Afrikaans, die taal van liefde

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Deur dr. Elsha Hermann

Ek lees op Maroela Media dat Februarie Moedertaalmaand is. Die maand van liefde is ’n wonderlike maand om ons moedertaal aan te koppel.

Ons hoor dikwels verwarrende sienings oor moedertaalonderrig en wat die voor- en nadele van veeltaligheid is. Die vraag wat ek egter vandag vra: is jou moedertaal vir jou ’n taal van liefde?

Taal is veel meer as net die klanke en woorde wat deur jou mond gevorm word. Taal het ’n dieper inhoud. Taal het gevoel. Taal vorm en taal bind.

’n Pasgebore baba wat vir die eerste keer in sy moeder se arms geplaas word, hoor die woorde, “Ag, maar jy is pragtig,” “Kyk die klein, mooie gesiggie”. Die woorde, stemtoon, gesigsuitdrukking en die liefde in die oë maak alles deel van die moeder se taal aan haar baba. Taal, ja moedertaal, word gebruik, maar die baba verstaan nie die betekenis nie. Al wat die pasgebore kind verstaan is dat hy warm, veilig, knus en geliefd voel. Die taal moet die kind nog leer, maar die taal van die moeder skep binding tussen kind en moeder.

Hierdie band tussen die moeder en die kind moet in die jare wat volg, versterk word en daarvoor het ons verdere taal nodig. Die moeder (of vader) gaan met haar taal vir die kind sing, stories lees en oor al die dinge van die wêreld gesels. Soos die tyd aanstap, gaan die kind die taal verstaan en self begin praat. Die taal gaan mettertyd ontwikkel in ’n taal wat nie net liefde en binding oordra nie, maar ook die taal wat grense stel, opvoed en onderrig. Ja, die kind gaan ander tale hoor, maar geen taal gaan soveel indruk op hom laat soos die moeder se taal nie.

baba-lees-pappa

Foto: Picsea/Unsplash.com

In hierdie taal gaan hy geborgenheid en liefde ervaar of hartseer en vrees.

Watter taal praat jy met jou kind? Is dit ’n taal wat bind, vorm, liefde oordra en die kind leer wie en wat hy is en hom geborge laat voel? Of is dit ’n taal wat die kind identiteitsloos laat, verwar, verneder en die kind wegdryf om op ander plekke die taal van liefde te gaan soek?

Vir Solidariteit Helpende Hand is dit belangrik dat elke kind die taal van liefde, omgee en opbou by sy gesin moet hoor, sodat die kind hierdie taal van liefde weer met ander kan deel. Om hierdie rede word kinders en gesinne bygestaan om hulself te help, sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik en weer aan ander die taal van liefde en binding kan gee.

Word deel van die span wat die taal van liefde praat, word deel van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
petro

Afrikaans is my trots en pomp ritmies in my are. Dit is my sonsopkoms en sonsondergang. Dit is my siel en my vlees. Dit is my gebed, my lied, my lewe.
Afrikaans, my taal!!