Afrikaans 90: Goeie nuus vir Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Japie Gouws (ATKV)

Afrikaans is die huistaal van 6,8 miljoen Suid-Afrikaners en word deur veel meer mense as addisionele taal gebruik. Afrikaans word deur ongeveer 50 000 leerders as huistaalvak in matriek gebruik terwyl 90 000 leerders Afrikaans as addisionele vak neem. Skole waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word, staan jaarliks uit wanneer dit by matriekuitslae kom. Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika, het positief gegroei in die laaste sensus en is die huistaal van 13,5% van alle Suid-Afrikaners. Dis alles goeie nuus vir Afrikaans!

Afrikaans is een van die jongste tale in die wêreld en is nog in sy kinderskoene. Dit beteken dat nuwe woorde en idiome en gebruike nog deurentyd geskep word om die taal te verryk. Afrikaans leen baie woorde aan ander tale omdat Afrikaans beskrywend en gewild is. Woorde soos “lekker” en “braaivleis” en baie ander, kan nie in ander tale vertaal word nie. Afrikaans is kreatief en byderwets en interessant. Afrikaans is inklusief en waarskynlik een van die inheemse tale in Suid-Afrika met die meeste diversiteit. Van die huistaal Afrikaanssprekendes is 50% wit, 40% bruin, 9% swart en 1% Indiër.

Moedertaalonderrig is die beste wyse waarop kinders opgevoed kan word omdat hulle hul moedertaal die heel beste verstaan. Kinders wat in hul moedertaal skoolgaan, vorder die beste in hul ontwikkeling, veral ook in vakke soos wiskunde en wetenskap. Daarmee saam is meertaligheid in Suid-Afrika net so belangrik. Met 11 amptelike tale is dit noodsaaklik dat Suid-Afrikaners minstens drie daarvan vlot kan praat en lees en skryf, ten einde kommunikasie tussen verskillende taalsprekers te verbeter.

Suid-Afrika is ’n land van kontraste en verskillende kulture en dit kan as ’n reuse-uitdaging gesien word. Die verskeidenheid van tale en kulture is egter een van die baie bates van ons diverse en interessante land. Wanneer mens in ander lande van die wêreld vakansie hou, word kulturele aktiwiteite meesal as deel van die hoogtepunte beskou en dis ook altyd goed om ’n aantal woorde in daardie land se taal aan te leer.

In Suid-Afrika maak ons egter nie genoeg van ons tale en kulturele verskeidenheid in die toerisme nie. Die Nasionale Krugerwildtuin, Kaapstad, Robbeneiland en die Voortrekkermonument is gewilde bestemmings by buitelandse toeriste. Binnelandse toeriste het nog geweldige potensiaal om te groei en positief tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by te dra.

Die ryke verskeidenheid en diversiteit van Afrikaans en Afrikaanse kultuur is nog grootliks onontgin as aantreklikheid vir beide buitelandse en binnelandse toerisme. Afrikaans as gebruikstaal, maar ook as taal van indrukwekkende letterkunde, het nog reusepotensiaal ten opsigte van kultuurtoerisme. Net so het Afrikaanse kulture en kultuuraktiwiteite ’n magdom uiters bemarkbare verskeidenheid van aktiwiteite wat aan toeriste bemark kan word.

Hoekom Afrikaans?

• Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika is van hoogstaande gehalte.
• Moedertaalonderrig veroorsaak beter resultate in skoolprestasie.
• Die Afrikaanse taal en Afrikaanse kultuuraktiwiteite ten opsigte van kultuurtoerisme is ’n groot onontginde mark met reusepotensiaal.
• Afrikaans is jonk en byderwets en kreatief.
• Afrikaans word deur soveel mense in Afrika gepraat dat dit inderdaad as lingua franca beskou kan word.
• Afrikaans is ’n taal met ’n blink toekoms!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charlotte ·

Ai Afrikaans is regtig die wonderlikste taal om te kan praat die lekkerste op die tong,hoop dit sterf nooit uit nie.

charlotte ·

Ai Afrikaans is regtig die wonderlikste taal om te kan praat die lekkerste op die tong,hoop dit sterf nooit uit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.