Afrikaans 90: Hoekom haal ek asem?

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Carel Trichardt (akteur)

As iemand vir my vra: “Hoekom Afrikaans?”

Dan vra ek: Hoekom haal ek asem??

Om te kan leef natuurlik!

Ek kan myself nie voorstel dat ek sal kan leef sonder Afrikaans nie.

Afrikaans maak my wat ek is, dit is die taal waarmee ek, as ’t ware, gebore is, my eerste woorde in gesê het, my eerste tree in gegee het, waarmee ek leer kommunikeer het en uiteindelik my loopbaan gemaak het.

Dis die taal waarin ek kan speel en lag en huil, kan sing (alhoewel ek nou nie eintlik kán nie, maar probeer probeer ek darem!!!).

Dis die taal waarin ek met my Skepper kan praat; vir my vrou kan sê ek het haar lief en vir my kinders kan laat voel hulle is baie spesiaal.

Veel langer sou ek nog kon aangaan deur te sê dat Afrikaans verweef is met my menswees, met my geskiedenis en met hierdie land en sy lotsgevalle. Maar ek laat dit daar vir die oomblik.

Afrikaans sal seker vir nog baie lank baie swaar dra aan die onregte wat in hierdie land in sy naam gepleeg is, deur stiksienige mense met oogklappe. Vandag is daar hulle wat nooit werklik die waarde besef en verstaan wat Afrikaans, ten spyte van die vergrype van die verlede, tog in hierdie land tot stand gebring het.

Afrikaans was ten nouste verbind aan die opbou van Suid-Afrika ná die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog.

Ek kan Sasol se ontwikkeling noem, Krygkor, Yskor, universiteite, onderwys, kolleges ensovoorts.

Ek spoor julle aan om julle eie lys op te stel oor wat Afrikaans in hierdie mooi Suiderland daargestel en ontwikkel het. Lekker lees en navors!

Onthou net om dit steeds te sien teen die groter Suid-Afrikaanse prentjie.

’n Paar gedagtes oor die vakterminologie in Afrikaans. Daar was nie in ons hele Afrikaanse gemeenskap ’n gebied wat nie sy eie spesifieke en unieke terme ontwikkel en uitgebou het nie. Die ingenieurswese, mediese wetenskap, uitsaaiwese, tegniese rigtings, sport en teater, noem maar op. Oral is daar geskep en die woorde (vakterme) het deel van daardie spesifieke beroep en/of vakgebied geword.

Hoe hartseer is dit nie dat die omstandighede sodanig verander het nie, dat daardie wonderlike skat besig is om in die niet te verdwyn en deur onbruik in die vergetelheid weg te kwyn.

Ek daag julle uit om van die vakterme op te spoor en prakties toe te pas. As almal jou nie dadelik verstaan nie, sal hulle wel gou leer!

Dan is daar natuurlik ons skrywers en digters wat Afrikaans na hoogtes geneem het wat niemand seker in die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) eers sou van kon droom nie.

Trek weer die Groot Verseboek (DJ Opperman) nader en lees self en raak bewus van hoe Afrikaans as digterstaal gegroei en gedy het. Julle sal nie anders kan as om trots te wees op hierdie mooi taal wat uit die grond van Afrika gegroei het nie.

Kom ons neem die eerste twee versreëls van NP van Wyk Louw se Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
In wingerd wat verbruin, en witter lug …

Gekonsentreerd en kompak skets hy vir ons die koms van die winter.

Hy noem dit ’n jaar wat ryp word.

Hy verwys na die akkerblare wat goud word, na ’n wingerd wat bruin word, witter (koue!) lig.
Hier is ’n groot digter aan die woord, want hy slaag daarin om slegs met enkele goedgekose woorde ’n beeld van die veranderende jaargetye op te roep.

Miskien is dit nie altyd maklik om gedigte met die eerste deurlees te verstaan nie, maar hoe meer julle dit lees en lees en probeer ontleed, hoe makliker sal dit word.

Die beloning wat op julle wag, sal julle verryk soos die musiek en skilderye van die groot meesters van die wêreld.

Wees wagters op die mure vir Afrikaans, vermy mense wat deurmekaar praat soos byvoorbeeld … ons is nie hypocrites nie, ons moet outreach en vir mekaar blessings gee.

Moet ook asseblief nie een van húlle word nie. Daar is pragtige uitdrukkings in Afrikaans. Gaan kyk maar gerus in Anton Prinsloo se Annnerlike Afrikaans waarin hy die kontreitaal van Afrikaans opgeteken het.

Julle sal julle hande saamslaan in vreugde dat julle ’n taal het wat so vindingryk, kleurvol en soveel wonderlike raaksêwoorde het.

Bowenal, moenie julle ore uitleen vir mense wat sê julle praat ’n Afrikaans wat uit die mode is nie. Dis juis húlle wat die spykers in die doodskis van ons mooi taal inslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae