“Afrikaans – my TROTS” in ’n neutedop

Taalboek_voorbladFINAALKraal Uitgewers wil graag saam met die jeug van 2014 hul liefde vir Afrikaans betuig as deel van die viering van Afrikaans as skooltaal en die bekendstelling van ʼn nuwe publikasie, “Ons gaan ʼn taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare”, deur Jaap Steyn.

Hoewel baie uitdagings Afrikaans tans in die gesig staar, is daar rede om vanjaar fees te vier, aangesien 2014 die 100ste jaar van Afrikaans as skooltaal gedenk. Wetgewing, met Langenhoven as prominente dryfkrag daaragter, is in 1914 ingevoer wat Afrikaans amptelik as skooltaal gevestig het.

Ons hoop om minstens 100 videogrepe, met positiewe boodskappe oor Afrikaans deur Afrikaanse leerlinge, in te samel en in ’n tydkapsule aan die Afrikaanse Taalmuseum te skenk sodat die boodskappe van die Afrikaanse jeug vir die toekoms behoue kan bly.

Kraal Uitgewers, die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging, sal binnekort dié publikasie deur Steyn bekend stel. Die boek is ’n standaardwerk oor die onstaan en ontwikkeling van Afrikaans en vertel die verhaal van Afrikaans se nederige begin as “kombuistaal” en volg die groei daarvan tot by vandag se trotse taalbakens – soos kykNET, LitNet, die gesonde Afrikaanse musiek- en rolprentbedryf sowel as letterkunde van wêreldstandaard.

Hoe neem jy deel?

  1. Neem ’n kort videogreep van ’n maksimum van 60 sekondes van jouself (of laat ’n vriend/vriendin jou afneem).
  2. Stuur jou video op een van die volgende maniere aan Kraal Uitgewers:
    • Via WhatsApp (na 079 874 2024);
    • via SMS (na 079 874 2024);
    • via e-pos (na [email protected]);
    • deur Kraal se webwerf  en volg die instruksies om die videogreep op te laai.

Boodskappe kan ook deur webblaaie soos Dropbox opgelaai word. Stuur bloot die skakel waar die video afgelaai kan word na [email protected].

Wat moet die videogreep bevat?

  1. Stel jouself bekend. Sluit jou naam, van, ouderdom, naam van jou skool en jou graad in, byvoorbeeld: “My naam is Katinka Heyns. Ek is 15 jaar oud en in graad 9 by die Hoërskool Vredefort.”
  2. Neem dan jou boodskap oor Afrikaans op. Wat maak jou opgewonde oor die taal? Wat doen jy alles in Afrikaans? Hoekom is jy lief vir Afrikaans?

Wen, wen, wen!
Na afloop van die projek sal ’n paneel beoordelaars die beste en mees inspirerende videogreep kies. Die wenner ontvang ’n boekegeskenkpak van Kraal Uitgewers ter waarde van R1 000. Die geskenkpak bevat ’n getekende eksemplaar van die nuutste Kraal-publikasie “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare.

Belangrike datums
Die projek begin op 1 Augustus 2014 en video’s moet ons asseblief nie later nie as 10 September 2014 bereik. Die wenner sal op 17 September aangekondig word, waarna dié video, en 99 ander video’s, op Erfenisdag (24 September 2014) aan die Taalmuseum in die Paarl geskenk sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

"Huh!" ·

Sjoe, ek is beïndruk! Reeds omdat die artikel oor Afrikaans gaan, het ek baie nou-gelet op spel- en taalfoute, en kon in die hele artikel slegs drie komma’s mis. Wel gedaan!

T.o.v. die kompetiesie wil ek net sê: wyse besluit om dit video-grepe te maak, want bittermin kinders kan vandag spel. Dit is ‘n groot bron van kommer. Hierdie mooi taal van ons is verkrag en op ‘n ashoop gegooi, en as mens iemand wil reghelp, dan kry die ego’s sò seer, dat mens maar eerder los.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.