Afrikaans 90: Omdat Afrikaans alles kan!

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Dioné Prinsloo (HUB van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns)

Toe die Kaapse nedersetting in 1752 sy eeufees gevier het, was Frans as taal aan die Kaap besig om uit te sterf omdat slegs enkele Franssprekendes nog jonger as 40 was.

Twintig jaar na die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het Afrikaans as taal wel verlies gely, maar ons is beslis nie waar Frans as taal in 1752 aan die Kaap gestaan het nie.

Afrikaanse jongmense verseker die voortbestaan en opbloei van Afrikaans in Suid-Afrika deur Afrikaans oral op sosiale media, kunstefeeste en kampusse te gebruik. In 2052, wanneer die 400-jarige herdenking van Jan van Riebeeck se vestiging van die verversingstasie aan die Kaap waarskynlik op moderne (virtuele/elektroniese) manier deur die huidige generasie Afrikaanssprekendes herdenk word, sal daar beslis nie net enkele gebruikers jonger as 40 wees nie.

Hoekom Afrikaans? – Omdat Afrikaans alles kan!

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns gee jaarliks pryse vir uitblinkers op alle terreine – letterkunde, die kunste, alle vorme van die wetenskap (natuur, biologie, medies) – noem maar op. Hierdie presteerders het een ding gemeen: Afrikaans. Wat opvallend is, is dat al hul opleiding en die internasionale status wat hulle geniet, deur medium van Afrikaans moontlik was. Nie elke jong taal kan soos Afrikaans spog dat breinchirurge, tandartse, veeartse, argitekte en selfs kernfisici hulself in Afrikaans kon bekwaam – en hulle in Afrikaans as beroepstaal kan uitleef nie.

Daarom dus Afrikaans!

Om te verseker dat Afrikaans teen 2052 steeds sal blom, fokus die SA Akademie op die gebruik van Afrikaans op alle lewensterreine. ’n Opwindende projek van die Akademie is die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Die grammatika en spelling van Afrikaans word sedert 1917 deur die Taalkommissie van die SA Akademie in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) gepubliseer. Anders as wat ons soms dink, is daar Afrikaanse woorde vir alles. Van die woorde is in vaktaalwoordeboeke opgeteken. Gaan kyk ’n slag – die SA Akademie het byvoorbeeld ’n paramediese vakwoordeboek, vir skaak, seëlversameling, kernenergie, motorterme, ’n woordeboek oor plastiek, sterrekunde, musiek, en daar is heelwat woordelyste ook! Daar is selfs bouterme en spyseniersterme in Afrikaans. So kan ons in Afrikaans kook en bou (op maat van musiek).

Lekker feestelikhede vir Afrikaans is byvoorbeeld ’n intervarsity tussen die verskillende universiteite om te sien wie die beste spellers is. Die nasionale Poort-Skryfkompetisie gee jaarliks vir jong skrywers en digters kans om hul skryftalente te verfyn en pryse te wen.

Afrikaans is oral. Daarom dus Afrikaans!

Die Wiskunde-in-Aksieprojek bewys dat graad 6- en 7-leerders in Afrikaans tot alles in staat is. ALLES kán deur medium van Afrikaans. Wêreldwye navorsing bevestig dat begrip wat deur moedertaal vasgelê is, dit vir kinders moontlik maak om enige probleme aan te pak, ook in ander tale, as die moedertaalbasis stewig gelê is.

Ook internasionaal laat geld Afrikaans hom as ’n navorsingstaal en alle vorms en terreine van die geesteswetenskappe, soos die letterkunde, taalkunde, filosofie, geskiedenis, kuns, sosiologie, die regswese en dies meer. Wat aanvanklik in Afrikaans beskikbaar was, trek wêreldwyd aandag. Dit maak my trots om in Afrikaans te dink, te droom en te praat; ook in die buiteland waar ons kontak het met ons stamlande … en in Afrikaans kommunikeer. As die Akademie dit kan doen, kan jy ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.