Afrikaans 90: Die wonder van Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Annette Combrink (dosent, NWU, Potchefstroom)

“Waarom Afrikaans” lei natuurlik onwillekeurig na die moedswillige reaksie: Waarom nie? Waarom nie plek vra en kry vir mens se moedertaal, vir die taal wat so hardnekkig (en suksesvol) bly veg vir bestaansreg, vir die taal wat onmiskenbaar is en met lekker plat aksent deurslaan in moedertaalsprekers se beste Engels, vir die taal waarin lawwe en stout grappe ewe mooi gedra kan word op ’n manier wat praters van ander tale dronkslaan en mens so lekker kry omdat jy deel is van die gesprek …

Afrikaans het homself so lekker kom inwurm in die Afrika-son dat dit so gemaklik is soos ’n ou trui of lekker uitgetrapte vellies wat mens kan dra sonder om geknyp te word. Afrikaans pas knus in die landskap in en die woorde omvat die werklikheid so lekker. Daarom klink dit of die profeet Haggai met ons praat as droogte die land tref: “En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande” (1:11).

Daarom kan mens Afrikaans sien op homself, los van die slegte assosiasies van “taal van die onderdrukker”, kan Afrikaans gemaklik op die tong lê van al sy sprekers. En Afrikaans is volledig volwasse – die Hollanders verstaan nie eens meer “Suid-Afrikaans” nie en smeek mens letterlik om liewer Engels met hulle te praat. Sowaar. Maar ons verstaan darem nog Nederlands (of ten minste ons ouer toppies).

Waarom jou kinders in Afrikaans grootmaak? Want dis so lekker. Praat ek eenmaal in New York bietjie reguit met die klein Combrinkies, val hier ’n landgenoot agter my in my sop: “Maar hoe praat so ’n mamma nou pront Afrikaans!” Nou sien, pront Afrikaans is wat die kinders verstaan. En hulle onthou dit en voel gekoester. En dit herinner aan Antjie Krog se woorde aan haar ma:

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde

Waarom in Afrikaans skoolgaan? Want mens se leerervaring bed homself so lekker diep in die taal in waarin jy leer mensword. Om jou kognitiewe ontwikkeling te koppel aan jou hartstaal is die beste en suiwerste manier om intellektueel groot te word. Ja, dis goed om Engels ook te leer, en ja, Engels is ’n wêreldtaal, en dit is die taal van besigheid, en dit is die taal waarmee mens (grootliks) oorsee oor die weg kom. Maar dis nie jou eie taal nie.

Waarom dan nog in Afrikaans wil studeer as mens die wye wêreld van die universiteit betree? Want jy gaan mos waarskynlik in Engels werk eendag, nie waar nie? Om dieselfde rede – die taal is nou maar eenmaal daar, die taal het sy regte, natuurlik, maar dis veral oor die taal KAN. Mens kan op die hoogste vlak van kompleksiteit redeneer in Afrikaans, diep filosofeer, effektief kommunikeer, ewe kordaat kontrakte maak, ewe diep fisika pleeg en wiskunde kafdraf en medisyne maak. En as jy leer om in Afrikaans te dink en te doen, en jy oefen jou taalspiere met Afrikaans, gaan jy gou agterkom dat jy taalfiks is om sommer in Engels ook te funksioneer.

Maar die lekkerste is dat mens in Afrikaans kan skryf en lees – en lees en lees. Van die onheilspellende

Ek is in jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos ’n goeie hond
(Louw)

tot die beskrywende

Betonbeendere van brugstelsels
Span oor die knokkige dakke, wys hul
Gegleufde verhemeltes van honger
Grinnikend vir ’n miljoen skepsels
(Stockenström)

en die speelse

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
Vrolik klink die liedjie
Wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel
(Marais)

en die snerpende

Vater unser
(net vir blankes)
Pater noster
(whites only)
Notre Père
(kauf nicht bei Juden)
Our Father …
Deuren sluiten S.V.P
(SV Petersen)

PRAAT ons digkuns met ons. En praat ons romankuns met ons, vanaf Somer tot Agaat, ingebed in ons landskap, en praat ons toorders met die woord met ons, en voel ons tuis in hierdie mooi taal wat vir ons gegee is, en wat ons so volrond kan praat.

En daarom is Afrikaans die taal vir ons om in gebore te word, groot te word, te leer, te profeteer, te vry en te vloek en te bid – en in te droom. En dood te gaan.

En hoekom is hierdie storie dalk nou ietwat teenstrydig? Want dit kom van iemand wat vir meer as 40 jaar hard probeer het om vir mense Engels te leer, wat al haar kwalifikasies in Engels as taal en as letterkunde gedoen het, en wat nou op haar oudag vinnig moet lees om weer op datum te kom met Afrikaans, en wat elke dag in vervoering is oor die wonder van Afrikaans. Rêrig êrig, soos my kleindogter dit bry-bry sê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae