Afrikaans gedy wêreldwyd

taaldag afrikaans

Argieffoto.

Deur Annelise de Vries en Jhua-Nine Wyrley-Birch

Terwyl Afrikaans in Suid-Afrika, die land waar dit met bloedsweet en harde werk ontstaan en ontwikkel het, kwyn en geminag word, wen die taal wêredlwyd al hoe meer veld en harte.

Aan die tuisfront word die posisie van die taal aan verskillende teenstrydighede gekenmerk.

Dr. Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis, skryf dat Afrikaanse boeke tans die markaandeel wen as na die uitgewersbedryf gekyk word. Volgens hom was 49% van alle plaaslike gepubliseerde titels in 2015 in Afrikaans terwyl groot internasionale uitgewers soos Penguin Random House en Oxford óók tot die Afrikaanse mark toegetree het.

Afrikaans gedy ook nie net in dié bedryf nie, maar op verskeie ander forums soos televisie, radio, die kunste, kunstefeeste en die rolprentbedryf.

Aan die ander kant word Afrikaans op amptelike vlak verskraal en in die howe en onderwysinstellings op ʼn strukturele wyse afgetakel en ongeldig verklaar.

Die aantal studente wat vir Afrikaanse vakke by universiteite inskryf, het die afgelope tien jaar landwyd afgeneem. Om twee voorbeelde te noem: By die Universiteit Stellenbosch (US) het 1 303 studente in 2007 Afrikaanse taalverwante vakke op voorgraadse vlak geneem. In 2016 het slegs 345 studente vir dieselfde vakke geregistreer. Hierdie vakke sluit in Afrikaans vir vreemdetaalsprekers, Afrikaans as tweedetaal, Afrikaanse taal- en literatuurstudies en gevorderde studies in Afrikaans.

By die Universiteit van Johannesburg (UJ) stel nog minder studente in Afrikaans belang. In 2007 het 506 studente Afrikaanse vakke geneem, teenoor slegs 58 in 2016.

Dít dui op ʼn gemiddelde afname van 82% oor die afgelope tien jaar in die aantal studente wat Afrikaanse vakke by dié universiteite geneem het.

Wyle prof. Lawrence Schlemmer, bekende sosioloog, het jare gelede gewaarsku dat die grootste gevaar vir Afrikaans is as dit as universiteitstaal moet verswak of verdwyn. Hy het gesê dit sal die ondergang vir Afrikaans as wetenskapstaal, vaktaal, taal van intellektuele omgang en uiteindelik ook as letterkundige taal beteken.

Die voortbestaan van Afrikaans kan dan nie soos sommige akademici en taalkenners aanvoer slegs afhang van sy posisie in die kunste, die uitgewersbedryf en as gesproke taal nie. Die voortbestaan en beskerming daarvan hang ook af van die taal se posisie as hoëfunksietaal, veral in die onderwys en regspleging.

AfriForum-Afrikaans-as-vak-se-wêreldwye-voetspore

Grafika: Verskaf/Forumnuus.co.za

Oor dié troebel stand en status van Afrikaans plaaslik is reeds tot vervelens toe geskryf, gepraat en gedebatteer. Daar is egter ook ʼn positiewe kant aan die saak van Afrikaans waarvan baie min mense tans weet. Afrikaans is lewend in talle ander lande en die gebruik en bestudering daarvan neem wêreldwyd in gewildheid toe.

Uit bostaande grafiek is dit duidelik dat Afrikaans as vak by universiteite in nege Europese lande aangebied word, waaronder Rusland, België, Poland, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Oostenryk, Duitsland en die Verenigde Koningryk. Vyf Amerikaanse universiteite sowel as Suid-Afrika se buurland Namibië bied ook Afrikaans aan.

AfriForum-drie-taalstamme-van-afrikaans

Grafika: Verskaf/Forumnuus.co.za

Dit is nie bloot toevallig dat Afrikaans in Europa, Noord-Amerika en in Afrika aangebied word nie, aangesien Afrikaans wortels in Afrika, Europa en Asië het.

Die vraag kan dan nou tereg gevra word waarom Afrikaans as vak in ander wêrelddele aandag geniet?

Dit kan toegeskryf word aan die feit dat dié taal een van die jongste Germaanse tale ter wêreld is en dat kennis hiervan ʼn individu kulturele insig in Afrika kan gee. Vergelykende studies op die terreine van taal, letterkunde en kultuur word ook daardeur moontlik gemaak.

Afrikaans het binne ʼn rekordtyd hoëfunksiestatus bereik. Dit het binne ʼn kwessie van 25 jaar, nadat dit 92 jaar gelede as amptelike landstaal erken is, die lig aan vier universiteite gesien. Dit is juis om dié rede dat hierdie taal dikwels as gevallestudie gebruik word wanneer navorsing oor taalbeplanning onderneem word.

“Afrikaans is ʼn pragtige en emosionele taal. Dit is baie onregverdig dat dit in Suid-Afrika so onderdruk word,” meen Valentina Kim (22), ʼn Russiese student wat Afrikaans as tweede addisionele taal aan die Lomonosov Moskouse Staatsuniversiteit se instituut vir Asiese en Afrikatale bestudeer.

Sy was een van ses Russiese studente wat AfriForum in Februarie besoek het as deel van ʼn kultuurtoer wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereël is om hul meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

“Afrikaans het vir my die mooiste klankpatrone en uitspraak,” het Alisa Balikhina (22), een van dié studente wat ook in 2015 vir ses maande Afrikaans deur ʼn uitruilprogram aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gestudeer het, gesê.

Sy het tydens haar besoek gesê dat Russiese instansies nie dieselfde druk om te verengels ervaar nie. Sy meen daar is baie potensiaal vir Afrikaans om wêreldwyd te groei.

Talle internasionale akademici is ook ten gunste van Afrikaans en het reeds sentrums vir die studie van Afrikaans op die been gebring om die taal te beskerm en uit te bou.

Een van hulle is prof. Jacques van Keymeulen, ʼn stigterslid van die Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika aan die Gent-universiteit in België. Hy beskryf dié stigting as die toevoeging van waarde tot die groter sigbaarheid van onderwys, navorsing en diens rakende Afrikaans en Suid-Afrika.

Hy glo dat hierdie inisiatief wêreldwyd weerklank sal vind in en buite Suid-Afrika. Vir Van Keymeulen is die uiteindelike bedoeling van die Gentse universiteit om internasionale erkende kundigheid op te bou oor die Afrikaanse taal en letterkunde en die studie van Suid-Afrika.

Volgens prof. Jacques du Plessis, ʼn voormalige dosent in Afrikaans aan die universiteit van Wisconsin en die universiteit van Kalifornië se Los Angeles-kampus (UCLA), was die Amerikaanse studente altyd gaande oor Afrikaanse digkuns en kortverhale.

Soos Van Keymeulen, beywer Du Plessis hom vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale. Een so ʼn voorbeeld is die webtuiste Open Languages wat ten doel het om die beste moontlike Afrikaanse onderrig kosteloos aan die internasionale gemeenskap te bied.

Robert O’Brien, ʼn prominente advokaat van Los Angeles, wat al verskeie top-posisies in die Bush-administrasie beklee het en voorheen bekendes soos die ruimtevaarder Buzz Aldrin se regsverteenwoordiger was, sluit hierby aan en sê dat Afrikaans ʼn ryk en unieke taal is. “Suid-Afrika sal intellektueel ’n armer land wees as daar nie plek vir Afrikaans in sy akademie is nie,” meen hy.

O’Brien was ook destyds een van die top-studente van UCLA wat deur ʼn internasionale beursfonds gekies is om in die tagtigerjare as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.

Dit is hier waar hy kennis gemaak het met Afrikaans en deur die jare het hy steeds sy passie daarvoor behou.

In ʼn onderhoud met vertel O’Brien, wat vandag nog Afrikaans kan praat, dat sy vrou steeds maandeliks kopieë van De Kat en Huisgenoot na Los Angeles laat invoer wat hy kan lees.

Die gebruik van inheemse tale op amptelike vlak kan volgens O’Brien ʼn belaaide politieke kwessie wees en is nie ʼn uitdaging uniek aan Suid-Afrika nie. Sy mening is steeds dat hoe meer tale ʼn mens kan praat, hoe beter jy jouself in die sakewêreld, politiek en diplomatieke sake kan handhaaf.

Al kry Afrikaans op die tuisfront die wind van voor, is daar genoeg bewyse dat die internasionale sfeer Afrikaans se bydra tot die kennis van wêreldtale as belangrik ag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

MCH ·

Afrikaans:
Niks kan my emosie verwoord,
soos die taal wat hul wil dood.
Niks kan my gedagtes peil,
soos die taal van my heil.

Niks kan my die lewe laat leef,
dan die taal van moederskoot gegeef.
Niks kan my, my Skepper laat eer,
dan die taal wat my tong beheer.

Niks kan my roete bepaal,
dan die taal wat altyd in my kop bly maal.
Niks kan my gees opwek,
dan die taal wat oor net 200 jare strek.

Niks kan my bloed laat bruis,
dan die taal wat soos wind in my ore suis.
Niks kan my hartseer stil,
dan die taal so verkul.

Lindie ·

Mooi verwoord MCH kry sommer heimwee so hartseer wat in my binneste kom lê! Dankie.

Hendrik ·

Dankie MCH jy het jou baie goed van jou taak gekwyt om so ‘n mooi Afrikaanse gedig te skryf. In my hoërskooldae het ons eendag die geleentheid gehad om na Professor Anna Neethling-Pohl te luister toe sy besoek aan ons skool gebring het. Sy het absoluut geblom van die afrikaanse gedigte wat sy uit die kop uit kon aanhaal en sy het gesê jy kan alleen in die wêreld wees of in afsondering, maar “Die poësie sal by jou bly…” Ons woon ook tans in Kalifornië maar sal altyd Afrikaans as huistaal gebruik, maar ongelukkig kry ons kind geen amptelike afrikaanse onderrig nie, so ons gaan beslis die “Open languages” webblad gebruik. My Versamelde werke van Langenhoven pryk ook op die boekrak in die studeerkamer, om nie eers te praat van Jan Spies se “Spieserye” en al my Afrikaanse cd.s nie. Afrikaans is uniek en sal soos die Afrikanervolk nie dood nie, net wag vir die reën na die droogte en dan weer blom. Miskien is die Afrikaanse letterkunde die “Klein, klein beiteltjie” waaraan NP VanWyk Louw getik het, want klink, en mooi klink die kan hy!

adriana ·

Baie mooi MCH!!!
Dis net in S A waar dit aan die agterspeen suig maar dit sal weer verander. Daarin glo ek vas. Onheil kan nie vir altyd regeer nie. Daar sal ‘n draai kom.

snoefie ·

in Namibia haal die groter deel van die bevolking onbeskaamd in Afrikaans asem. maar in Suid Afrika probeer al was kunstenaar, akteur, sportmens is, hulle Afrikaansheid ontken en mask hulle kinders Engels groot. dan wil hulle seepkassie nader pluk en skree Afrikaans is groot. sies!

JC ·

Die “opdraandes” waarvan gepraat word, is hoogs van verganklike en tydelike aard.
Afrikaans sal weer hoogdy vier selfs in die staatssektor, omdat die onderliggende rede vir die kamtige venyn daarin/teen, vals is.
Afrikaans is bevonk, en Afrikaans leef!!(soos duidelik gesien kan word)
Die rede waarom daar altyd die “tot vervelens toe” baie artikels oor Afrikaans en sy voortbestaan op tersiere vlak is, is juis a.g.v. die feit dat ons dit so lief, en so besorg daaroor is!!
Soos duidelik gesien kan word in die artikel, kyk na boekverkope IN AFRIKAANS, kyk na Akademia wat nou nie meer net voorwaardelik geregistreer is nie, maar permanent(danksy Afrikaners se moed, wilskrag en die bydrae van gewone Suid-Afrijkaners oor die hele spektrum van Suid-Afrika), en is dit nie verbasend dat buitelanders dit so interessant vind nie, en dat dit ‘n oplewing beleef nie, wan dit bied ‘n unieke en spesiale blik op Suider- Afrika en sy mense.
Afrikaans is ons.

Afrikaanse Knaap ·

My HAT is in die pos.
Al hoe jy Afrikaans kon stuit is deur al die instellings waar dit aangebied word af te brand. En daai is nou gedoen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.