Afrikaans 90: Waarom sal ek dan nie swot in my taal nie?

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Paul Colditz (Uitvoerende hoof, FEDSAS)

“Want ek kan ‘rock’ in my taal …” sing die sangeres, Amanda Strydom. Sy kon net sowel ook gesing het: “Want ek kan swot in my taal!”

Mense van my ouderdom sal baie skryf en praat oor die navorsing wat gedoen is oor die voordele van moedertaalonderrig, veral op skoolvlak. En dit is waar: daar is al baie oor die wêreld heen daaroor gesê en geskryf. Ek weet nie van iemand wat met enige mate van gesag hierdie navorsing meer in twyfel trek nie.

Ontwikkelingsielkundiges verkondig ook een boodskap duidelik: Kinders kan slegs voordeel trek uit dubbelmedium-onderrig indien hulle Engels reeds vanaf hul kleuterjare aanleer by ’n ouer wat dit konsekwent en korrek praat. As die ouers (en/of dagsorg) dus nie daartoe in staat is om die verwerwing van ’n tweede taal ten volle te ondersteun vanaf die kleuterjare nie, kan dit hul kinders benadeel om vanaf graad R of graad 1 Engelse onderrig te ontvang. Omdat hierdie kinders Engels nie voldoende verwerf het nie, spandeer hulle soveel energie daaraan om op die hoogte te bly van dit wat in die klaskamer gekommunikeer word, dat hulle nie genoeg energie wy aan die verwerwing van ander skolastiese vaardighede, soos byvoorbeeld wiskundige vaardighede, nie. Dit is op grond van hierdie bevindinge dat ontwikkelingsielkundiges moedertaalonderrig (dus Afrikaans) in die primêre skoolfase aanbeveel. Taal- en kognitiewe vaardighede is nou verbind, en met moedertaalonderrig gee ons ons kinders die billikste geleentheid om hul akademiese potensiaal te optimaliseer.

Maar daar is ’n ander rede wat ek deur die jare ontdek het oor hoekom ’n mens jou kinders in ’n Afrikaanse skool sal sit as jy Afrikaanssprekend is. Afrikaanse skole of skole waar Afrikaans as onderrigtaal aangebied word, is in vele opsigte die beste skole in die land.

’n Klompie jare gelede het ’n Engelse Sondagkoerant ’n lys van die 100 uitnemende skole in Suid-Afrika gepubliseer. Dit was hoofsaaklik gebaseer op die skole se matriekslaagsyfer en die studie is deur die koerant in samewerking met ’n bekende Suid-Afrikaanse (Engelse) universiteit gedoen. Voordat die berig oor die 100 uitnemende skole gepubliseer is, het een van die joernaliste wat aan die storie gewerk het, my geskakel om my opinie te vra oor hoekom die aantal Afrikaanse skole in daardie lys so disproporsioneel baie is. Ek kon hom met groot oortuiging antwoord.

Afrikaanse skole het van die beste onderwysers in die land. Dit is mense wat oor die algemeen onderwysers geword het omdat hulle onderwys as ’n roeping beskou. Onderwys is in hul bloed. Dis meesal nie mense wat onderwys as loopbaan gekies het omdat hulle nie geweet het wat anders nie. Hulle wíl onderwysers wees. En hierdie ingesteldheid beteken dat hulle oor en vir kinders omgee.

Oor die algemeen is Afrikaanse mense ook baie meer betrokke by hul skole as nie-Afrikaanssprekendes. As ’n skool goed wil wees, is dit nodig dat ouers, onderwysers en leerlinge trots moet wees op die skool en die skool moet ondersteun. Dit gebeur baie goed in die meeste Afrikaanse skole.

Die lekker deel van Afrikaanse skole is ook die buitemuurse aktiwiteite en by die meeste skole is dit nie net rugby en netbal nie. Daar is hordes aktiwiteite wat baie goed georganiseer word. Afrikaanse skole vaar uitstekend in koorkompetisies, redenaarskompetisies, drama en vele ander kulturele aktiwiteite. Dit alles verseker jou van ’n goeie totale opvoeding – nie net akademiese opleiding nie.

Die argument is dikwels dat Engels ’n wêreldtaal is en ook die taal van die handel en nywerheid is. Ouers en kinders glo dat dit hulle ’n voorsprong sal gee as hulle in Engels skoolgaan. Maar daar is soveel bekende argumente hierteen, veral vir jonger kinders, soos die ontwikkelingsielkunde met oortuiging aantoon. Daarbenewens verklap die uitslae in ons skole in die land die skokkende verhaal van kinders wat die skool verlaat omdat hulle taalvaardighede nie op peil is nie. Universiteite sukkel ook met taalvaardighede onder studente wat uit ons skoolstelsel kom.

As ek kan dink, praat, lees, sing, bid (en “rock”) in my taal, waarom sal ek dan nie kan swot in my taal nie?

Hoekom Afrikaans? Ek vra: Hoekom nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae