Afrikaans: ‘Het is ons ernst!’

afrikaans

Argieffoto.

Word Afrikaans teruggedwing tot kombuistaal?

Die aankondiging van die Noordwes-Universiteit dat hy fluistertolkdienste op die Potchefstroomse kampus gaan uitfaseer en dit met aparte Afrikaanse en Engelse klasse vervang, moet niemand verbaas nie. Ondanks al die mooi praatjies van die rektor, prof. Dan Kgwadi, en sy woordvoerder, prof. Johannes Froneman, lyk dit na die eerste stap na die totale afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal in Potchefstroom.

Dit pas in ’n breër patroon, en dit kos nie die intelligensie van ’n kernwetenskaplike om dit in te sien nie.

Eerstens val dit saam met ’n breë aanslag teen Afrikaans, plek-plek gelei deur wit Engelssprekendes en entoesiasties gesteun deur enkele wit Afrikaners, maar wat steun op ’n breë massa swart studente. ’n Mens moet nooit veralgemeen nie; daar is genoeg swart studente wat niks teen Afrikaans het en ook nie probleme met die fluistertolkdienste op Potch en Stellenbosch het nie. Tog kon voldoende steun gemonster word dat die ruggrate van die universiteitsowerhede op albei kampusse – wat al klaar nie baie stewig was nie – volledig in jellie verander het.

Dit val ook saam met die offensief wat gelei word deur die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, wat die indruk wek dat hy daarop uit is om Afrikaanse skole in dié provinsie te breek. Van buite kan ’n mens sterk vermoed dat Afrikaans betreklik min met die offensief te make het en dat dit eerder ’n poging is om te keer dat die EFF te veel steun van die ANC wegrokkel, maar dit verminder nie die erns van die saak nie.

’n Tweede aspek van die patroon is dat die hond se stert by wyse van spreke stukkie vir stukkie afgekap word in die verwagting dat hy dit nie sal agterkom nie. Om dit reguit te stel: Elke keer word ons oorval met versekerings dat Afrikaans nie benadeel sal word nie, en elke keer as jy jou oë uitvee, is daar weer ’n stukkie van die taal se ruimte daarmee heen.

Toe prof. Chris Brink begin 2002 as rektor op Stellenbosch oorneem, het hy plegtig beloof dat Afrikaans die “eerste onderrigtaal” sou bly. In ’n toespraak het hy kategories gesê: “Hoe onderskei jy jou eie universiteit van ander universiteite? Wel, ’n baie natuurlike manier waarop ons ons kan onderskei, is deur te sê ‘Ons is dié universiteit wat in Afrikaans klasgee’.”

Hiervandaan is die dubbelmedium-opsie sluipenderwys steeds verder gevoer. Stellenbosch is nou by die punt dat parallelmedium waarskynlik die mins slegte van al die slegte oorblywende opsies is.

Ten derde: Toe ek onlangs in Pretoria was, was ek by ʼn aandete waar ʼn Afrikanervrou, so in haar dertigs, doodluiters sê: “Hoekom moet Afrikaans op universiteit gebruik word? Die ekonomie is immers Engels!”

En: “Ons praat mos Afrikaans tuis. Solank mense tuis Afrikaans praat, sal die taal mos oorleef!”

Ek het byna van my stoel geval van verbasing oor soveel naïwiteit. Die vrou (en sy is nogal teengespreek deur ʼn besoeker uit Nederland) weet klaarblyklik níks van taalsosiologiese studies oor taalverplasing nie.

Kort saamgevat, kom dit hierop neer: As die taal sy hoër funksies verloor – daarmee word bedoel die vlak van die akademie, kuns, handel en owerheid – word dit ook nie meer lonend om die laer funksies (die spreektaal tuis) aan die gang te hou nie.

Dit beteken dat die behoefte aan Afrikaans op skool verminder. Mettertyd word Afrikaans teruggedring na waar hy begin het – ’n kombuistaal onder die arm mense, meestal op die platteland waar hulle minder aan die Engelse oormag blootgestel word.

Afrikaans het reeds heeltemal verdwyn aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit. Aan die Universiteite van Pretoria en Johannesburg is dit op sterwe na dood. Die Vrystaatse rektor, prof. Jonathan Jansen, steek sy weersin in Afrikaans nie onder stoele en banke weg nie en is duidelik daarop uit om die taal op sy kampus heeltemal af te skaf.

Die parallelmedium-praktyk aan die Universiteit van die Vrystaat het sedert 1994 gewys dat dit dié agteruitgang – tydelik – kan stuit. Parallelmedium kan in beginsel werk, mits die leiding die politieke wil het om dit te handhaaf.

Die probleem is dat die aanvanklik goedwillende leiding mettertyd oud word, aftree en vervang word deur ’n polities korrekte figuur wat sy politieke betroubaarheid tasbaar wil bewys deur Afrikaans as slaansak te gebruik. Dis presies wat in Bloemfontein gebeur het.

Ek weet nie in welke mate prof. Wim de Villiers, Stellenbosse rektor, regtig van plan (of in staat) is om sy rug styf te maak nie, maar selfs al wil hy dit doen, wys die geskiedenis dat die invoering van parallelmedium maar ’n stap in die offensief teen die taal is. En al sê Kgwadi ook wát, dis ’n ope vraag of hy sy mooi praatjies oor Afrikaans in die praktyk sal wil of kan bly toepas.

Dalk slaan ek die bal nou volkome mis (ek hoop dit van harte), maar as ’n mens die kreeftegang van die laaste dekade of anderhalf bekyk, is ek geneig om Potchefstroom, Stellenbosch en Bloemfontein vir Afrikaans af te skryf. Ek is bevrees dat al drie kampusse oor enkele jare óf eentalig Engels gaan wees óf dat Afrikaans – om Hermann Giliomee se beeld te gebruik – slegs as versiersuiker sal fungeer.

Waar laat dit Afrikaans en sy gebruikers? Moet ons, soos die vrou in Pretoria, dan maar ons skouers ophaal en sê só is nou eenmaal die praktyk – lê jou maar daarby neer?

Nee, daar ís ’n uitweg. Dis ’n bitter moeilike een, wat baie sweet en trane gaan verg, een wat uit die diepste vindingryke kern van die Afrikaners en hul bruin taalgenote te voorskyn gehaal sal moet word.

Kan dit wees dat daardie uitweg se naam Akademia, Solidariteit se private Afrikaanse universiteit is? Ek verstaan dat Akademia goed op gang begin kom. Die onderrigaanbod is nog nie so groot soos op gevestigde universiteite nie, maar dis vermoedelik op pad.

Ek hoop vurig dat ek verkeerd is, maar dis nie onmoontlik nie dat Akademia binne 10 jaar die enigste Afrikaanse universiteit sal wees.

Meer as ’n eeu gelede het Onze Jan Hofmeyr oor die taal gevra: “Is ’t ons ernst?” Waarop Gustav Preller geantwoord het: “Laat ’t ons toch ernst wezen!” En dr. DF Malan het die gesprek afgesluit met ’n dawerende: “Het is ons ernst!”

Laat dit ook óns erns met ons taal wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Bruno Stef ·

Wat my siek maak van bekommernis is dat ek met n Afrikaner ouer vanoggend gesels het wat se seun n Bsc graad op NWU bekom het in Elektrotegniese Ingeneurswese en verder n Honneursgraad bekom het wat sukkel om werk te kry.Ons plaaslike Munisipaleteit se Elektriese Afdeling word bestuur deur ongekwalifiseerde persone wat nie eers n vakmanskap as Elektrisien voltooi het nie en waar die hele sisteem so verwaarloos is dat ons op genade nog steeds krag het.Ek kan met gesag praat want ek was jare lank self Elektries in n bestuurspos tot en met my aftrede .

Gemsbok ·

Kontak Orania. Jou seun sal dalk nie ‘n reuse salaris aldaar kan verdien nie, maar ten minste kan hy ‘n jaar of twee se ervaring opdoen wat hom baie aantrekliker sal maak vir werkgewers in die private sektor die buiteland. Hulle is juis besig met groot opgraderings aan elektriese infrastruktuur en die diens van nuwe erwe.

Reinhardt ·

Ek het siviele ingenieurswese geswot en in 2011 graad gevang. Ek kan met versekering sê dat dit maklik is om werk te kry indien jy ingenieurswese gestudeer het. As daardie person sukkel om werk te kry is dit nie omdat daar nie werk is nie, dis omdat hy ‘n groter salaris soek. Wat glad nie onredelik is nie. Hy moet net bereid wees om na die stede te trek, daar is baie werk.

Josef du Toit ·

“Elke keer word ons oorval met versekerings dat Afrikaans nie benadeel sal word nie, en elke keer as jy jou oë uitvee, is daar weer ‘n stukkie van die taal se ruimte daarmee heen.”

Die uitputtingsoorlog teen die Boere-Afrikaner (insluitende sy taal) in veral eie geledere het sekerlik sy grootste intensiteit onder die destydse De Klerk-regering beleef. Al die doemvoorspellings van die regtervleuel is goedsmoeds van die tafel gevee met grootdoenerige beloftes wat een-een verbreek is. Dat vele ja-stemmers uit die 1992-referendum, deesdae uit die slaap ontwaak, is verblydend, maar so nutteloos soos mosterd na die maal.

André ·

Ek sien Akademia as enigste alternatief vir volhoubare Afrikaanse universiteitsopleiding. Hoe help ek?

Reinhardt ·

Ek is dalk ‘n optimis, maar Stellenbosch sal nooit Afrikaans afstaan nie. Ek praat onder korreksie, maar meeste van die professors en lektore is Afrikaans en hulle sal veg daarvoor. Asook die duisende alumni wat almal Afrikaners en trotse Maties is.

Gemsbok ·

Oor die korttermyn bied private instellings soos Akademia die beste oplossing. Waar Akademia se aanbieding tans beperk is tot bestuurswetenskappe, is daar ook ander private instellings soos AROS wat ‘n onderwysgraad aanbied en die AP Akademie wat grade in sielkunde, teologie en wysbegeerte aanbied.

Soos ons egter reeds met die onderwysministers en media se bohaai oor Akadamia en die Curro-skool gesien het, bly privaat instellings wat uitgelewer is aan vyandige regerings kwesbaar, veral waar hulle hulself in gebiede bevind waarin hul teikenmark (Afrikaners en of Afrikaanse sprekers) ‘n absolute minderheid vorm.

Vir Afrikaans om volhoubaar te wees, sal Afrikaanssprekendes hul politieke spierkrag moet saamgooi en bult in die streke waar Afrikaans deur die meerderheid gebesig word.

Die Noord-Kaap en Wes-Kaap se Afrikaanse bevolkings moet saamwerk om hul provinsiale regerings aan te stel op sterkte van hul bereidwilligheid om Afrikaans as voorkeurtaal vir die provinsie se hoër funksies te bemagtig en te bevorder.

Charl Coetzee ·

DIe afgelope paar jaar is Afrikaans uitverkoop deur ‘n paar ruggraatlose Afrikaners. Maar saam met jou taal verkoop jy ook jou kultuur. Dus, die wat nie Afrikaans wil wees nie moet amptelik bedank as Afrikaner.

Engels is vir almal
Afrikaans is vir esklusief

Piet ·

Hoe bedank mens uit jou ras? Dit is ‘n verbeeldingryke verskynsel wat net onder Afrikaners bestaan. As jy bydra tot die afname van jou taal en kultuur en jy is nie Afrikaner, bly jy ‘n Afrikaner. Jy kan bedink nie, dit is nie ‘n pos wat jy beklee nie. Jy is wel ‘n veragtelike pateet, ‘n lafaard en ‘n verraaier. Ek dink dit is ‘n slegter bordjie om om jou nek te dra as om ‘n verbeeldingryke “bedanking” uit jou ras te maak.

Piet ·

*ekskuus: As jy bydra tot die afname van jou taal en kultuur en jy is ‘n Afrikaner…

Loeis ·

Solank as wat afsonderlike klasse vir Afrikaans en Engels wel in stand gehou word, is dit regtig nie ‘n probleem nie.

Ek het self vier jaar voltyds by die Universiteit van Pretoria gestudeer en het met enkele uitsonderings al my klasse in Afrikaans gehad. Handboekke wat slges in Engels beskikbaar was, het dikwels meer gepla.

‘n Ander voordeel van klasse in beide Afrikaans en Engels is dat hulle saam loop. Indien jy om die een of ander rede dan jou Afrikaanse klas mis, kan jy in ‘n ander tydslot daardie selfde klas in Engels gaan bywoon (of andersom).

Dit kan 100% werk solank as wat beide tale gerespekteer word. Dit is die uitdaging.

Stephanie van Niekerk ·

Ek bedryf al vanaf 1991 die enigste Method- dramaskool in Suid-Afrika. Omdat die private, eenmanskooltjie in Pretoria is, is meeste van my studente Afrikaans. Ek weier nou al jare lank om, teen groot teenstand in, net in Engels klas te gee. Die klasse word in beide Afrikaans en Engels aangebied, albei tale word gepraat en voornemende studente, van watter ras ookal, moet toetse in beide tale aflê voor ek hulle aanvaar. As hulle nie op Graad 12 toets nie (Afrikaans en/of Engels), moet hulle ‘n jaar lank by ‘n lektrise van my keuse bykomende klasse loop om tot op Graad 12 vlak te kom. Ek het al mense van Engeland, Australië, Poland en Bulgarye onderrig – en hulle was bereid om te doen wat ek vereis om hierdie spesifieke opleiding te ondergaan. Ek kry dikwels nare aanmerkings hieroor, word as rassis uitgekryt, met die regering gedreig, ens. Ek staan egter vas, maar bekommer my tog dat die dag gaan aanbreek dat ek sal moet toemaak omdat die universiteite nie meer vir Afrikaans baklei nie en my argumente vir moedertaalonderrig geen staanplek meer sal hê nie. As Akademia ooit eendag ‘n dramadepartement stig, sal ek graag vir ‘n pos wil aansoek doen!

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Leopold, jou inligting is verkeerd. Die NWU het geen besluit geneem om tolkdienste uit te faseer nie. Inteendeel. Wel is besluit om groot klasse (wat buitendien opgedeel moet word) parallel in Afrikaans en Engels aan te bied. Besonderhede sal deur die kampusrektor, prof. Herman van Schalkwyk, uitgespel word. Kontak ook gerus mnr. Johan Blaauw by die Taaldirektoraat vir meer inligting. Afrikaans het steeds ‘n belangrike plek op die Potchkampus van die NWU.

Leopold Scholtz ·

Johannes, waarom het jy die duidelike berigte in Beeld en Rapport dan nie reggestel nie?

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Omdat daardie berigte nie gesê het tolkdienste word uitgefaseer nie. Wel word dit weggeneem waar klasse apart in Afrikaans en Engels aangebied word en die behoefte daaraan wegval.

Dirk Bosman ·

Prof. Johannes Froneman ek wag met spanning op u antwoord op Leopold Scholz se raakvat opmerking dat u geen woord gerep het op die Afrikaanse nuusblaaie se berig oor die uitfassering van tolkdienste nie.Wou u eers vasstel of die kreef gewoond word aan die kookwater?

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Dirk, ek vertrou jy het my antwoord gesien. Tolkdienste word nie uitgefaseer nie.

Bruno Stef ·

Dit is n fyn balanseer toertjie wat jy meer besig is om te probeer om gemoedere te kalmeer,Ek sal voorstel skenk meer aandag aan die oorgrote meerderheid studente se behoeftes en tree op teen die openlike rassistiese uitsprake en sker aanval teen die betalende studente en hulle ouers.Dit is laakbaar dat n drukgroepie van 50 julle volle aandag kry en aan hulle vereistes voldoen word ten koste van die meerderheid studente.Wat jy besig is om te doen is duidelik jy beweeg stelselmatig vorentoe sodat in jou denke niemand gaan agterkom wat julle werklike doel is nie.Dit gaan nie werk nie julle word fyn dopgehou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.