Afrikaans 90: My ‘voeltaal’ is Afrikaans

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Deon Opperman (skrywer, vervaardiger en akteur)

As dramaturg het ek oor die afgelope 30 jaar dramas in beide Afrikaans en Engels geskryf. Maar oor die jare het ek al hoe meer my dramas eerder in Afrikaans, as in Engels, geskryf.

Die redes hiervoor was eintlik op die ou end eenvoudig. As skrywer, wat my opvoeding, van kleuterskool tot meestersgraad, in Engels gehad het, het ek oor die jare agtergekom dat waar Engels ’n uitmuntende taal is om akademiese, wetenskaplike en intellektuele begrippe te verwoord – dit wil sê sake van die “kop” – het ek gevind dat Afrikaans, nes Spaans, Grieks en Italiaans, ’n taal is wat haar verleen tot die verwoording van sake van die “hart”… die drama van menswees. En as ek nou een ding geleer het, dan is dit dat drama gaan oor sake van die hart.

Skripsies, essays en navorsing is geskrifte wat gedryf word deur die “kop”, die rasionele; maar drama, die uitbeelding van die verhouding tussen mens en mens eerder as die verhouding tussen konsep en konsep, word gedryf deur die irrasionele, die emosionele; dit gaan juis oor dit wat nie altyd op presiese akademiese wyse verwoord kan word nie, dit wat gevoel word, eerder as dit wat gedink word.

Vir my maak hierdie heeltemal sin. Soos ek dit verstaan en ervaar het, is die Afrikaner se geskiedenis een wat deur emosie gedrewe was en steeds gedryf word. Ons voel eers, en dan dink ons. Dit is ons volkskarakter. En daarom is ons taal so geskik vir drama. Ja, daar is Afrikaanse prosa, maar teenoor Afrikaanse drama is Afrikaanse prosa soos ’n aangenome kind – jy’t hom lief, maar hy is nie jou bloed nie.

Dus: vir solank as wat ek leef, sal ek my dramas in Afrikaans skryf, want terwyl my “dinktaal” Engels is, is my “voeltaal” Afrikaans. Soos ek gesê het: drama gaan oor wat ons voel, nie oor wat ons dink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.