Afrikaans oor die nuwe eter

Foto verskaf deur VivA

Virtuele Instituut vir Afrikaans: Simposium, 14 November 2017

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op 14 November 2017 ʼn simposium aangebied oor Afrikaans oor die nuwe eter waarin daar besin is oor die posisie, rol en moontlikhede van en vir Afrikaans in die uitsaaiwêreld.

Interessant is dat “eter” heelwat navrae van gebruikers en voornemende simposiumgangers ontlok het. Die woord het natuurlik meer as een betekenis (dit kan ook verwys na iemand wat eet of na die chemiese stof waarmee kroeks in ou films hulle slagoffers tydelik buite aksie gestel het), maar ons het hier te make met die betekenis wat soos volg in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is: hipotetiese, onwaarneembare medium wat orals teenwoordig is, selfs in absolute vakuum, en alles deurdring, oorspronklik in die fisika ingevoer om kragte soos dié tussen ladings op ‘n afstand van mekaar te verklaar en om as draer te dien van die elektromagnetiese golwe, net soos lug die draer is van geluidgolwe en dan ook (in die besonder) dié medium, beskou as die draer van radiogolwe. Dit is, volgens einste woordeboek, ook [i]n die antieke kosmologie, vermeende vyfde element wat die lugruim bo die maan sou gevul het; ʼn hoër vorm van vuur waaruit die son en die sterre saamgestel was, of van lug wat deur die gode ingeasem is.

Ons bevind ons dus so ʼn bietjie tussen die sterre, in ʼn magiese, mitiese goderyk waar enigiets moontlik is.

Die simposium self was egter vir die gewone sterflinge wat Radiopark toe gery het om dit by te woon, ʼn heel vermaaklike, menslike en insiggewende byeenkoms. Die eerste sessie het gehandel oor die huidige stand van sake in die tradisionele uitsaaiomgewing: radio en televisie, wat ons almal ken. Die bespreking is gelei deur RSG se stasiebestuurder, Magdaleen Kruger. Die ander paneellede was Rian Cloete wat die Namibiese uitsaaier, NBC, verteenwoordig het, Suléne Pilon van die UP wat in haar hoedanigheid as Taalkommissielid kommentaar gelewer het, Daniëlla van Heerden van eNuus, en Dawid van Lill, ʼn vryskutter met dekades se ervaring in die uitsaaibedryf en ʼn parate woordeskat wat ʼn mens na ʼn bandopnemer wil laat gryp.

Foto verskaf deur VivA

So ʼn paar interessante opmerkings oor Radioafrikaans is by dié sessie gemaak: Dit is duidelik dat Afrikaans in die uitsaaiomgewing besig is om te verander. Baie faktore het hiertoe gelei, waarvan die belangrikste is dat die taal self verander het. Dit is natuurlik die geval vir enige lewende taal; ʼn taal bly net stagnant omdat hy dood is. Verandering is die teken van lewe. Maar uitsaaiers is ook bewus van die veranderende behoeftes van luisteraars en van die verskuiwende rol van uitsaaiers.

Vroeërjare is daar sterk klem gelê op die opvoedkundige rol wat ʼn radiostasie speel, veral tydens die nuusuitsendings. Dit was gebiedend noodsaaklik dat uitspraak en sinskonstruksie net so akkuraat as die nuusdekking moes wees, want dit was die taak van die uitsaaier om die volk “op te voed”. Deesdae weet die uitsaaiers die volk is “opgevoed” en wil inligting en vermaak hê in ʼn gemaklike, verstaanbare, toeganklike Afrikaans wat met hulle harte eerder as hulle koppe praat. Dit beteken glad nie dat Afrikaans slordig of verarm aangebied moet word nie – Dawid van Lill en Rian Cloete het trouens ernstig gepleit vir die verruiming van omroepers en luisteraars se woordeskat sodat die volle reikwydte van die taal in programme benut kan word. Daniëlla van Heerden het op haar beurt daarop gewys dat eNuus gewoon as gevolg van finansiële oorwegings Afrikaanse nuus begin aanbied het – hulle het besef hulle verloor kykers as hulle dit nie doen nie. Afrikaans praat dus ook met beursies.

Die tweede sessie het gehandel oor die nuwe moontlikhede vir Afrikaans wat met veranderende tegnologie en die nietradisionele uitsaaiomgewing saamhang. Bouwer Bosch het as gespreksleier opgetree en ʼn lewendige bespreking oor Afrikaans op die internet aan die gang gesit. Gareth Cliff, van die bekende en kommersieel suksesvolle CliffCentral, het so ʼn bietjie gesels oor die verpakking van inhoud vir so ʼn podsendingreeks, maar ook mooi woorde te sê gehad vir die moontlikhede wat daar spesifiek vir Afrikaans in hierdie omgewing bestaan. Willem Welsyn, wat sy eie podsendingreeks “uit sy garage” bedryf, en Johrné van Huyssteen van Die GROOT Ontbyt het gesels oor hulle unieke skakeling met nisluisteraars, en Francois Retief van iono.fm het die moontlikhede uiteengesit van die platform wat hy bestuur. Die enigste gevolgtrekking wat ʼn mens uit hierdie sessie kon maak, is dat Afrikaans ʼn wonderlike geleentheid het om hier te woeker en luisteraars op elke uithoek van die wêreld te bereik.

VivA het natuurlik reeds sy eie podsendingreekse geskep. Die een reeks handel oor die nuwe AWS en die ander is ʼn joernaalkanaal waar ons blogs en ander interessante brokkies voorgelees word. Teken hier in op die podsendings. As jy sukkel om dit te doen, het ons ʼn blitsgids opgestel om jou te help. Dit is hier beskikbaar.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Kiepie ·

Iets vang my oog in die berig: “Gareth Cliff……het ook mooi woorde te sê gehad oor die moontlikhede wat daar spesifiek vir Afrikaans in hierdie omgewing bestaan”. Hy sien seker ‘n geleendheid om geld te maak want in sy dae as omroeper by 5FM het hy min goeie dinge te sê gehad oor Afrikaans en Afrikaners in die algemeen.

Johan Smit ·

Die opmerking; ‘n Taal wat stagnant is, is dood, net die volgende. ‘n Taal wat verander tenkoste van hom self is – selfdood. Om ‘n taal te verander om meer engelse woorde op te neem, pleeg dus selfmoord. ‘n Vindingryke volk se taal sal altyd groei. Moet tog nie dat “stage” en “show” en “awesome” ens. ons taal vermoor nie.

Gerd Lourens ·

Johan. Stem 100% saam met jou.

Die omroepers, akteurs, sangers en predikers vermorsel ons mooi taal!!!

alwyn burger ·

In sy genesis het n taal sonder reëls , spontaan en pragmaties in sy gebruiker se mond ontstaan. ñ Taal is ñ lewende ding…groei “non stop”.Daar is net een reël : dit moet spontaan wees

Basson ·

Hoe meer Afrikaans onderdruk word, hoe meer blom die inisiatiewe en innovering!

Geluk :)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.