Afrikaans gaan nog die rekening kry vir dít wat hulle nóú aanvang

Jan Rabie

Dave Pepler (aanbieder van Groen en bekende omgewingskundige) en prof. Abraham H. de Vries (bekroonde Afrikaanse skrywer) se gesprek tydens die US Woordfees oor hul jarelange vriend, Jan Rabie, was ‘n uiters seldsame kykie in dié skrywer se lewe.

Pepler beskryf Rabie as iemand wat ‘n hippy was nog lank voor dié begrip bekend geword het. Volgens De Vries was Rabie “skaamteloos die grootste taalpatriot wat ek ooit meegemaak het”.

Dat Rabie ‘n taalskat agtergelaat het, is nie te versmaai nie. Pepler sê self: “Jan Rabie was ‘n deurlopende kampvegter vir Afrikaans, maar nooit Afrikaans as ‘n verhewe taal nie.”

De Vries onthou een geleentheid waar Rabie – geklee in ‘n lang warm jas in die somer aan iemand opgemerk het: “Drink wyn! Suid-Afrika is ‘n wyn plek, hou op bier drink!” So het Rabie ook glo een dag al langs die strand gestap en die polisie het hom in hegtenis geneem as ‘n verdagte in ‘n moord wat in dié gebied plaasgevind het!

Rabie en sy vrou, Marjorie, het lank in Parys, Frankryk en in Krete, Griekeland tuisgegaan. Hy het glo Frans leer praat deur die eerste dag ‘n Franse koerant en woordeboek aan te skaf. Hy het frase vir frase deur die koerant gelees en binne drie weke was hy Frans tot so mate magtig dat hy dit reeds kon lees. De Vries beskryf hom gepas as ‘n “kulturele wêreldburger”.

Rabie het ‘n sterk sosiale politieke gewete gehad. As een van die Sestigers was hy altyd teen rassisme gekant en het nooit eers die term gebruik nie, aangesien die begrip “ruik” na politiek. Rabie het glo destyds van die regering gesê: “Afrikaans gaan nog die rekening kry vir dít wat hulle nóú aanvang,” en “ons sal nog vir dié kranksinnigheid betaal.”

Rabie se liefde vir die land en die taal was sigbaar in die dinge wat hy elke dag gedoen het. “Swart ekonomiese bemagtiging” het nooit vir hom sin gemaak nie, want “jy kan nie toegee aan apartheid om apartheid uit te roei nie.”

Jan en Marjorie het baie eenvoudig geleef. Marjorie het eenmaal teenoor iemand wat ‘n bad in hul huis op Onrus wou tap, opgemerk: “Daar’s die see, ons bad Kersfees.” Marjorie het ook by geleentheid, toe die koffiesif verstop was, ‘n haarpen uitgetrek, die verstopte gate oopgesteek en die haarpen net so in haar hare teruggedruk. Vir sy troue met Marjorie het Jan glo nie eers ‘n paar skoene besit nie, en moes hy ‘n paar skoene by ene Jan Coetzee leen. Jan het in ‘n stadium ‘n stewige bedraggie geërf wat hy na bewering op ‘n uitverkoping van manspajamas spandeer het! Met sy afsterwe het hulle glo stapels manspajamas in die huis ontdek.

Volgens Pepler bly een aanhaling van Rabie hom by: “Niks wat goed geleef is, gaan ooit verlore nie…”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.