Afrikaans 90: Toekomstaal

Theuns Eloff (Foto: Skermskoot uit NWU-video)

Theuns Eloff (Foto: Skermskoot uit NWU-video)

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Theuns Eloff (vorige visekanselier, NWU)

Die vraag “hoekom Afrikaans?” kan eintlik ook wees: “Hoekom moedertaal”? Hoekom is dit belangrik om in en met die taal wat jy van jou ma geleer het, te praat en te leer en te werk?
Want die meeste redes is presies dieselfde.

Dis die taal waarin jy leer praat het, die taal waarin jy leer lees het en die taal waarin jy leer somme maak het. Dis die taal waarin jy grappe maak en waarin jy huil. Omdat jy Afrikaans ken en praat, kan jy begrippe verstaan wat jy nie in ’n ander taal (so maklik) kan verstaan nie.

Internasionale navorsing
Internasionale navorsing het oor en oor bewys dat kinders wat tot graad 7 in hul moedertaal skoolgegaan het, op hoërskool en later op kollege of universiteit beter vaar en makliker abstrakte dinge (soos algebra!) verstaan en baasraak. Daarom is dit so tragies dat ouers verkeerdelik dink dat hul kinders ’n beter kans in die lewe het as hulle van vroeg af in Engels skoolgaan – en dan sukkel daardie kinders meesal hul lewe lank. Ek dink dis een van die hoofredes waarom ons as ’n land so swak in Wiskunde vaar …

Afrikaanse onderrig is ’n grondwetlike reg
Ek is ook ’n voorstander daarvan dat, soos die Suid-Afrikaanse Grondwet in artikel 29 sê, elkeen in die taal van sy/haar keuse onderwys kan ontvang, waar dit prakties moontlik is. Daarom is die onderrigtaal van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit Afrikaans. En deur opvoedkundige tolking word Afrikaanse klasse ook in Engels getolk, en toegang vir nie-Afrikaanse moedertaalsprekers moontlik gemaak. Hierdie taalbeleid maak van die Puk-kampus ’n unieke plek, waar die meerderheid studente (75%) Afrikaans praat, sonder om ander studente uit te sluit. Dis ook interessant om te weet dat van die uitnemende 100 universiteite in die wêreld, meer as 30 nie Engelstalig is nie! ’n Mens kan dus uitstekend wees sonder om (noodwendig) Engels te praat!

Afrikaans lê die fondament van sukses
’n Mens hoor baie maal dat mense sê dat “alles in die wêreld tog Engels is” en dat mens daarom so gou as moontlik liewers na Engels moet oorskakel. Dis ’n verkeerde redenasie. Afrikaans is nie ’n struikelblok vir sukses nie, want baie van ons sake- en politieke leiers het juis in Afrikaans skoolgegaan en gestudeer – en kyk maar hoe goed doen hulle in die “Engelse” wêreld! As mens goeie taalvaardigheid in jou moedertaal opgebou het, is ander tale soveel makliker om te leer en die “moeilike” dinge makliker om te verstaan.

Afrikaans laat al meer mense tuis voel
’n Moedertaal (en Afrikaans) is die taal van ’n spesifieke gemeenskap. Dit laat mens dus tuisvoel in daardie gemeenskap, waar jy ook al woon. Dit stel mens in staat om goeie Afrikaanse boeke en gedigte te lees en te waardeer, om na Afrikaanse musiek te luister en na kunstefeeste te gaan. Dit is nie die geval met ’n tweede of derde taal nie. Afrikaans laat mens tuiskom en tuis voel. ’n Mens kan sê dis “cool” om Afrikaans te praat en in Afrikaans te studeer – want al meer mense doen dit! En as mens self tuis voel, voel jy ook nie bedreig deur ander mense wat in hul taalgemeenskap tuis voel nie.

Veeltaligheid is belangrik
Natuurlik is veeltaligheid ’n groot bate, en in ons omstandighede ook ’n instrument van versoening. As jy iemand anders se taal kan praat, voel hulle dadelik meer tuis in jou geselskap – en jy in hulle s’n! Dis asof daar amper ’n verbinding ontstaan. Daarom is ek ’n voorstander daarvan dat Afrikaanse leerlinge op skool nie net Engels aanleer nie, maar ook een inheemse Afrikataal. Later in jou lewe sal dit jou baie goed te staan kom. Engels is egter ’n wêreldtaal, en daarsonder kan mens (in elk geval in Suider-Afrika) nie in die werksplek regkom nie.

Vir my is die vraag dus nie: óf Afrikaans óf Engels óf Zoeloe nie. Dis Afrikaans (eerste!) én Engels én Zoeloe (of watter inheemse taal ook al in jou streek gepraat word).

Dit is ware diversiteit – en die toekoms!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

anet ·

Dankie Theuns, stem saam met jou, dit is ware diversiteit – en die toekoms! vir ons wat Afrikaans praat!.

HEVW ·

Baie waar. Ek self het in ons gesin opgegroei met geen Engels. Eerder anti – Engels omdat al 2 my oupas in die Engelseoorlog ( nie boereoorlog nie omdat Engeland en Milner hierdie oorlog op ons afgedwing het.) betrokke was, en tog het ek my landbou – en teologiese studies met sukses afgehandel. Sonder om n jaar te herhaal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.