Afrikaans 90: Kies Afrikaans

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Steve Hofmeyr (sanger en skrywer)

Toe die Hollanders, Portugese, Spanjaarde en Britte om die Kaap vaar, het hulle, toe hulle voet aan wal sit, ’n eienaardige ding teëgekom. Met al die langste, grootste en mooiste woorde van hul onderskeie eerstewêreldse tale, het hulle steeds nie genoeg woorde gehad om te beskryf wat hulle hier sien nie. Hulle het kom afpak met kaart, kompas en kripbyters, maar die plek het hul sin vir definisies ontwyk. Hulle het ’n woord gehad vir son, maar nie een vir karmenaadjie-onder-die-kombers nie. Hulle kon pluk aan gladiolus, maar jakkalsoor het al hoe meer na die ware Jakob gelyk. Hulle het galjoen geken en snoek geëet, maar van galjoensnoek moes hulle nog leer.

So met die afpak van vreemdelinge en vreemde woorde het Suid-Afrika die plek geword van rare simbiose, en ’n gemeenskaplike medium, onmisbaar. Maar net een van twee dinge gebeur as gevestigde tale begin opskuur teen klein, nuwe taaltjies. Hulle sluk haar in, of Afrikaans. ’n Taal wat van meet af aan sommer baie dinge wou doen. Om ingesluk te word, was nie een daarvan nie. Want ons s’n is ’n vasskoptaal. ’n Taal wat se tongval so mooi klap om die uniekheid van haar tuiste, dat sy ’n lewe van haar eie kweek ongeag die groter taalstrome om haar kop.

Tale is griffiers van meer as bloot semantiek. As ’n taal sterf, sterf daar ’n manier om die wêreld te verstaan. En dít is wat Afrikaans is. ’n Manier om die wêreld te verstaan, ’n manier om ’n landskap te lees wat weergaloos en soms baie ingewikkeld kan wees. ’n Inheemse taal wat ’n Babelse verwarring tot orde wou roep. En hier is Afrikaans instrumenteel as verhoudingsvormer. By haar ontstaan, was sy die Kaap se Esperanto en Suid-Afrika se Fanagalô. Dit is ons een en eerste ware, inheemse oorbruggingstaal, en die woorde val soos skaafsels uit die plek waar swart, wit, Europees, Maleis, slaaf en meester begin skouers skuur. En as jy dink oorbrugging kan net deur Frans, Engels of Sjinees vermag word, moet jy kyk hoe verlustig Suid-Afrikaners hulle in Afrikaans as hulle eers op Engelse, Australiese en Amerikaanse bodem land. Want om daar Engels magtig te wees, is allermins seldsaam, en wie wil nou alledaags wees. Engels het dit nog nie aan my gedoen nie, maar ek het al by verskeie geleenthede anderkant die waters in trane uitgebars by die aanhoor van Afrikaans (en Zoeloe!) ongeag die woorde of lied.

Maar dit is beslis ook Afrikaans se Europese bande wat haar so vroeg kon sterk vir haar plaaslike doel. NP van Wyk Louw het Europa ons “geestelike kontakte” genoem. Ons taal was altyd by uitstek ’n toegangstaal. Sy kon gou danksy haar nigte en neefs uit die noorde die Afrikamoeder van die eerste en grootste inheemse biblioteek van feitlik elke onderwerp en fakulteit in menseheugenis word. Hier kon sy, anders as ander Afrikatale, swaarder steun op haar Europese bondgenote. Lank voor ander Afrikatale neergepen is, het Afrikaans haar voete gevind, haar Hollands vervang met plaaslike klanke en prentjies, haarself laat standaardiseer en toe ontplof in skakerings van digkuns, liedere, prosa, psalms, gesange, tegniese handleidings en ’n volbloed Afrikaanse Bybel. Teen 1933 het 10 000 Afrikaanse Bybels per skip aan die Kaap geland. Sy was op dreef. Gou kon sy filosofeer, oorlog voer, harte oorplant en wolkekrabbers bou. Vanaf die regsbank tot die noodgevalleteater, die landbou tot privaat sektor, die staat in al sy departemente, die media, van ingenieur tot vlieënier, kon hul instrumente tot in hul hoogste funksie in Afrikaans besig. Omdat Afrika ’n laatkommer was by skryfkuns, lees en argiefwese is dit nie ver van die waarheid dat Afrikaans vroeg reeds die mees dinamiese en veelsydigste inheemse taal op hierdie kontinent was nie. Sy is nie ’n hierjytaal nie. Sy’t ’n volstruisskop soos min. Om as kombuistaal te baklei vir gelyke erkenning langs die majestueuse lingua franca (lees: grootbekke) van Holland en Brittanje, moes jou kokke goed wees en jou messe en vurke vlymskerp. Jy moes doen wat kombuise doen – die mense voed. Ook geestelik. Want daar is geen mooier eer en geen groter versadiging nie.

So het die Kreoolsgeit tussen diverse groepies aan die Kaap gou die manier geword om te kommunikeer as jy almal effens wou verstaan. Maar Afrikaans was steeds nie-amptelik totdat dit deur die groot wil en onvermydelike momentum van die eerste taalbeweging onder hande geneem is. Met hierdie swoeg en sweet en frenetiese bybly, kom die geboorte van een van die wêreld se jongste, oorlewende tale, Afrikaans. Een waarin jy kon dink, sing, skree, fluister en lag. Maar klopdisselboom was dit deurgaans nie. Haar wonderbaarlike stryd, veral om allerhande stigma te ontgroei, is goed gedokumenteer.

Meer onlangs moes Afrikaans as taal, met haar negatiewe simboolwaarde, weer slae verduur. ’n Vreemde straf, asof ’n taal op haar eie immoreel kan wees – maar weer moet Afrikaans etikette ontgroei. Dit is verstaanbaar. Self drome van ’n taalstreeksgrondslag, is al lank daarmee heen. En die idee van 11 amptelike tale was altyd dood gebore. Dit is nie meer vreemd om by feeste op gesprekke af te kom waar geredekawel word oor die oorlewing van Afrikaans nie. Maar ongelukkig vir die pessimiste, staan Afrikaans rotsvas vir meer as bogenoemde oorwegings. Dis eie aan haar stamboom en geskiedenis dat Afrikaansmagtiges by die reël redelik tweetalig is. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend. Engels was altyd daar. Dit is amper ’n reël dat as jou Afrikaans goed is, jy darem nie totaal verlore in Engels is nie. Behalwe in die Vrystaat, waar ’n Engelse woord net in noodgevalle gespreek word …

Hierdie tweetaligheid het ’n tweërlei uitwerking. Die “minder” amptelike taal, met die hulp van twyfelagtige wetgewing, kán ingesluk word deur Engels. Dit moet as staatsgeïnduseerde vandalisme beskou word, omdat Afrikaans as huistaal steeds meer as Engels deur meer Suid-Afrikaners gebruik word. Afrikaans mag soms stief behandel word, maar dit is nog lank nie ’n nietige minderheidstaal nie. Dit dien wel verskeie minderheidsgroepe.

Die ander resultaat van die prestasie van tweetaligheid is die mag van ’n taal, wat homself stadig genoeg van sy herentale skei, om so nooit agter te raak in sy laer asook hoër funksies nie. Dit is hier, by laasgenoemde, dat Afrikaans by verre die akademiese taal van voorkeur onder die inheemses kan bly. Ek skryf Afrikaans se oorlewing, haar gewildheid onder anderstaliges en haar vatbaarheid vir ondraaglike oorlewingsomstandighede, daaraan toe dat die Afrikaanssprekende die werklike en wyer epistemologiese Suid-Afrikaanse spektrum verwoord. Met ander woorde, Afrikaans doop sy wêreld mooier as enige. Ek skryf dit ook toe aan ’n gesindheidsverandering van meelewendheid onder gebruikers daarvan. Die taal is weer wat sy was, ’n platform vir simbiose onder minderheidsgroepe.

Maar veilig is onse omgangstaaltjie allermins. Afrikaans is besig om haar tweede aanslag van gedwonge anglisasie af te weer. Ons was al hier. Die uitgemaakte oorlewing van die laaste (huidige) aanslag is nog onder verdenking, maar die messe is uit vir die “taal van die onderdrukker”. Dat hierdie taal nog presteer, is meesal ondanks terugslae, marginalisering en vrot redenasies. Tog kom Afrikaans se genesis veel wyer as ’n enkele ideologiese voertuig. Sy het haar reeds op te veel plekke laat geld. By te veel Suid-Afrikaners. Jy moet afvra hoe dit moontlik is dat die hart van een taal onder soveel druk nog klop. Wel, dis eenvoudig. Dis magtig. Te magtig om weg te gooi. Daar is nie keer aan momentum wat kom soos ’n stootskraper nie. Dis kultureel te eie en in praxis te relevant. Dis die doopwater van ’n nasie en die volke wat dit nog praat, is jaloerstrots daarop. Hulle mag maar wees. Afrikaanses en liefhebbers van die taal trek weekliks van kunstefees na kunstefees om daar te beleef wat by ander taalgroepe maar sukkel-sukkel posvat. Afrikaans is ’n nasionale uitblinker op die planke, in sy musiek en in sy woordkuns. Daar word dinamiese bedrywe onderhou deur Afrikaans. Die Afrikaanse filmbedryf is so broeiend soos Hollywood self en ons spog al van toeka af met die oudste fliekbedryf in die wêreld.

Maar Afrikaans se slaankrag is nie beperk tot die kunste nie. Daar buite sal die verstandige entrepreneur jou waarsku dat die Afrikaanse markaandeel en koopkrag op eie risiko geïgnoreer word. Die Afrikaanse spreker is tradisioneel ’n verbruiker, maar per definisie, ’n allemintige produseerder; soos dit ’n taal betaam wat nog nooit bang was om haar hande vuil te maak nie.

Ja, oor dekades is sy getemper en gesterk, maar Afrikaans is ’n bevryde taal. Sy het haar veinsery neergelê. Sy pas vandag om vele skouers en was altyd die knus mantelpak van veelvuldige identiteite. Dit is haar troefkaart tot oorlewing. Niemand forseer haar op iemand af nie. Sy is ’n uitnemende kunstaal, oordat niemand haar eksklusief meer daarin voorskryf nie. Ons doen dinge in daardie taal sodat die jeug dit sou wou praat, en nie móét praat nie. Die grootste feeste, musiek en landbou, is in die Afrikaanse domein (en DNA, klaarblyklik). Afrikaans handhaaf ’n doeltreffende opvoedkundige standaard en dit is steeds ’n eer vir ouers om hul kinders na die Afrikaanse alma mater te stuur. Nie net is daar ’n herlewing vir Afrikaans onder studente nie, maar Afrikaanse wiskundeleerlinge presteer steeds bo die nasionale gemiddelde.[1] Een van die mees suksesvolle burgerregteorganisasies en unies doen sy sake in Afrikaans. Jy moet jou afvra watter ander taalgroepe protesoptogte reël vir die behoud van hul moedertaal en watter ander Suid-Afrikaners twee monumente opgerig het vir hul moedertaal? Daardie tipe trots is waarskynlik ongeëwenaar in taalverband wêreldwyd.

Daar het al baie water in die see geloop vandat ’n paar here op 12 Augustus 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig het met die doel om die oorlewing van Afrikaans te bevorder. Gou was daar ’n koerantjie (die Afrikaanse Patriot), ’n Bybel, kerke en kerkbodes en, teen die middel negentiende eeu, Afrikaanse gedigte in Nederlandse koerante. Inheemse bome, voëls en resepte is gou aangeteken. Daar was skuinskoek, galopsop en rugstringpastei. Dit was garingbiltong in sy saalsakke waarvan Deneys Reitz vir agt dae moes oorleef toe hy in stortreën vasgevang is in 1901. Teen 1914 reeds het CJ Langenhoven Afrikaans ons “kostelikste roem, ons hoogste besitting …” genoem. Vier jaar later, op 30 Mei, skryf hy die eerste paar strofes van “Die Stem van Suid-Afrika”, wat later volksliedstatus sou verkry. Geesdrif en trots was altyd haar mooiste eienskappe. Teen 1985 was daar reeds ’n rekenaarwoordeboek en vandag spog ons met ’n lywige kuberwoordeboek met nuutskeppinge soos sleutelprop (dongle), kammalopie (dry run), biljetteer (posterise), blêrkas (jukebox), bistempo (bit rate) en bliksempos (spam) in ons kuberwoordeskat.

Iemand het eenkeer gesê ons lees om te weet ons is nie alleen nie. Vandag is die taalorganisasies om Afrikaans legio, en is dit klaarblyklik onmoontlik en onnodig om ’n “eensame” Afrikaanse te wees. Duisende Afrikaanses is proaktief betrokke of bloot lede van belangegroepe soos die ATKV, AfriForum, Akademie vir Wetenskap en Kuns, Afrikanerbond, Die Afrikaanse Taalraad, Die Vriende van Afrikaans (VVA), Afrikaanse Geneeshere Vereniging (AGV), Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), Rekenmeesters vir Afrikaans (RVA), die Pro-Afrikaanse Aksie-Groep (Praag), Die Voortrekkers, Die Boeremusiekgilde, Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en so meer.

Nou wat nou van die onheilsprofete en hul begrafnisredes?

Tale het lewens van hul eie. Hulle sterf ook. Die wêreld verloor tien tale per jaar en daar is al 750 afgestorwe (of amper dood) tale wêreldwyd.[2] Arme Australië sit met 128 van hulle. Dis meer as die Amerikaners en Nigeriërs se bedreigde taalspesies saam. Brasilië en Colombië se verlies is 67 in totaal. Tale en kulture wissel soos weer, maar dit is ’n skoot in die siel van die hele mensdom as een taal afstom.

Maar nie hierdie ene nie. Sy is ’n tiener en het die veerkragtigheid van ’n huppelende meisiekind. Sy groei en sy groei sterk. Vanaf SJ du Toit, deur Breyten tot by Hemelbesem. Vanaf Pannevis deur Eybers tot by Small. Deur die gange, tussen klaskamers en fakulteite, oor die strate en spore, tussen die lughawens, hawens, die banke en die effektebeurs, of voetslaan van Nuweland deur Karooplase tot in Pretoria, oor berge en riviere, onderdeur die mikroskoop tot bo uit oor die Melkweg. Dit is hierdie wye Afrikaans wat ek daagliks leer verorber en as sy by hande van haar funksie my kultuur, my woordeskat en my gees gaan verruim soos sy doen, vreet ek haar op. Laat die talryke dialekte en ongure Engfrikaans en die aansitterige Pretoriôns en tsotsitaal maar kom, bring die Kaaps ook en die ontlenings, die vertalings, die aanwensels en die erfgoed, want dit verteenwoordig tog algar die bekke van mense wat uiteindelik die taal in sy kies wil rondrol soos plomp.

Sê vir my jy proe nie die woorde nie as hy ’n seebamboes vol kreef of perlemoen stop, dit verseël en dit nét so in die siedende vuur op ’n Weskusstrand gooi. Wanneer hy die verskrompelde bamboes oopbreek, is die paljas plomp daarin.

Die toekoms van Afrikaans lê in die wil van dié wat reeds soos ons daaroor voel. Die wat dit geproe het en dit wil deel. En gelukkig is ons baie met kieste volgestop van Afrikaans.

Kies Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Sandra Geers ·

Ons is trots om Afrikaans te praat, dink, sing, loof, bid en lief te hê en het ons kinders daarvolgens groot gemaak

Leendert van Oostrum ·

“…staatsgeïnduseerde vandalisme…”

En watter soort vandalisme is dit wanneer Mnr Hofmeyer en sommige van sy mede-kunstenaars (soos ‘n aktrise in “Treurgrond”) skynbaar nie by magte is om drie sinne Afrikaans te praat om te leun op ‘n kruk van ellelange frases in Engels tussenin nie?

se net ·

Ek hoor nou die dag mooitjies Steve is eintlik Engels. Nou wonder ek net is dit waar end wat steek by nog weg?

Gina ·

Julle veroordeel nou n man wat regstaan vir Afrikaans en die boere, sy mense sy land. Al is hy goed in Engels, sê dit nie- hy is nie gebore Afrikaans nie. Laat eerder GOD toe om te oordeel. Dis hoekom dit in die land gaan soos wat dit gaan. Wit staan nie meer by mekaar nie. Nou vra julself af hoekom is die land dan in so n gemors. Laat Steve toe om vir ons te baklei. Dankie Steve jy is nou n MAN van Staal

Leendert van Oostrum ·

Nee, dit gaan in die land soos dit gaan om “Wit” en almal anders aanhol agter die een wat die grootste lawaai maak – of dit Tony Leon, Julius Malema of Steve Hofmeyer is.

Sonder om te kyk of hy werklik skryf soos hy praat.

Lauretha ·

Ai Steve….dankie vir al jou harde werk! Het vandag Treurgrond gaan kyk…uitstekende werk, baie geluk aan julle almal.
Ek LIEF Steve…!!!( en Natasha natuurlik ook!)

Joan ·

Ag shame, party mans kan darem vreeslik jaloers wees! Trots op jou Steve!

Zach Coetzee ·

Ek stem nie altyd saam met Steve nie maar die stuk is uitnemend geskryf! Dit was inspirerend om te lees. Dankie Steve.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.