Afrikaans 90: ‘Hoekom Afrikaans?’ Só gaan die pêrel se glans verdof

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Jacques van der Elst (Afrikaanse Taalraad)

Hoekom Afrikaans? Die vraag het eintlik nie ’n antwoord nodig nie, want die bestaan van Afrikaans hoef nie eens bevraagteken te word nie. Die antwoord is voor die hand liggend. Afrikaans is een van Suid-Afrika se belangrike landstale. Dis ’n taal waarin die wetenskap beoefen word en dis die taal waarin belangrike literêre werke verskyn en verskyn het, en dis die taal waarin meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners met mekaar kommunikeer; waarin hulle lees, leer en studeer. Wat wil ’n mens nog meer hê? Binne volkereverband vorm Afrikaanssprekendes die getal van ’n klein of selfs middelgrote nasie.

Dit is die positiewe kant, maar sommige nie-Afrikaanssprekers stel die hoekomvraag vir politieke gewin en dus nie altyd met suiwer motiewe nie, want ongelukkig is dit so dat Afrikaans ondanks alle pogings om die teendeel te stel, kwaadwilliglik sinoniem gestel word aan ’n onbillike politieke bestel. So iets soos: Afrikaans = apartheid en apartheid = Afrikaans. Daar word nie in ag geneem nie dat Afrikaans lankal vóór apartheid sy beslag gekry het. As ’n mens dan Afrikaans as apartheidstaal wil bestempel, kan Engels netsowel as ’n apartheidstaal beskou word, want apartheidswette en -maatreëls is eweneens in Engels opgestel en toegepas. En globaal gesien, het Engels dalk dan ’n baie groter skuldlas as wat Afrikaans ooit sou hê. Die wanopvatting dat Afrikaans die taal van slegs die Afrikaner is, word nog gerieflikheidshalwe gehuldig. Dat daar meer bruin en swart moedertaalsprekers van Afrikaans is, word maklik vergeet. As ’n mens dan regtig wil tipeer, was Afrikaans nie net apartheidstaal nie, maar ook taal van bevryding, want daar is ook in en deur Afrikaans vir ’n nuwe politieke bedeling gestry.

Dis tragies dat sommige moedertaalsprekers van Afrikaans eweneens die hoekomvraag met minder goeie bedoelings stel en enige verdediging van ’n regmatige plek vir Afrikaans sinies benader. ’n Mens kan hier dink aan beroepslui wat argumenteer dat die “wêreld daarbuite” in Engels opereer en waarom sou ’n mens dan die moeite doen om ’n sterwende taal in die sakelewe in stand te hou? Hoekom Afrikaans, het ’n ouditeur by ’n groot internasionale ouditeursfirma onlangs vir my gevra. Bedenkings oor Afrikaans se rol leef in baie beroepsfere. Die negatiewe gevoel oor Afrikaans as beroeps- en handelstaal syfer deur na die tersiêre sektor waar Afrikaanse moedertaalstudente dikwels die Engelse studiebane kies, terwyl onderrig in Afrikaans wel beskikbaar is.

Daar is ’n derde kategorie wat die vraag sal stel? Hier dink ek aan die Afrikaanse ouers wat hul kinders na Engelse skole stuur, eweneens met die redenasie dat hul bloedjies in die “wêreld daarbuite” tog eendag in Engels gaan opereer. Hoekom nog Afrikaans op skoolvlak as my kind dadelik en ongehinderd in die Engelse hoofstroom opgeneem sal word as hy die skool met die “King’s English” verlaat? Afrikaans word hier selfs ’n bietjie as ’n stigma beskou, ’n teken van engheid. Die ouers besef egter nie dat die gevaar van sosiale skade in hierdie kinders se lewe nie onwaarskynlik is nie. Die belang van moedertaalonderrig waarin en waardeur ’n mens belangrike en basiese lewensvaardighede makliker baasraak as wat jy dit in ’n ander taal moet bemeester, word geheel en al deur ouers onderskat. Ouers het natuurlik die reg en voorreg om self te besluit oor die taalkeuses vir hul kinders, maar onkunde oor die belangrike rol van moedertaalonderrig speel dikwels hier ’n rol – in baie gevalle tot nadeel van die kind en beslis tot nadeel van die voortbestaan van Afrikaans.

By ’n vierde kategorie duik bogenoemde vraag dalk glad nie op nie. Die besef dat jou taal eintlik iets van jou wese en van jou kultuur verteenwoordig, gaan by die verteenwoordigers van hierdie groep verby – die hoekomvraag is nie eens ter sake nie.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) se standpunt is dat Afrikaans se sprekers ’n mengelmoes van kulture en kleure verteenwoordig: wit, bruin en swart. Afrikaans is dus nie ’n witmanstaal nie. Die ATR gee ook graag erkenning aan die variante van Afrikaans: Kaapse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en seker selfs Gauteng-Afrikaans. Dis onvermydelik, seker vir enige taal, dat daar ook ’n standaardvorm vir Afrikaans bestaan. Daardie standaardisering word deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie behartig. Tegelykertyd bepleit die ATR die konsep van veeltaligheid in Suid-Afrika as taal langs die vele ander tale in ons land.

Wat ook al die motivering vir die hoekomvraag is, Afrikaans sal bly voortbestaan, maar die vraag is hoe? Dis ’n unieke, lewenskragtige en vindingryke taal met ’n ryk kulturele erfenis. Sy letterkunde, een van die preserverende faktore vir ’n taal, floreer – so ook sy uitvoerende kunste (byvoorbeeld die ligte musiek) en die rolprentwese. Tog flikker die gevaarligte waar dit gaan om sy hoër funksies. Sal my dokter en advokaat in die toekoms my nog in Afrikaans kan (en wil) bedien? Baie hang af van Afrikaans-moedertaalsprekers se eie antwoord op en besinning oor die hoekomvraag. As ons nie self oortuig is van byvoorbeeld die belang van moedertaalonderrig nie, gaan ons skole en universiteite (wat Afrikaans betref) kwyn en Afrikaans-onderwys sal op die lang termyn tot niet gaan met die konsekwensie van ’n toenemende verengelsing van ons samelewing. Afrikaans, “die pêrel van groot waarde” sal sy glans verloor en slegs omgangstaal word rondom die braaivleisvuur en in die kombuis. Slegs die sprekers van Afrikaans kan so ’n situasie voorkom!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae