Dalk is jy as ouer al radeloos om die kleinspan tydens die verpligte Covid-19-afsondering besig te hou? Dalk wonder hulle al self hoe om vlerke aan hul kreatiwiteit in hierdie tyd te gee? Moenie die kans laat verbyglip om hulle dít te laat doen nie, want dit is weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo.
Dié opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans, bied nou die perfekte tydverdryf. Hulle sal nie net kreatief besig gehou word nie, maar staan ook die kans om lekker pryse vir hulle en hul skool te wen.
Vanjaar se tema is musiek
In 1937 het Afrikaanse musiek sy eerste tree gegee met die bekendstelling van die FAK-Sangbundel. Liedjies oos “Bobbejaan klim die berg”, “Sarie Marais” en “Aanstap rooies” is ou bekende volksliedjies wat al menige male om kampvure gesing is. Drie en tagtig jaar later bars Afrikaanse musiek steeds uit sy nate.
Hier dink ʼn mens aan legendes soos Sonja Herholdt, Anton Goosen, Anneli van Rooyen en Johan Stemmet wat baanbrekerswerk verrig het. Natuurlik is daar ook vandag kunstenaars soos Jak de Priester, Joshua na die Reën, Monique Steyn en Die Heuwels Fantasties wat nuwe geur en klank tot Afrikaanse musiek bring.
Vanselfsprekend dans ons nie net op die akkoorde van ons Afrikaanse kunstenaars nie, maar ons swaai ook kop saam met die instrumente wat musiek maak. Of jy nou van klassieke-, pop-, rock- of selfs countrymusiek hou, moet sekere instrumente gebruik word om daardie ritme te vorm wat jy so graag na luister.
Ons dink ook aan die teater, radio of selfs bekende sepies se kenwysies. Ja, daar is baie musiekboeke, notebalke en akkoorde wat ons toelaat om te bou op bestaande werk, maar ons kan ook musiek maak deur ons hande te klap en voete te stamp. Ons is seker daarvan dat jy sommer op die ritme van vanjaar se tema sal kan baljaar en elke oomblik daarvan sal geniet.
Wie kan deelneem?
Alle gr. 1- tot gr. 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of addisionele taal gebruik of bestudeer word, kan gratis deelneem. Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef met musiek as tema in gedagte.
Dit sluit in dagboekinskrywings, ’n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.
Gr. 1- tot 5-leerders kan deelneem aan skilderkuns en poësie, terwyl alle ander leerders en studente aan al die kategorieë mag deelneem. Jy mag ook in een of meer kategorieë deelneem.
Wat kan jy wen?
Die wenskool ontvang R10 000 en die vier algehele wenners wat die uitblinkers was en die tema die beste beskryf het – of dit nou deur ’n foto, opstel of gedig was – ontvang die wisseltrofee en R2 000 kontant word gegee vir sy of haar skool.
Hoe neem jy deel?
Inskrywings kan op twee maniere ingedien word: Aanlyn by ekspo.fak.org.za of per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria.
Alle inskrywings moet teen 11 Julie 2020 ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
Enige navrae oor die ekspo kan na [email protected] gestuur word.