Afrikaans 90: Hoekom Afrikaans op universiteit?

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Niek Grové (UP)

Die blote feit dat jy hierdie publikasie lees, beteken heel waarskynlik dat jou huis- of moedertaal Afrikaans is. Jy staan waarskynlik ook op die punt om groot besluite oor jou toekoms te neem: watter studierigting jy gaan volg en natuurlik, waar jy wil gaan studeer?

’n Mens se toekomsplanne word gerig deur jou drome, maar werklikhede soos aanleg en werksgeleenthede speel gewoonlik ook ’n baie belangrike rol.

Ons weet almal maar te goed dat daar nie by alle universiteite klasse in Afrikaans aangebied word nie. En selfs al sou jy aansoek doen om by een van die meertalige universiteite te studeer, is die moontlikheid skraal dat al jou klasse dwarsdeur jou studiejare in Afrikaans aangebied sal word. Dit is ongelukkig die werklikheid.

Nou waarom dan enigsins daaraan dink om wel in Afrikaans opleiding te ondergaan – vir soverre dit moontlik is in die studierigting wat jy sou kies?

Dit is ’n bekende en bewese feit dat ’n mens beter in jou moedertaal leer as in enige ander taal, veral wanneer jy ’n jong kind is. Die grondslag van alle verdere leer word vasgelê wanneer jy in jou moedertaal leer lees, skryf en tel. Geletterdheid, syfervaardighede en goeie kommunikasievermoëns is die sleutel tot sukses in beide jou toekomstige studieveld en die werkswêreld wat daarna op jou wag.

Goed, ons weet almal dat Engels die belangrikste gedeelde taal in Suid-Afrika is – in groot sektore van ons ekonomie die besigheids- en werkstaal – en dat studente aan die einde van hul universiteitsloopbaan dus Engels behoorlik moet kan gebruik.

Om jou gekose studieveld te bemeester, moet jy nie net die studiemateriaal verstaan nie, maar dit ook kan weergee. Jy moet dus daaroor kan praat en skryf. Studente wat basiese en selfs moeilike begrippe in enige dissipline in Afrikaans leer en begryp, is meesal daarna goed in staat om hierdie begrippe gemaklik in Engels te hanteer. Dit is ook algemeen bekend dat jy beter sal kan skryf en praat in ’n tweede taal as jy reeds vlot is in jou eerste taal. Dit is dus heel logies dat jy, indien enigsins moontlik, ten minste vir ’n deel van jou studies in Afrikaans onderrig moet ontvang. Dit is die ideaal.

Ons woon in ’n multikulturele land. Dit is ons verlede en ons toekoms. Ons moet respek hê vir mekaar se kulture en tale. Onthou die groot waarheid – doen aan andere wat jy aan jouself gedoen wil hê. Praat jou eie taal so goed jy kan en probeer ’n ander se taal so goed as moontlik te praat. Wees geduldig en waarderend as ander jou taal probeer praat.

Weer kan jy vra hoekom? Dit is doodeenvoudig: om te sorg dat ons land ’n suksesstorie is en dat elkeen, ongeag ras, geslag of taal, ’n billike kans in die lewe gegun word.

Afrikaans bly die taal waarin ons lag, huil en liefhet. Dit is ons hartstaal. Al kan jy dalk nie enduit – of enigsins – in Afrikaans jou naskoolse studies voortsit nie, moet jy jou hartstaal bewaar.

Hoe bewaar ons hierdie kosbare taal as dit nie die een is waarin ons noodwendig ons daaglikse brood gaan verdien nie? Ons praat dit (so goed en mooi as wat ons kan), ons lees dit (soveel en dikwels as wat ons kan) en ons skryf dit (so korrek as wat ons kan). Hoe meer ons met trots Afrikaans praat, lees en skryf, hoe beter sal dit met ons en Afrikaans gaan – en paradoksaal − met die ander tale wat ons ook leer om te praat, lees en skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.