Afrikaans 90: Laat jou tong dans met Afrikaans

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon, Facebook)

Chris Chameleon (Foto: Chris Chameleon, Facebook)

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Chris Chameleon (sanger en liedjieskrywer)

Afrikaans is ’n taal wat jy maar kan praat, sommer maar net kan praat. Jy hoef nie om te gee oor hoe dit uitkom nie, en dis wat so lekker is.

Dis ’n gemaklike taal sonder fênsie fieterjasies of frilletjies en tierlantyntjies. Daar is nie eens iets soos “suiwer” Afrikaans nie – hoe kan daar ’n suiwer vorm van ’n bastertaal bestaan? Afrikaans is ’n taal wat ontstaan het uit ’n mengelmoes van Nederlands, Duits, Frans, Engels, Khoi-tale, Zoeloe en tale uit Maleisië en Indonesië, en nou is die lys nie eens volledig nie!

Dit wys vir jou, Afrikaans is ’n taal vir die mense, ’n taal wat die behoefte van baie sprekers dien en elke ou die kans gee om ’n bydrae te maak.

En as jy dink Afrikaans is nou klaar gevorm en dit is dit, dan sit jy die pot ook mis! Afrikaans is ’n dinamiese taal wat nou nog ontwikkel en elke jaar ’n bietjie anders lyk as die jaar vantevore en jy, die ou wat Afrikaans praat, is welkom om jou eie bydrae te vorm. Begin jou eie woord! As dit ’n wenner is, gaan jy sien hoe meer ouens dit gebruik en eendag sal jy kan terugkyk en sê: “Ek het daai woord in Afrikaans begin!”.

Buitendien, wie wil nou nie ’n taal praat met woorde soos spookasem (candyfloss), springmielies (popcorn), woefkardoes (doggie bag), flaterwater (tippex), swerkater en maaifoedie nie! So praat hom, werk hom, vorm hom, laat jou tong dans met Afrikaans!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

se-net ·

Chris, jy slaan die spyker heeltemal op die kop! Afrikaans is mooi en kan so lekker praat!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.