Afrikaans 90: Jy proe die vryheid

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Corné Visser (student)

So jy’s amper daar. Jy proe die vryheid. Iewers tussen die TPT-punte en toelatingsvereistes lê die toekoms soos ’n miniatuur Tafelberg voor jou. Familielede peper jou met vrae oor wat jy gaan swot en waar en hoekom. Natuurlik weet almal mos van beter en gee hul menings en opinies oor besluite wat eintlik joune is, maar bloed is dikker as water, so jy vat maar oom Johan se kommentaar oor jou studierigting met ’n knippie sout.

Skielik verstik tannie Hester in haar tee as jy sê jy gaan in Afrikaans studeer, want “My kind, die taal is dood, Engels gaan jou verder bring, veral as jy BCom swot. Dis die besigheidstaal!” Wel tannie Hester is verkeerd. Ek weet sy’s verkeerd, want ek is ’n student. En studente weet alles.

Ek weet byvoorbeeld Afrikaans is nie dood nie, ook nie in ’n koma nie. Afrikaans klop in ons almal se harte, suis in ons ore en leef deur ONS. Afrikaans is dalk nie meer Afrikaans soos jou ouma dit geleer het nie, maar wat is? Die wêreld verander, en ons land; en al sy ongelooflike mense saam met dit. Alles groei en verbeter, asook Afrikaans; een van die jongste tale in die wêreld. So sorrie ouma, maar Afrikaans haal nou sy doek af en staan kaalgat voor die wêreld, reg vir revolusie.

Om in Afrikaans te swot, is jou kans om deel te word van hierdie Afrikaanse revolusie, jou kans om die volgende Koos Kombuis of Ingrid Jonker te word. Die musiekbedryf bars uit sy nate met Afrikaanse note soos die van Bittereinder, Polisiekar, Bouwer Bosch en vele meer. Afrikaans is lankal nie meer net krappies en krefies nie, maar die klankbaan na jou lewensfilm. So gepraat van films, as iemand jou vra of jy al die nuutste Afrikaanse fliek gesien het, sal jou antwoord sekerlik wees “watter een?” Afrikaans word al hoe gewilder op die silwerdoek; met ’n Afrikaanse film in amper elke genre! (Ek persoonlik wag nog vir daai Afrikaanse horror.) Afrikaans is orals, en dis hier om te bly.

O ja, wat was dit van Afrikaans wat nie goed is vir besigheid nie? Wat dan van handelsmerke wat gebou word op Afrikaans? Kakiebos is ’n bekende klerehandelsmerk wat ’n groot deurbraak was vir Afrikaans in die modewêreld. Valhalla Tees, nog ’n klerehandelsmerk is vinnig besig om die harte van miljoene jong Afrikaners te wen met hul T-hemde van Suid-Afrikaanse helde en figure soos Danie Theron en Sarie Marais wat hulle op ’n moderne manier aanbied. Afrikaans is ’n taal van geleenthede, selfs in die besigheidswêreld …

ONS is Afrikaans. Ons lag in Afrikaans, huil in Afrikaans, vloek, skel en skree in Afrikaans, hê lief in Afrikaans. Ons ontdek onsself in Afrikaans, en saam met onsself skep ons ’n blink toekoms vir ons moedertaal. Ervaar die lekkerste jare van jou lewe, in die lekkerste taal. Kies om te deurnag in Afrikaans, te kuier in Afrikaans, en om jou graad te kry in ’n kursus wat jy liefhet, in die taal wat jy liefhet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.