Afrikaans is #onmisbaar!

(Foto’s verskaf deur Afrikaans.com)

Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy emosioneel tuis voel en getuig van jou kulturele hartklop.

Veldtog Afrikaans (wat die mooi, lekker, egtheid en eiesoortigheid van Afrikaans vier en uitbou) plaas die kollig op dit wat Afrikaans vir al sy sprekers onmisbaar maak. Daardie eienskappe van my taal wat dit vir my moontlik maak om my gedagtes te verwoord, om konsepte te verstaan sodat ek dit kan toepas, wat my deel maak van ‘n spesifieke taalgemeenskap.

Afrikaans behoort aan elke Afrikaanssprekende en juis vanweë die diverse samestelling van die mense van hierdie land, is hierdie taal ‘n skatkis van kulture, variante en dialekte. Wat duidelik is uit die deelname van die vorige veldtogte, is dat mense al hoe meer bewus word van die waarde van hul taal.

Afrikaans.com bou voort op die #onmisbaar-tema, en vra nou meer spesifiek dat mense sal nadink oor die waarde van die taal vir hulle. Milanie Vosloo, projekbestuurder van Veldtog Afrikaans sê: “Hierdie kontemporêre veldtog sal jou opnuut opgewonde en trots maak op jou taal. Nege mense uit alle vlakke, beroepe en kulture vertel hoe taal aan hulle identiteit gee, wat die waarde van Afrikaans vir hulle is en hoe hulle hierdie besondere taal geniet. Hulle verwys veral na die opvoedkundige, ekonomiese en kulturele waarde van Afrikaans. Soos reeds uit ons vorige veldtogte duidelik was, is taal meer as die woorde wat ons praat. Dis ons wortels én ons vlerke: daarom onlosmaaklik deel van ons identiteit.”

Neem deel en gee jóú taal ‘n stem

Oor die volgende paar weke sal jy op sosiale media hoor en sien hoe Afrikaans se ambassadeurs en beskermhere en -vroue daad by die woord voeg en hierdie vraag beantwoord.

Neem deel op Facebook en Instagram met die hutsmerk #onmisbaar en laat weet ons: “Wat maak jóú taal vir jóú spesiaal?”

Op Afrikaans.com val die lig op die groot verskeidenheid binne ons vriendelike, hartlike taalfamilie – van Griekwa-Afrikaans tot Kaaps, skryf en -streektaal … ook praattaal. Hier kan jy die oorsprong en die wye landskap van Afrikaans leer ken en ontdek. Verryk jouself op Afrikaans.com waar jy jou kennis oor jou taal kan uitbrei.

Meer oor Veldtog Afrikaans

Die veldtog is gebou op vier pilare:

  • Die webwerf Afrikaans.com waar die publiek alles oor die Afrikaanse leefwêreld kan vind.
  • Die bewusmaking van Afrikaanse organisasies en die uitlig van positiewe Afrikaanse projekte deur groter samewerking en koördinering.
  • Die uitbou van Afrikaanse gemeenskappe op sosiale media, deur ons ambassadeursnetwerk en ons muurprojekte waar ons mure by skole verf om kinders in Afrikaans te inspireer om trots te wees op wie en wat hulle is.
  • Mediaveldtogte – om die publiek net weer bewus te maak van die waarde, nut en lekkerte van die taal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.