‘Afrikaans is ook die taal van die onderdrukte’

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

“Afrikaans is die taal van die onderdrukker, maar dit is ook die taal van die onderdrukte en word tans ook self onder druk,” sê die sanger Chris Chameleon.

Hy het onderwysers Vrydag, tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jaarlikse onderwyserskongres by die Laerskool Durbanville in Kaapstad, toegespreek oor sy liefde vir Afrikaans. Dié kongres is deur 165 onderwysers van amper 50 skole bygewoon.

Chameleon het die oorsprong van tale en in besonder die oorsprong van Afrikaans uiteengesit en verduidelik waarom dit belangrik is om die taal te bewaar. “Taal is geskiedenis. Dit stel ons in staat om geskiedenis te verwoord. Dit is Wetenskap en Wiskunde. Dit is ’n belangrike deel van ons menswees.”

Chameleon het uitgewys dat Afrikaans die taal van die onderdrukte is, omdat dit aanvanklik deur slawe aan die Kaapkolonie gepraat is. “Dit is belangrik dat ’n mens hierdie perspektief kry wat ons in staat stel om onsself (die sogenaamde onderdrukker) vry te maak.”

Hy het bygevoeg as Afrikaanse persoon voel hy dat sy taal onderdruk word. “Afrikaans is ’n redelike eenvoudige taal, maar dit maak nie die taal dom nie. Dit maak dit baie meer briljant. Vir Afrikaans om te oorleef, is dit nodig om dit in tersiêre instellings te gebruik.”

Hy het ’n beroep gedoen op Afrikaanssprekendes om dadelik in te spring en die taal te red. “As ons wag tot môre gaan dit te laat wees en dan gaan ons spyt wees. Elke taal is ’n persoonlikheid en wanneer jy daai taal wegneem vereng jy die menslike persoonlikheid.”

Hy het ook gepleit dat sprekers die taal uitbrei en uitbou en dat die lewering van Afrikaanse produkte moet uitbrei, omdat die taal baie potensiaal inhou. “Onderwysers het ook ’n geweldige invloedryke posisie wat die Afrikaanse taal betref. Hul passie vir die taal kan jongmense beïnvloed om ook ’n bydrae tot die uitbou van die taal te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hans Richardt ·

Nou wonder ek of Chris Chameleon ook sy geld sit waar sy mond is, in die media? Vele saampraters, maar nie vele saamdoeners nie.

Marius ·

N mens kan die werking en beginsels van n bom in engels beskryf maar die ontploffing en nagevolge in afrikaans. Dis n kragtige taal en moet verseker bewaar word deur die wat dit praat.

Charles ·

Verkeerd, die werkinge en onderliggende beginsels van ‘n bom kan BETER in Afrikaans as Engels beskryf word, EN OOK WAT BETREF DIE NAGEVOLGE EN ONTPLOFFING.
Afrikaans is uiters geskik daarvoor- Akademiese taal par excellence!
AFR 2 – ENG 0!

Hans Richardt ·

Selfbeskikking vs Staatsbeskikking?
Moslems en Jode in SA het selfbeskikking oor hul onderwysinstellings en geen media huis maak enige ophef daaroor. Wanneer ‘n kollektief wit Afrikaners selfbeskikking doen om hul eie taal en Calvinistiese kultuur te bevorder, onafhanklik van die staat, word dit as teruggryp na apartheid deur media voorgehou. Beide islam en jode is minderheidsgroepe in SA, wat Engels as skooltaal gebruik, maar leerders uitsluit opgrond van lidmaatskap van geloof en afkoms. My vraag is, waarom word spesifiek Afrikaans deur regering en media geteiken met geforseerde etniese amalgamasie beleid van Staatsbeskikking?

piet piet ·

Plaas druk op die regering om die finansieele diskriminasie teen minderhede op te hef ,dit is omgekeerde apartheid en na 25 jaar is dit redelik genoeg.

Charles ·

Baie dankie Chris, ons maak so!

Afrikaanse skole vir Afrikaners en Afrikaanses, of dit gaan ten gronde en verengels wanneer dit tweetalig word- EN DIT IS ‘N FEIT!

Afrikaans – die grootste wonderwerk van die ganse wêreld!

Stem Saam ·

Afrikaans word op verskeie maniere onderdruk, en dit raak erger. Maak Afrikaanse skole oop vir Afrikaans sprekendes. Maak Universiteite en Kolleges oop vir Afrikaans sprekendes. As die Jode en Grieke en ander volke in Suid-Afrika hulle eie skole kan hê, kan die Afrikaans sprekende dit ook hê. Die politieke bedeling is vyandig teenoor Afrikaans, en sal in die toekoms net nog meer vyandig raak. Ondersteun Afrikaans sprekende besighede en kerke, en Afrikaanse organisasies. Die Afrikaanse taal is niemand se vyand nie. As jy bedreig voel deur Afrikaans, ken jy nie die werklike geskiedenis rondom die ontstaan van die taal nie. Die wat so anti-Afrikaans is, kan gerus ‘n bietjie hulle huiswerk doen, oor die taal wat miljoene praat die land deur, en oorsee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.