Afrikaans 90: Verseker Afrikaans

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Mia Willemse (joernalis)

Van al die tale in die wêreld, glo ek ons Afrikaanssprekendes loop met die wit brood onder die arm. En hierdie einste gesegde bewys my punt: Afrikaans is so kreatief en bitter soetsappig.

Dis ’n taal, my taal, wat ek bo enige ander sal kies; vandag en vir altyd!

Afrikaans is soveel meer as net die taal van apartheid, dit is ’n taal wat daagliks groei en wat vandag liefde en versoening verkondig.

Ek het ’n besonderse liefde vir Afrikaans, want ek werk in Afrikaans, ek hê lief in Afrikaans en ek lewe in Afrikaans.

As ek ons taal se voortbestaan in een woord kan beskryf, is dit die woord, “verseker”.

Ek onthou my jare op universiteit. Ons het baljaar en geskarrel. Ons het bollemakiesies op die koshuis se lowergroen gras gemaak. Ek het selfs in Afrikaans gevry – iets wat ’n studentehart tog so goed kan doen. En deur net aan my universiteitsjare terug te dink, is die herinneringe sowaar soeter omdat ek dit in Afrikaans kan onthou.

My moedertaal is iets wat niemand van my kan wegneem nie, al word die wêreld verengels en al is daar meer werksgeleenthede wêreldwyd vir diegene wie se tong gemakliker in Engels praat, sal ek bly vasstaan in my taal.

Om elke dag te kan opstaan en ons land se gebeure in my taal te kan oorvertel, is iets wat my laat glimlag.

Want dis dié land waarin ek gebore is en dis dié taal wat my toerus om met die harte van my mense te praat; ek sal die voorregte nooit as vanselfsprekend neem nie.

Die toekoms vir my, my man en my toekomstige kinders, is vir my die mooiste droom wanneer ek dit droom in Afrikaans…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae