tot in jou haarbloedvate vibreer die runnik van daardie selfde perd wat van Michael Schumacher ’n wêreldkampioen gemaak het. Jy het geen twyfel oor die uitkoms van hierdie verhaal nie. Of hóé?

Bykans dieselfde as die minder elegante vervoermiddel waarin jy jou tans bevind: die een wat jou na die beroep en lewe van jou toekomsdrome moet vervoer. Die aansoekvorms vir toelating tot ’n universiteit is ingevul, jou tassies is bykans gepak en die wêreld lê oop voor jou. Jy staan en sputter op die wegspringplek.

In ’n wêreld wat ontplof van kennis word jy gebombardeer met uiteenlopende en selfs teenstrydige sieninge oor wat, waarheen en hoe. Alles klink geldig en logies. Die redenasies word van ver gehaal. Maar jý weet dat alles nie noodwendig so eenvoudig is nie.

Een van die keuses wat jou in die gesig staar, het te doen met taal. Miskien dink jy nie op hierdie tydstip in jou lewe dat dit saak maak of hoegenaamd belangrik is nie. Maar die keuses wat jy nóú maak, kan ’n invloed hê op die res van jou lewe – dit kan jou toekoms bepaal, die verskil maak tussen ’n skedonk en ’n rooi Ferrari, tussen Putsonderwater en die Griekse eilande.

Regtig? Vra jy skepties.

Ja, ek verstaan jou skeptisisme. Maar luister bietjie hier: wetenskaplik is dit onomwonne bewys dat moedertaalonderrig jou die beste moontlike kans op sukses gee en jou op die bes moontlike manier voorberei vir jou gekose beroep. Maar dit weet jy seker reeds. Wat jy ook moet weet, is dat die reg tot onderrig in jou eie taal deur die Grondwet beskerm word. Daarom dat universiteite deesdae met kreatiewe idees vorendag kom om al die tale te akkommodeer en daardeur aan almal ’n gelyke kans tot akademiese ontwikkeling te bied.

Die taal waarin jy droom, die taal waarin jy liefhet, die taal wat eerste op jou tong is as jy jou oë oopmaak elke oggend, die taal waarin jy die laaste sug gee voor jou oë toeval – dit is die taal wat jy wil gebruik om jou kennis te ontwikkel, om die rykdom van jou potensiaal te ontsluit, om jou plek in die wêreld in te neem. Dit is die taal waarin jy mens wil wees, waarin jy wil leef. Want in geen ander taal klink dit so goed om te sê:
die oggend hang
soos ’n nat vinknes
aan die nag

en ek vat my bondel
en die dag is ’n boom
wat ek moet klim
moet klim
moet klim. (Koos Kombuis: Suburbia)

Pak jou tas, neem jou bondel op, klim die dag uit. Want die renrooi Ferrari wag met brullende klinkers en medeklinkers, met die woordeskat van al die silinders wat voluit vuur, met die woema wat jy van die eerste oomblikke van jou lewe af ken om jou na die bestemmings van jou drome te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.