Afrikaans as wetenskapstaal en hoe die publiek bedien word

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Deur adv. Albert Lamey

Met die verwydering van Afrikaans as onderrigtaal aan verskeie universiteite in die onlangse verlede en die aanneem van Engels as enigste taal in enkelmediumonderrig, is reeds baie geskryf en gedebatteer op die inbreukmaking van die status van die taal as akademiese- en wetenskapstaal en ook die inbreukmaking van die keuse van onderrig in Afrikaans by openbare universiteite ingevolge artikel 29(2) van die Grondwet.

Maar is die belang van die publiek in ag geneem by dienslewering en kommunikasie?

Ons weet dat die relatief onlangse Wet op die Gebruik van Amptelike Landstale, Nr 12 van 2012, ten doel het dat nasionale departemente en provinsiale departemente die gebruik van al die amptelike landstale moet bevorder en vir dié doel taalbeleide moet formuleer. So het die Wes-Kaapse provinsiale regering en duidelik met inagneming van die taaldemografie in die provinsie, drie amptelike tale gekies vir kommunikasie en dienslewering aan die publiek naamlik Afrikaans, isiXhosa en Engels.

In die taaldebatte is nog weinig aandag gegee aan hoe die aftakeling van Afrikaans as akademiese- en wetenskapstaal die bediening van die publiek deur professionele beroepe en veral die mediese beroep raak.

Oor die afgelope 100 jaar van ontwikkeling van Afrikaans is sy ontwikkeling veral gesien in mediese wetenskap en in geneeskundige vakterminologie wat ontwikkel is. Dit was hoofsaaklik te danke aan die mediese skole van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein.

Só is Afrikaanse ekwivalente ontwikkel vir bykans elke Engelse term en bestaan ʼn Afrikaanse verklarende en vertalende woordeboek van Afrikaanse mediese terme en begrippe. Dit bevat ʼn wetenskap- en kultuurskat van 30 000 terme en in die 2011-uitgawe was daar 8 000 herdefiniërings en 2 000 nuwe toevoegings.

Waarom is die ontwikkeling van ʼn taal as wetenskapstaal dan belangrik? Sekerlik is een faset daarvan dat elke mens wat identifiseer met sy moedertaal, die ontwikkeling van sy taal tot die hoogste funksies van akademie en wetenskap wil sien en veral ook in tersiêre onderwys. Verder het taalnavorsing bewys dat in die kognitiewe ontwikkeling en in die verstaan van konsepte en begrippe deur leerders en voorgraadse studente, dit meer voordelig is wanneer vanuit die moedertaal die tweede taal se begrippe bemeester word, veral dan waar die tweede taal ʼn dominante internasionale rol speel soos Engels.

Maar ʼn taal soos Afrikaans wat tot die hoër funksies ontwikkel het, het die belangrike voordeel dat sy sprekers in die bediening van die publiek en veral in die professionele beroepe die voordeel het dat hulle beide Afrikaanse en Engelssprekende lede van die publiek kan bedien. ʼn Wetenskapstaal wat aan ʼn universiteit aangewend word in onderrig van studente in professionele beroepsrigtings soos medies, is veral dan ook belangrik as kommunikasiemedium in dienslewering aan die publiek.

Dit lei tot die vraag – hoe die aftakeling van Afrikaans by universiteite verder dan die bediening van pasiënte in geneeskunde raak indien studente slegs die vaktaal in Engels bemeester het? Ons kan sekerlik verwag dat met verloop van tyd geneeskundiges en gesondheidspraktisyns waar hulle opleiding slegs in Engels plaasvind, die Engelse vaktaal (selfs vir Afrikaanse moedertaalsprekers), met verloop van tyd die enigste bekende gaan wees en die verdere ontwikkeling van Afrikaans sal verweer. En so ontstaan die ontstellende risiko van die geleidelike uitwissing van ʼn taal op sy hoër funksionele wetenskaplike en beroepsvlakke en reduksie tot ʼn sosiale taal en familietaal.

In ‘n boek in 2015 gepubliseer en getiteld: A History of South African Literature deur Jerzy Koch (professor in die Departement van Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies) die volgende:

“Today, Afrikaans is the mother tongue of almost 6 million residents of the Republic of South Africa. This group includes coloured South Africans, white Afrikaners and a relatively small black population (under 100 000). (As these statistics indicate, such terms as “the Afrikaner language” or “Afrikaner literature” are misleading, for Afrikaners are not the only people to claim Afrikaans as their first language.) By contrast, English is the first language of just 3.4 million South Africans. When we compare the use of English and Afrikaans as a (second or third) foreign language, the disparity is levelled: 13 million white, coloured and black citizens of South Africa use Afrikaans and 13 million use English.”

Indien hierdie syfers in ag geneem word, ontstaan die kwellende vraag – is ons nie besig om die bediening van die publiek met die aftakeling van Afrikaans eerder te verklein as om dit gegewe die grondwetlike oogmerk van die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika, uit te brei nie?

Waar Afrikaanse opgeleide dokters (omdat Afrikaans ook die medium is naas Engels) potensieel 26 miljoen mense kan bedien synde die somtotaal van Afrikaanse en Engelse gebruikers, sal die waarskynlike gevolg wees dat net 13 miljoen mense wat Engels eerstetaal-, tweedetaal-, en derdetaalsprekers is, deur geneeskundiges bereik sal kan word in die toekoms.

Daar is tans agt mediese skole in Suid-Afrika naamlik Kaapstad, Tygerberg (US), Witwatersrand, Pretoria (UP), Bloemfontein (UV), Sefako Makgatho (voorheen Medunsa te Ga-Rankuwa), Mthatha (Oos-Kaap) en KwaZulu-Natal. By drie is voorheen geneeskunde in Afrikaans doseer naamlik by Stellenbosch, Bloemfontein en Pretoria. Die posisie het in die onlangse verlede só verander dat onderrig, as gevolg van die nuwe beleid, slegs in Engels plaasvind en by Stellenbosch tot ʼn mate nog in Afrikaans naas Engels.

Hierdie is een van die mees sprekende voorbeelde van terugwaartse stappe in Suid-Afrika ten spyte van ʼn Grondwet wat ten doel het om meertaligheid te bevorder asook ʼn hoëronderwysbeleidsraamwerk van die minister wat meertaligheid en die behoud en bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal predik. Die onlangse verwikkelinge by universiteite is bewys van die teendeel.

In die uitsprake van die howe tot dusver was die fokus op die taal van keuse ingevolge artikel 29(2) van Grondwet. Weinig oor hoe die verandering van beleid by US, UP en UV die diens aan die publiek sal raak.

Dit kan seker redelikerwys aanvaar word dat waar ʼn Afrikaanse moedertaalspreker reeds op voorgraadse vlak slegs die vaktaal by wyse van byvoorbeeld in geneeskunde in Engels studeer – dan raak die vaktaal die instrument van kommunikasie en leer die persoon ook dink in daardie vaktaal.

Die vakterminologie word die taal waarin die praktisyn sy eie beroep leer verstaan, waarin hy of sy dan met ander kollegas praat en waarin hy/sy hom of haar uitdruk in verslae.

Maar wat word uiteindelik van die kommunikasie met pasiënte? Waarom is taal en kommunikasie so belangrik in die geneeskundige praktyk uit ʼn menseregtelike en grondwetlike perspektief en dus in publieke belang? Die antwoord op die vraag mag voor-die-hand-liggend wees, maar is meer wesenlik.

Krities in mediese praktyk is die konsep van ingeligte toestemming. Die leerstuk van ingeligte toestemming hou direk verband met kommunikasie en is die verhouding tussen dokter en pasiënt gegrond op die sluiting van ʼn ooreenkoms. Die verhouding is verder gefundeer op pasiënt-outonomie, naamlik die pasiënt se reg om self te kan besluit.

Mediese behandeling is slegs regmatig indien die pasiënt behoorlik vooraf ingelig is en daartoe toestem. Dit beteken dat die dokter verplig is om die pasiënt in te lig oor diagnose; om die behandeling wat hy voorstel te verduidelik en om wesenlike risiko’s in die voorgestelde behandeling te verduidelik.

Die pasiënt moet dus in staat gestel word om ingelig te wees oor die wesenlike risiko’s, dit te kan verstaan en ook in staat gestel moet wees om betekenis aan die risiko te kan heg. Kommunikasie met taal is dus kernbelangrik in hierdie professionele verhouding.

Die posisie is reeds uitdagend vanweë historiese redes en die onderontwikkeling van inheemse tale as akademiese tale om effektief met ʼn groot deel van die bevolking te kommunikeer wat nie Engels of Afrikaans (eerste-, tweede- en derdetaalsprekers) magtig is nie. Die aftakeling van Afrikaans verskraal net verder die reikwydte van taal om as instrument van kommunikasie diens aan die publiek te kan lewer.

Dink net prakties oor ʼn paar jaar van nou af … hoe verduidelik ʼn dokter wat net die Engelse terminologie ken aan ʼn Afrikaanse pasiënt wat die Afrikaans vir “adhesions” of ʼn “benign tumor” is? En so kan vele voorbeelde genoem word.

Praat ons nou van grondwetlike vooruitgang of agteruitgang?

  • Albert Lamey is ‘n praktiserende advokaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eish ·

Raakvat artikel.
Mag Akademia spoedig al die professies se opleiding aanbied. Want in staatsinstellings word ons taal vermoor.

JC ·

Baie dankie advokaat, jou artikel word werklik waardeer.
Hou so aan!
#Afrikaans sterk!

Elizabeth ·

Hoor-hoor!!! Kan ons hierdie artikel asseblief as argument teen die PUK se beoogde verandering van taalbeleid aan hulle stuur!

Elizabeth ·

Hoekom moet die publiek ly onder kleinlike politiekery?? Ons is immers die mense wat die geld het en geld praat nou eenmaal (ongelukkig) die hardste.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.