Afrikaans 90: Notaboekstories

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Riëtte Grobler (Media24)

So ’n ruk gelede was dit tyd vir kaste regpak op kantoor.

Tussen die opgegaarde goed het ek afgekom op die stapels notaboeke wat ek die afgelope sewe jaar as joernalis volgeskryf het.

Soveel interessante mense het die blaaie gevul. Soveel wonderlike stories is aan my oorvertel.

Daar was ’n onderhoud met ’n ruimtereisiger van NASA wat Suid-Afrikaanse skoolkinders van sy ervarings kom vertel het; die Engelse vrou van Johannesburg wat groente op haar sypaadjie begin plant het sodat honger mense dit kon pluk; die suksesverhaal van die twee Afrikaanse meisies wat ’n troublog begin het wat deesdae miljoene volgelinge regoor die wêreld het en die gesprek met ’n bekroonde Sothosprekende jeugboekskrywer, wat ’n mynwerker op Marikana is.

Watter taal dié inspirerende mense, en ander, ook al praat en waar hulle ook vandaan kom, ek kon hul stories, en dié van ander, in Afrikaans vertel en ek doen dit steeds.

Daai gerug dat deure vir my sal toeklap oor Afrikaans, het ek nog nooit geglo óf ervaar nie.
Inteendeel, met die besef dat die wêreld ’n groot-groot plek is, dat niemand my iets skuld net omdat ek Afrikaans is nie en die begrip dat ander net so geregtig is om die taal van hul keuse te praat as ek, het wêrelde al vir my oopgegaan.

Die feit dat ek in Afrikaans skoolgegaan en die meeste van my vakke op universiteit in Afrikaans geloop het, was nooit regtig iets waaroor ek moes tob nie en ook nie iets waaroor ek spyt is nie.

Wat vir my gewerk het, geld dalk nie vir jou nie, maar as ek nou terugkyk oor my skool- en universiteitsdae, besef ek daar was van kleins af geleenthede om my taalvaardigheid in Engels én Afrikaans te slyp: dramaklasse in albei tale, redenaars, boeke, teater, musiek.
Dit was nooit vir my nodig om in Engels skool te gaan, of al my vakke op universiteit in Engels te loop, om dié taal onder die knie te kry nie.

Inteendeel, vandag is ek ewe gemaklik in albei tale – iets wat my daagliks help wanneer ek ’n onderhoud moet reël, ’n e-pos moet tik, of ’n vergadering moet bywoon.

Nou is dit egter ook tyd vir ’n bekentenis, waarsonder dié essay net ’n halwe waarheid sou wees: ek doen my Meestersgraad deur medium van Engels omdat die universiteit waar ek ingeskryf het, dit so verkies.

En ek kan sonder skroom erken dis baie taai. Waarom? Doodgewoon omdat Afrikaans my skryf- en leertaal is. Die taal waarin gedagtes in my kop vorm aanneem en lewe kry op papier.

Maar net omdat ek dié uitdaging in Engels moet trotseer, beteken nie my notas en die gesprekke wat ek met myself het om sin te maak van die werk, kan nie in Afrikaans wees nie …

En net omdat al die stories wat ek die afgelope sewe jaar gehoor en in my stapels notaboeke opgeteken het nié noodwendig in Afrikaans aan my vertel is nie, beteken ook nie ek moes dit ignoreer nie.

Nee, ek kon dit toevallig in my eie woorde oorvertel. In Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.