Afrikaans 90: Diepspoor

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Christo van Rensburg (taalkenner)

“Dis mos Afrikaans wat hulle daar praat!” het die Britse vroutjie op die Kaapstadse lughawe by my met haar kennis gespog. “Waar sal ons dit weer hoor?” Ek het haar verseker dat sy dit orals in die land nog gaan raakhoor!

Nou sit ek voor my dagboek en ek probeer presies onthou wat vandag alles gebeur het, want soos enige goeie toergids lê mý werk by die toeriste, planmaak, en onthoudinge.

Ek het die Engelse vroutjie belowe dat ek hulle alles wat ek van Afrikaans se spore weet, sou vertel soos wat die toer vorder. Sy sê toe snipperig ek weet dis mos die rede waarom hulle op dié toer is.

Ek was ’n wiskundeonderwyser, maar Afrikaans is my hartstaal. Vanoggend besef ek weer hoe my Engels van Britse Engels verskil. Met Afrikaans gaan dit ook so. Die onderskeie soorte Afrikaans vertel elkeen húlle mense se stories, het ek agtergekom. Hoekom Afrikaans? Júis om die vertel en hoor van hierdie verhale …

Ek het Van Riebeeck se standbeeld vir die toergroep gewys. In 1652 hier in Tafelbaai aangekom. Drie klein skippies met ’n honderd mense uit Nederland. Was dit darem nie ’n fotonemery daar deur die vensters nie!

“Die Khoi het Kaapstad Huigais genoem,” het ek gesê. Toe vra die gryserige Amerikaanse toeris of Van Riebeeck Afrikaans begin het? “Daar is mense wat vroeër so gesê het,” was my antwoord. “Eintlik,” het ek verduidelik, “was Afrikaans se spore al diepgetrap toe Van Riebeeck-hulle hier aangekom het. Verbygaande Nederlandse skepe het in Tafelbaai, en elders, kom anker gooi. Met die Khoi se aanleerderstaal tussen hulle en dié seelui het Afrikaans begin. Matrose het van daardie Afrikaans neergeskryf.” Toe ek die Amerikaner sien frons, het ek verder verduidelik:

“De Houtman was in 1595 die eerste Nederlandse skeepskaptein hier. In Mosselbaai aan wal gegaan. Ander Nederlanders het gevolg. Joris van Spilbergen het Tafelbaai in 1601 sy naam gegee.” Ek het na die Britse vroutjie gekyk en bygevoeg dat Engelse seevaarders ook hier geland het.

Ek vertel hulle van ’n verslag van 1649 waarin die Khoi se gebruik van Nederlandse woorde vermeld word. “Dit sou maar krom Nederlandse woorde wees,” het ek geglimlag, “en niks anders as Afrikaans nie.” Daar bestaan ou woordelysies van die Khoi se kontaktaal. Voorbeelde van die Afrikaans daaruit is môre, sonder die -g- van Nederlands, wat ’n onderskeidende kenmerk van Afrikaans is. Die –kwa aan die einde van die stamname hierbo is ’n kollektief, sê die taalmense. Dit het soos –gu geklink, en het in Afrikaans –goed geword, soos in Pagoed. Pahulle is ’n vertaling daarvan. Engels ken nie dié manier van praat nie. Bro-kwa, omdat die –d van brood nie deur die Khoi uitgespreek word nie, beteken brood-goed, wat skeepsbeskuit insluit.

“Wag ’n bietjie,” moes ek ’n paar vrae uitstel, “ek gaan vandag net van Afrikaans se begin vertel; van die eerste sowat sestig, sewentig jaar van die sewentiende eeu.”

Terwyl die bus deur die Kaapse verkeer wurg, vertel ek hulle van daardie tyd se Khoi van die skiereiland, van Autshumao van die Goringhaikona, van wie Van Riebeeck later skryf as Herrie, Gogosoa van die Goringhaikwa en Kora, van die Korachoukwa. Autshumao was ook ’n tolk, en soos talle ander tolke, ’n voorloper in verset teen die immigrante. Weet hulle van Khoi-Khoin se klapklanke en hoe aanleerderstale werk? Hulle hoor van die twee oorloë tussen die Khoi en die Nederlanders, en van die taalverplasing daarna, toe Khoi-Khoin deur Afrikaans vervang is. Die Khoi se gebruik van Afrikaanse woorde soos gee en , in die eerste helfte van die sewentiende eeu, wys wat aan die kom was. Die Khoi se aanleerderstaal het hul moedertaal begin word.

“Die eerste Afrikaanse teksstukkies is sowat twintig jaar na Van Riebeeck se aankoms, in 1673, deur besoekers neergeskryf,” het ek op ’n vraag geantwoord. “Moes lank voor daardie tyd al gepraat gewees het. Daarin word ons as onderwerp gebruik, nog ’n kenmerk van Afrikaans, waar Engels we het.” Almal in die bus kan Engels verstaan, maar my moedertaal is Kaaps, vertel ek van myself. Ek kan nie help om te spog dat dit die oudste soort Afrikaans is nie, en sê ook dit is ’n soort Afrikaans wat sy eie unieke deuntjie sing. Mens moet net mooi luister. “Lekker werk vir taalspoorsnyers,” merk ek op. “Ek ken Standaard-Afrikaans ook,” gaan ek aan, “want dit was my skooltaal. My Kaaps is ook nie die enigste soort Kaaps nie.”

Met die busbestuurder wat uit Gauteng kom, praat ek nie so nie, het ek geterg, en gesê hulle moet hom gerus vra wat maskie in Kaaps beteken. Die woord staan in een van daardie eerste geskrewe Afrikaanse stukkies van 1673. “Ek vertel later maskie se storie, maar dit beteken iets soos maak nie saak nie,” help ek hom. “Nogals Diepspoorafrikaans dai” vryf ek my praattaal in. Ook toe ek in die parkeerterrein ’n pakke vrugte kry waarvoor ek gereël het. “Ék sien, bru, djytie vagiet wadek djou van gesêret-ie,” bedank ek bly, en hou die Pretorianer agter die wiel uit die hoek van my oog uit dop. Met die uitlaai van die tasse vra ek hom toegeeflik of hy die Afrikaanse woordjie ou ken, soos in ou my bietjie ’n koppie suiker daar! “Stokhoringoue Kaaps,” beduie ek, “en ek het dit verlede jaar nog, in 2013, ook in die Oranjerivierwêreld gehoor. Ou is ’n Khoi-Khoi-woord wat gee beteken het. Seeliede het dit al in 1626 in Tafelbaai in hierdie betekenis neergeskryf. Nóg lekka Diepspoorafrikaans, hoo!” hou ek my weer wys met die Gautenger.

Ek skryf my laaste sin vir die dag: Die leuse van ons land praat mos van stroompies wat saamvloei. Afrikaans werk op ’n manier ook so. Baie taalspore wat van lankal af saam ’n grootpad uittrap. Aanhou trap maak die pad groter, die spore dieper. Dan dreig die toewaaiwind puur verniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.