Afrikaans 90: ’n Keuse teen middelmatigheid

afrikaans-90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer gaan word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur Alana Bailey (AfriForum)

Hoekom Afrikaans? Daar is mense wat sal vra “Hoekom nie?”, maar dit is tog goed om nou en dan opnuut te besin oor die vraag waarom ’n mens kies om in Afrikaans te studeer, werk en leef.

Die eerste keer wat ek die vraag gehoor het, was in die 1990’s. Iemand het Lina Spies by ’n byeenkoms waar ek ook was, gevra waarom die handhawing van Afrikaans nodig was. Sy het geantwoord: “Want ek kan net ek wees in Afrikaans.”

In 2009 stel Chris Chameleon dit só in “Taal van die liefde”:

… my hart het in my taal groot geword
daarsonder skiet my gevoel te kort
my leed en hoop in klank vervat
die melodie van haar woordeskat

en as ek droom
dan droom ek in my taal
en as ek saans voor ek gaan slaap
met my God praat dan praat ek in my taal
Hy verstaan …[1]

Beter as hulle, kan ek dit nie stel nie. As moedertaal is Afrikaans nie net ’n kommunikasiemedium nie. Dit is, soos alle moedertale vir hul sprekers, ’n integrale deel van ons persoonlike, sosiale en kulturele identiteit. Ons gewoontes, optrede, waardes, deugde, gebruike en oortuigings word daardeur beïnvloed. Moedertaalonderrig bevorder dus nie net ons algemene syfer-, wetenskap- en taalvaardigheid nie, maar ook ons identiteitsvorming en -besef. Sou ek my moedertaal, Afrikaans, vir ’n ander taal verruil, sou dit afstanddoening van my identiteit beteken en die wegdryf van ’n denkpatroon, kennissisteem en redenasievermoë eie aan Afrikaans.

Vir moedertaalsprekers is Afrikaans dus die beste keuse – en in die besonder vir studente die eerste tree na uitnemendheid. Unesco en ander instellings se wetenskaplike navorsing oor moedertaalonderrig het dit reeds bo alle twyfel bewys.

Afrikaans is een van die mees dinamiese tale wat daar is. Dit ’n jong taal, maar een van net vier wat in die twintigste eeu hoëfunksiestatus bereik het. Vir elke dissipline word woordeskat steeds daagliks ontwikkel. ’n Klein taal is dit ook nie. Dit tel onder die 120 grootste tale uit die ongeveer 7105 wêreldtale.

Die keuse vir Afrikaans hou die verdere voordeel in dat ’n mens met die hedendaagse media-aanbod van Engels in Suid-Afrika, outomaties ten minste tweetalig gaan word. Dit is dus nie ’n keuse teen enige ander taal nie. Meertaligheid is ’n gesogte vaardigheid wat die meeste mense op aarde nooit bemeester nie. Deur in Afrikaans as moedertaal te begin studeer, sal jou aanleg om meer tale aan te leer, ontwikkel en dit sal aan jou ’n sleutel tot meer loopbaangeleenthede bied.

Hierdie taalvaardigheid, maar ook die hoë gehalte Afrikaanse onderrig wat beskikbaar is, het tot gevolg dat Afrikaanssprekendes wêreldwyd gesogte werknemers en medewerkers is. Dit is die geval op alle terreine – van vioolbouers en pediaters, tot aktuarisse, myningenieurs en vuurpylwetenskaplikes. Van diep onder die aarde tot bo in die sterre maak mense ’n verskil met kennis wat hulle in Afrikaans opgedoen het.

Spesifiek vir Afrikaners, was Afrikaans in die twintigste eeu die poort tot onderwys en opheffing. Volgens professor Hermann Giliomee het ontwikkelingsprogramme elders in Afrika gefaal omdat dit deur middel van koloniale tale geskied het. Daarenteen het Afrikaans as inheemse taal sy sprekers in staat gestel om nie alleen die lokale op ’n eie en unieke manier te beskryf nie, maar ook universele kennis te verinheems.

Vir die besigheidsman gee die keuse vir Afrikaans direkte toegang tot meer as dertig persent van die land se handelsmark. Maatskappye soos Virseker wat spesifiek die Afrikaanse mark teiken, vier die sukses van hierdie benadering.

Soms word ’n keuse vir Afrikaans bedrieglik uitgebeeld as ’n keuse vir eksklusiwiteit en negatiewe afskeiding. Dit sluit egter hoegenaamd nie die bevordering van wedersydse erkenning en respek uit nie, dit moedig dit juis aan, omdat iemand met ’n begronde selfkennis en -respek soveel meer waardering vir ander se identiteit en kultuur kan toon. Daardeur groei positiewe samewerking, eerder as wat sou gebeur as individuele identiteite onderdruk sou word ter bevordering van ’n homogene taal- en kultuurgemeenskap waarin niemand volkome tuis voel of homself kan wees nie.

Afrikaans is bowendien nie net een groep se eiendom nie. Moedertaalsprekers is wit, bruin, swart, Indiërs, Sjinees en meer. Volgens die sensus van 2011 is dit die derde grootste taal in Suid-Afrika. Dit geniet ook internasionale erkenning en word onder meer tersiêr in Nederland, België, Pole, Oostenryk, Rusland en die VSA onderrig.

Wanneer jy Afrikaans kies, is dit ’n keuse teen middelmatigheid en vir die eiesoortige kreatiwiteit van hierdie jong taal wat so geesdriftig in die skeppende kunste uitgeleef word.

Elkeen wat Afrikaans kies, versterk die taal en ons gemeenskap se toekoms. Ons is die waterdruppels wat Afrikaans laat floreer en gedy. Sonder ons, die sprekers wat Afrikaans op sosiale, maar ook in die hoëfunksie-omgewing gebruik, sal die taal sterwe, maar sonder Afrikaans sal ons ook nooit volkome kan wees wie ons is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

David ·

Baie goeie rubriek.

Ek het ‘n ruk gelede kennis gemaak met ‘n Kanadees wat 4 tale magtig is. Na ons ‘n paar keer saam gekuier het, het hy vir my gesê dat hy absoluut versot is oor Afrikaans en die manier waarop ons Afrikaners hulself uitbeeld. “Such a passionate language”

Met verwysing na Chameleon – Luister ook gerus na Albert de Wet se lied ‘Afrikaans’ op sy album ‘As jy bang is vir die Donker’

Dina ·

Hierdie insiggewende artikel van Alana kan dien as mens se grondslag wanneer “verloopte” Afrikaanse vriende/familie wysneusig verkondig dat Engels die wye wêreld vir ons kinders oop maak. Slim gedagte : Ons kies nie tèèn Engels nie – buitendien gaan ons dit bemeester! Ons kies net primer Afrikaans!

Hannes Deetlefs ·

Afrikaans
Afrikaans is trots, springlewendig, twis en stry, sing en lag in vrolike, kleurige, geurige beelde: Fantasties beskrywend, “tuinslang” vir “pyp” is voorbeeld van sy onmeetlike woordeweelde!
Rugsteunend is woorde van geloof, van troos, van hoop en sterkte, wat siekes en swakkes opbeur.
In alles is Afrikaans tuis, dit kan dig en bid, troos, grappig of dreigend klets, skinder en versteur.
Klein Ondeug, moeders sorg en skat, haar lus, haar las, haar vreug*
Aangrypend die krag, die helder, suiwer klank van iedere woord verheug!
Altyd volmaak: Die taal se woorde dans parmantig en speel, van heelhartige emosies gedrewe, Natuurlik en propvol geesdrif, borrelend vrolik, kragtig en kielierig spontaan of volkome verhewe:
So gee die uitgekryte, vergruisde en verdoemde taal dag vir dag woorde vir ons ganse lewe.

Is jy dalk die duiwel in, neerslagtig weer, ongelukkig, sonder hoop? Is jou hart baie seer?
Sien, Afrikaans is nie sommer “mogetroffe” nie, daar is altyd ʼn woord of twee of selfs drie:

Dan is woorde soos “deksels”, “eina!”, “sjoe”, “tjankbalie”, “ditsem”, “aitsa” en “siestog” gevra,
In verdigsels of “wolhaarstories” vertel jy langdradig wat jou in jou lewe so vreeslik, so triestig pla.
Eie die dubbele “nie”, want met “Nie meer nie!” hou jy op met kla en jy sê “Ja-nee” vir jou “Ja!”

Treffend is die Afrikaanse woord in klank, in duidelikheid en mening,
Altyd vir alles gereed, van vloek tot gebed, versoening en seëning.
Alles word netjies en presies en klankvol bewoord, in die geroesemoes van ons lewe vasgepen:
Lewendigheid, erns en spot, hoop, geloof en krag is dit wat Afrikaans altyd weer sal laat wen!
Hannes Deetlefs
* bron: Jan F.E. Celliers, Die vlakte en andere gedigte. Volkstem-drukkerij, Pretoria 1908

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.