Afrikaans 90: ’n Taal wat hulle verstaan

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Michael le Cordeur (Afrikaanse Taalraad)

Die vraag word dikwels aan my gestel, waarom ek glo in Afrikaans. Waarom het ek Afrikaans as vak bestudeer en waarom publiseer ek in Afrikaans. Waarom het ek my seun en dogter na Afrikaanse skole gestuur as dit dan so wonderlik is om in Engelse skole te wees. Laat ek heel aan die begin sê, ek was nog nie een dag spyt dat my ouers my in Afrikaans grootgemaak het nie. Moedertaalonderrig het my die geleentheid gebied om volledig en maksimaal te ontwikkel, sodat ek my studies suksesvol kon voltooi, en vandag is ek ’n gerespekteerde dosent (in Afrikaans) en ’n leier op vele gebiede. Ek sal nou probeer om die opvoedkundige redes te verskaf waarom Afrikaans vir my ontwikkeling so belangrik was.

Die Grondwet verklaar op ondubbelsinnige wyse dat al ons amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en dat “elkeen die reg het om onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings, waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is”. Ons eie onderwysowerhede erken ook die belangrikheid van moedertaalonderwys. Op 31 Julie 2006 het die minister van onderwys, Naledi Pandor, toegegee dat “… opvoeding in die moedertaal ’n verskeidenheid van opvoedingsgeleenthede moet vestig wat nie voorheen beskikbaar was in Suid-Afrika nie”.

Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir goeie opvoeding – vir Afrikaans en vir inheemse tale. Wêreldwyd word dit as ’n nie-onderhandelbare onderwysbeginsel beskou. Leerders betaal ’n duur prys weens die ontkenning van dié tale waarin hul begripsvlakke en uitdrukkingsvaardighede vasgelê is. Na my mening is niemoedertaalonderrig EEN van die vernaamste redes vir die swak slaagsyfer. Daar is oorweldigende bewyse nasionaal en internasionaal dat leer deur die moedertaal vir minstens die eerste ses jaar van ’n kind se lewe, help om leer te bevorder. Ervaring oor die wêreld het ook getoon dat kinders ’n tweede (wêreld-) taal baie meer effektief aanleer indien hulle in ’n taal onderrig word wat hulle verstaan. Vandag kan ek met trots sê dat ek al in beide Afrikaans en Engels gepubliseer het, terwyl my dogter in matriek onderskeidings vir Afrikaans en Engels behaal het, juis omdat moedertaal die aanleer van ’n tweede taal vergemaklik.

Die teenoorgestelde hiervan is dat indien kinders die grootste gedeelte van hul primêre skoolopleiding ontvang in ’n taal wat hulle nie verstaan nie – en wat hul onderwysers dikwels nie behoorlik kan praat nie – hul kognitiewe ontwikkeling ernstig benadeel word. Navorsing toon dat kinders baie beter presteer as hul laerskoolopvoeding in hul moedertaal ontvang. Kennis is meer as net die vermoë om te onthou. Dieper vlakke van begrip stel leerders in staat om kennis van een konteks na ’n ander oor te dra. En leerders se voorafkennis is in hul taal opgesluit. Navorsing in Wiskunde dui daarop dat dié wat die grondbeginsels in hul moedertaal geleer het, ’n beter begrip van die vak het vergeleke met dié wat dit in ’n tweede taal geleer het. Prestasiepatrone dui daarop dat leerders sukkel in gesyferdheid omdat hulle nie uitdrukkings soos verdubbel en halveer verstaan nie.

TAAL is dus een van die vernaamste uitdagings wat in die pad staan van akademiese sukses. Die vraag is of die TAAL waardeur die kurrikulum oorgedra word, geskik is om ’n getransformeerde kurrikulum daar te stel wat sy rol in ’n nuwe Suid-Afrika effektief kan vertolk. Ek glo die teendeel. Veral die kind wat nie Engels as huistaal het nie, word benadeel.

Volgens ’n wêreldverslag van Unesco het kulturele diversiteit met die eeuwisseling as ’n sleutelbegrip na vore getree. Hiervolgens is taal een van die belangrikste aspekte om gestalte aan kulturele diversiteit te gee. Taal is nie net ’n middel tot kommunikasie is nie; dit verteenwoordig ’n rykdom aan kulturele goedere, is draers van identiteit en waardes en fasiliteer kulturele oordrag tussen generasies. Hoe sal ons kinders weet wie hulle is en wat hulle bydrae is tot kulturele diversiteit as hul ouers se taal verkleineer en afgeskeep word?

Die sentimentele waarde wat aan die werk van Afrikaanse skrywers, digters, sangers en dramaturge geheg word, is voldoende bewys van die intieme wyse waarop die sprekers van Afrikaans met hul taal identifiseer.

Uiteindelik, sal ons kinders ’n duur prys betaal: Ons sien dit reeds met die matriekuitslae en alle ander resultate van toetse waaraan ons kinders deelneem. Die uitdaging is om die regering te oortuig om nog baie meer te doen om te verseker dat dit ’n werklikheid word – en om ouers te oortuig dat hul kinders beter opvoeding sal ontvang – ten minste op laerskoolvlak – indien hulle onderrig ontvang in ’n taal wat hulle kan verstaan. Een van die mooiste, en terselfdertyd ook een van die waarste dinge wat die wyse Madiba gesê, was:  “Praat met ’n man in die taal wat hy verstaan en jy praat met sy kop. Maar as jy met hom praat in sy moedertaal, dan praat jy met sy hart.”

Juis daarom behoort ons taal op ’n meer inklusiewe wyse te bestuur. Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae