Afrikaans 90: In die donker gang af

afrikaans-90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur François Bloemhof (skrywer)

Deur die slaap strompel-val hy uit die bed toe daar weer geklop word. Nog ’n klop; dit klink dringend; brand die hotel dalk?

Deur die donkerte voel hy sy pad. Voor hy gaan inkruip het, het hy die swaar gordyne dig gemaak om die kennisgewing te smoor wat elke vyf sekondes Kimberley Club, Kimberley Club in magenta-neon buite sy venster flits.

Oop met die deur. Omdat die ganglig dof is, is die gesig van die meisie wat daar staan vaag. Sy kyk vinnig oor haar skouer en lyk kompleet asof sy –

“Ek het die spook gesien,” sê sy. “Ek is jammer ek het jou wakker geklop. Ek het nie geweet wat om te doen nie, toe –”

“Jy’t die wát gesien?” Hy leun by die deur uit en kyk in die lang gang af. ’n Stuk of ses deure sê niks van wat agter hulle wag nie. Hy het aangeneem al die kamers is leeg, want hy het voor hy gaan slaap het geen geluide hier bo gehoor behalwe dié wat hy self gemaak het nie.

“Weet jy dan nie?” Weer kyk die meisie oor haar skouer. “Hulle sê –”

Die lig flikker en iets swarts vat ’n hap uit die gang uit.

Die meisie trek haar asem skerp in.

Die lig brand weer normaal.

“Kom in,” sê hy, “dis koud in die gang.”

Die ganglig flikker weer – en gaan uit.

Die meisie maak ’n amperse kermgeluid en dan is sy by hom verby, in sy kamer. “Maak toe die deur! Asseblief!”

Hy maak so. “’n Mens kry nie spoke nie.” Hy druk die skakelaar, maar die vertrek bly donker. Hy wil die gordyne gaan ooptrek toe hy daaraan dink dat sy net hier by hom is omdat dit donker is. In die dag sal sy seker nie eens na hom kyk nie.

Hy neem op die bed plaas. “Kom sit.”

Sy bly staan. Dalk vermoed sy wat hy in gedagte het. “Sal jy saam met my teruggaan na my kamer toe?”

“Sê eers, van watter spook praat jy? Hoe lyk hy? Is dit ’n man, ’n vrou? Het hy geloop of gesweef?”

“Moenie spot nie! Ek wéét dit was hy!”

“Orraait, orraait. Vertel my.”

“Dis ’n man, almal weet van hom. Die hotel het eers aan hom behoort. Hy en sy vrou was ongelukkig getroud, hulle was ’n jong egpaar en het baie gestry, toe maak sy hom dood en messel hom toe in een van die kamers hier bo. Dis nie meer ’n kamer nie, of altans daar is nie meer ’n deur nie, maar hý is nog hier.”

“Moenie bang wees nie.” Hy beweeg nader aan haar en toe sy vinnig opsy staan, vererg hy hom. “Orraait, ek vat jou kamer toe.”

Hy maak die deur oop. Hy moet sê die gang lyk … ja, spookagtig. As hy ’n sterker verbeelding gehad het, sou hy homself kon oortuig iets wag agter een van daardie deure wat hy nie nou kan sien nie. Hy hoor hoe hard haal die meisie agter hom asem.

“Kom,” sê hy.

Die eerste tree in die gang af voel die langste. Sy’t hom ook nou op hol, want hy kan hom voorstel dat iemand luister hoe hy en die meisie aankom, dat iemand ’n hand uitsteek. Sy nekvel kriewel.

“Watter kamer is joune?” fluister hy.

“Die een op die punt.”

Dit sál die een op die punt wees.

Tree vir tree vorder hulle. Alles is stil, maar iewers krap ’n tak aan ’n venster. Of hy dínk dis ’n tak wat die geluid veroorsaak.

En nou kraak ’n plank onder hom.

Hulle loop vinniger.

’n Oomblik lank, toe hy reeds die punt van die gang bereik het, dink hy daar is geen deur nie. Toe voel hy die houtpaneel en die knop. Hy maak die deur oop en sien dit is nie heeltemal so donker in haar kamer soos in die gang nie.

Die meisie sê: “Jy kan inkom as jy wil.”

Dis beter! Hy dink nie twee keer nie, hy wil beslis ingaan. En die deur gaan agter hom toe.

Die volgende oomblik is daar nie meer ’n deur nie, net bakstene. Toe weet hy dit is hy, nie sy nie, wat ’n spook gesien het, en dat as daar regtig ’n ongelukkig getroude man en vrou hier gewoon het, dit nie sý was wat hóm doodgemaak het nie.

Hy wil iets sê, maar die meisie bly nie om te luister nie, sy is aan die verdwyn. Sy is weg.

Sy voet raak aan iets. Nou ruik hy dit ook, die ding wat daar lê. Hy wens hy kon dit nie sien nie. Dit dra slaapklere. Wou dié man haar ook kom help? En die een langs hom, en die een langs hóm?

Iets spring in hom los en hy begin te gil, hy begin te hamer, vuiste teen baksteen. Die mure gooi sy stem heen en weer. Hy gil en gil, en gil nog harder by die gedagte aan hoe maklik en vinnig hy hier beland het, en dat hy slegs een manier gebied sal word – eers ná ure, dae, dalk weke sonder geselskap, son en kos – om uit te kom.

… en ek sou dit in geen ander taal soveel geniet het om daardie storie te vertel nie. En dít, liewe vriende, is hoekom Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gerhard ·

Ja-nee, net ons eie meneer Bloemhof kan so ‘n lekker hoendervelstorie optower. Dit laat my wildste nagmerries na my kleintyd-slaapstories lyk. Ek hoop ons kry gou weer nog een.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.