Afrikaans 90: My moedertaal!

Jak de Priester (Foto: Jak de Priester, Facebook)

Jak de Priester (Foto: Jak de Priester, Facebook)

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Jak de Priester (sanger en liedjieskrywer)

As iemand Engelssprekend is, sal die persoon die term “mother tongue” gebruik om te beskryf dat Engels die taal is waarin hy of sy gebore en grootgeword het. In Afrikaans sal ons sê, dis my “moedertaal”. En die woord “moedertaal” beteken vir my alles. Die taal van my hart is die taal van my moeder.

Ek dink gereeld hoe toevallig, maar terselfdertyd “nie-toevallig” dit is, dat Afrikaans my moedertaal is. Op skool het ek skaars geweet van ander tale, selfs Hollywood-programme was oorgeklank na my moedertaal toe in die 1980’s en 1990’s. Ons het Beverly Hills 90210 in Afrikaans gekyk. Ander Afrikatale het ons effens op laerskool aangeraak. Ons het geleer om te groet in Sotho en natuurlik was Engels verpligtend.

Eers op hoërskool het ek die keuse gehad om Duits as vak te neem. Soos ek al hoe beter Duits magtig geword het, het ek al hoe meer begin belangstel in Duitsland, sy kultuur en sy mense. Later jare was ek ’n Duitse onderwyser in Engeland (Londen). Ek het gereeld wanneer ek alleen in my klaskamer was, gedink hoe eienaardig dit is, dat ek as Afrikaner, Duits as vak vir Engelse kinders aanbied. Ek het baie keer net in my eie kop teruggereis Suid-Afrika toe. Dit was so spesiaal vir my om te weet dat ek al een was wat Afrikaans as moedertaal gepraat het.

Afrikaans was vir my ’n ontvlugting in tye wat die Engelse kinders en Londen-kultuur my mal gemaak het. Ek kon dig, stories skryf, selfs liedjies wat my weggeneem het na ’n ver, maar bekende plek, Suid-Afrika. Natuurlik kon ek Engels praat, asook Duits, maar om Afrikaans te wees, het my anders gemaak. Ook die tyd wat ek in Holland gewoon het, het my Afrikaanse agtergrond my handig te pas gekom. Ek het nooit Engels gepraat in Holland of België nie. Ek onthou ek het ’n digbundel van Antjie Krog gelees tydens ’n af periode in Engeland. Die Franse onderwyseres (uit Frankryk) wat ook daar skoolgegee het, het in die klas gekom om my iets te kom vra. Toe sy sien ek lees, wou sy weet wat ek besig was om te lees en ek verduidelik dis ’n digbundel van ’n Afrikaanse digter, Antjie Krog. Sy wou hê dat ek vir haar ’n gedig moet voorlees in my eie taal; sy wil hoor hoe dit klink. En ek lees toe die gedig Ma: “ … ma, ek skryf vir jou ’n gedig sonder leestekens, sommer net ’n kaalvoetgedig …”

Sy wou nóg hoor. Soos ek lees, het ek die beeldskone taal oor my lippe gevoel. Ek het net daar, in die hartjie van Londen so trots en lief gevoel vir my moedertaal. Mý moedertaal! Die taal waarin ek so gemaklik lees, skryf, bid, baklei, bemin en sing. Noudat ék kinders het, sien ek hoe hulle my taal begin leer en praat. Hoe hulle baklei en kwaad word, hoe Afrikaans hul moedertaal is. Dis so asemrowend mooi. Ja, hulle gaan eendag ook Engels leer, en Sotho en dalk Duits of Frans, maar hoe spesiaal is dit nie om te weet nie, dat Afrikaans hul moedertaal is. Hul wortels waaraan hul kan vasklou, maak nie saak waar hulle hulself eendag in die wêreld bevind nie. Charlize Theron en haar ma praat steeds Afrikaans met mekaar in Los Angeles, waar hulle al vir baie jare woon. Ek weet dat hul moedertaal hul soms gewortel laat voel, in ’n wêreld van roem, geld en paparazzi.

Ek is lief vir tale. Dis my roeping en talent. Daar is niks so lekker vir my soos om vreemde tale in vreemde lande te hoor nie. Ek luister graag na Franse, Spaanse en Nederlandse musiek. Ek praat graag Duits en eet graag Italiaanse pizza. Ek kry steeds hoendervleis as ek Vusi Mahlasela hoor sing in sy taal, maar wanneer ek op die verhoog staan en ek sing uit volle bors, dan sing ek die taal van my hart, my moedertaal: Afrikaans!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.