Afrikaans op universiteit verongeluk nie nasiebou nie!

biblioteek-universiteit-boeke-boekrakke-kennis

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur prof. Elirea Bornman

In diskoerse oor onderrigtaal by instellings vir hoër onderwys word dikwels aangevoer dat die aanbieding van klasse in Afrikaans interaksie tussen studente van verskillende rassegroepe in die wiele ry en gevolglik nasiebou en die bevordering van eenheid en goeie tussengroepverhoudinge teenwerk.

Navorsing wat deur ʼn span navorsers by Unisa gedoen is, dui egter op die teendeel.

Die kwessie van afsonderlike klasse vir verskillende taalgroepe is wel nie by Unisa ʼn kwessie nie, omdat dié universiteit slegs afstandsonderrig aanbied. Nogtans het ons bevind dat studente wat in Afrikaans studeer – in teenstelling met dié wat in Engels studeer – nie slegs sterker met hulle eie etniese en rassegroep identifiseer nie, maar ook sterker identifiseer met Suid-Afrika as ʼn land asook met die Reënboognasie (wat Suid-Afrikaners van ander groepe insluit) en die Afrika-kontinent.

Dit wil voorkom of studente wat in Afrikaans studeer, nie slegs sterker bande met hulle eie groep (Afrikaners of bruin mense) het nie, maar ook sterker in die Suid-Afrikaanse en in Afrika-konteks gewortel is. Boonop het beduidend minder van hierdie studente dit oorweeg te emigreer.

Meer nog, ons het ook bevind dat studente wat in Afrikaans gestudeer het, sterker met die universiteit geïdentifiseer en meer tuis gevoel het en hulle as deel van die Unisa-gemeenskap beskou het. Hulle het ook in ʼn groter mate die gevoel gehad dat hulle vir Unisa belangrik is en dat die universiteit moeite doen om hulle te akkommodeer. Hierdie is ʼn belangrike bevinding, aangesien die meeste universiteite sterk leun op oud-studente om die universiteit op verskillende maniere – maar veral ook finansieel – te ondersteun.  Identifisering met die universiteit speel ʼn belangrike rol in hierdie verband.

Terwyl universiteite in die huidige globale bestel dikwels as kultuur- en identiteitlose instellings voorgehou word, wil dit voorkom of taal en kultuur ʼn belangrike rol speel om ʼn band tussen studente en die universiteit te vestig. As so ʼn band eers gevorm het, sal mense ook nadat hulle afgestudeer het, trots wees om te sê: ek is ʼn Unisa-student; ek is ʼn (oud)-Matie; of ek is ʼn (oud)-Tukkie. Teorie hou voor dat wanneer so ʼn band eers gevorm het, mense geneig is om in hulle latere lewe positief teenoor die universiteit te wees, op allerhande maniere by die universiteit betrokke te bly en ook finansiële ondersteuning te gee.

Moedertaalonderrig – en gevolglik ook onderrig in Afrikaans – speel egter nie slegs ʼn rol in identiteitsvorming nie. Die studie het ook aan die lig gebring dat dit aan studente ʼn belangrike voorsprong bied. Studente het die voordele op verskeie vlakke ervaar. Hulle het byvoorbeeld genoem dat studie in Afrikaans ʼn diepgaande begrip van die leermateriaal – en gevolglik minder “papegaaikennis” – bevorder. Hulle kon ook die tyd tot hulle beskikking beter benut, omdat hulle nie alleen die werk vinniger begryp het nie, maar ook nie gedurigdeur woorde wat hulle nie verstaan nie, in die woordeboek moes naslaan nie.

Hierdie bevindings weerlê bewerings dat Afrikaanssprekende studente se Engels oor die algemeen so goed is dat hulle net so wel in Engels kan studeer. Die feit is dat akademiese taal van gewone spreektaal verskil. Dit is deurspek met moeilike konsepte en begrippe wat nie deel vorm van die gewone woordeskat van deursneë tweedetaalsprekers nie. Die gevolg is dat studente voortdurend woordeboeke moet gebruik om te probeer verstaan wat hulle leer.

Die studente het verder aangedui dat hulle makliker oor die leermateriaal kan kommunikeer wat hulle veral in eksamensituasies gehelp het. Hulle het dan ook ervaar dat hulle beter presteer in vakke waar hulle in Afrikaans kon studeer. Soos wat ook in teorie oor moedertaalonderrig uitgelig word, was dit ook vir hulle maklik om in Engels oor die leerinhoud te kommunikeer wanneer hulle die begrippe in Afrikaans baasgeraak het.

Die navorsing het verder aangetoon dat die idee dat die wêreld van werk vandag oorwegend Engels is en dat dit gevolglik beter is om eerder in Engels te studeer, ook nie water hou nie. Baie studente – veral regstudente – het aangetoon dat die feit dat hulle in Afrikaans studeer, hulle help om hulle Afrikaanssprekende kliënte beter te bedien. Anders as wat dikwels geglo word, het sommige studente ook aangedui dat hulle werksmilieu hoofsaaklik Afrikaans is.

Ons het ook aan studente wat in Engels gestudeer het, gevra wat die redes vir hierdie keuse was. Dit het geblyk dat die feit dat universiteitshandboeke meestal Engels is, ʼn belangrike rol in hierdie verband speel. ʼn Verdere belangrike faktor is die idee dat Engels die taal van die Westerse wêreld en/of die taal van globalisering is. Europese kenners tipeer sodanige idees as globalisme wat hulle as ʼn ideologie bestempel. Hierdie opvattings egter net eenvoudig nie waar nie. Enige iemand wat al verder as Amerika en/of Engeland gereis het, sal dit kan bevestig. Studente (en hulle ouers) moet gevolglik aangemoedig word om taalkeuses te maak op grond van oorwegings wat op opvoedkundige beginsels berus wat goed nagevors is – soos die voordele van moedertaalonderrig – eerder as om hulle deur leë ideologieë aan die neus te laat lei.

Die bekende Noorweegse opvoedkundige, Birgit Brock-Utne (2013), spreek haar in hierdie verband ook uit teen opvattings dat veral die natuurwetenskappe beter deur middel van Engels onderrig en geleer kan word en dat Engels as die taal van die wetenskap en tegnologie beskou word. Sy verwys na die gebruik in Afrika waar koloniale tale – en Engels in die besonder – vanaf ʼn baie vroeë ouderdom die enigste of dominante taal van onderrig is. Sy vergelyk Afrika met verskeie lande in Asië waar Engels deur plaaslike tale – veral in die onderrig van wetenskap en tegnologie – vervang is. In Sri Lanka is Engels as onderrigtaal byvoorbeeld deur Tamil en Sinhala vervang. Dit het grootliks daartoe bygedra om die kloof tussen die bevoorregte en minderbevoorregte klasse, die opgeleide elite en die onopgeleide massas, en tussen die wetenskap as sodanig en die breë publiek te oorbrug. Kortom, dit het by gewone mense die selfvertroue gekweek dat die bemeestering van die wetenskappe binne hulle bereik is.

Afrikaans as universiteitstaal is besig om op vele terreine veld te verloor. Die belangrikste teenwig vir toenemende verengelsing is waarskynlik in taalburgerskap geleë.

Afrikaanssprekendes moet eenvoudig mobiliseer en aandring op onderrig in Afrikaans. Hulle moet met hulle voete – en gevolglik met hulle geld en talente – stem as daar nie aan hulle eise voldoen word nie. Hulle kan dit met selfvertroue doen in die wete dat hulle nie alleen die beste vir hulleself en hulle kinders doen nie, maar ook vir ander taalgroepe in Afrika wys wat die beste manier is om dié kontinent se agterstand op vele terreine uit te wis.

  • Elirea Bornman is ‘n navorsingsprofessor in die department kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Bronne

  • Bornman, E., Pauw, J.C., Potgieter, P.H., & Janse van Vuuren, H.  (2017). Moedertaalonderrig, moedertaalleer en identiteit: Redes vir en probleme met die keuse van Afrikaans as onderrigtaal (Mother-tongue education, mother-tongue learning: Reasons for and problems with the choice of Afrikaans as language of tuition). Tydskrif vir Geesteswetenskappe/Journal of Humanities, 57(3), 724-746. doi: 10.17159/2224-7912/2017/v57n3a4
  • Bornman, E. & Potgieter, P.H. (2017). Language choices and identity in higher education: Afrikaans-speaking students at Unisa. Studies in Higher Education. 42(8), 1474-1487. doi: 10.1080/03075079.2015.1104660
  • Brock-Utne, B. 2013. Language of instruction and learning  in Mathematics and Science in some African countries. African and Asian Studies, 12:83–99. doi:10.1163/15692108-12341252

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Eish ·

Goeie artikel wat weereens bewys wat ons reeds lankal weet of vermoed.
Ek is egter bevrees dat met Afrikaansprekendes se getalle, is dit eenvoudig nie meer moontlik om n enkele universiteit in die land, ongeskonde te laat van verengelsing nie. Ondanks ons beste pogings asook Burgerregte groepe se verset, word die politieke beleid gestoomroller sonder inagneming van wetenskaplik bewysbare feite en minderheidsregte.

adriana ·

DIe menigtes is jaloers op Afrikaans want dit was en is nog steeds ‘n suksesverhaal van studente wat presteer en ver in die lewe vorder sonder om alewig te kla of te demand….

Pro Afrikaans ·

Private Afrikaanse Universiteite sal vinniger moet opspring – sodat ons in ons eie taal nog verder die hoogtes kan inskiet!
Laat die massas maar die ander universiteite oorneem – gou genoeg sal die lektore padgee en na die private Afrikaanse universiteite verkas.

JC ·

Dankie vir die insiggewende artikel Prof. Bornman.
Soos die onlangse spitsberaad van Afriforum en ander belanghebbendes bevind het, is ‘n eenvoudige wyse om die effek v/d gepoogde ondermyning van Afrikaans as voertaal op staatskampusse te verhoed/verminder; om akademiese handboeke wat voorheen slegs in Engels beskikbaar was; in Afrikaans te vertaal; en moet ‘n grootse poging in die verband van stapel gestuur word.
Die deskundigheid van taalkenners en vertalers moet ook gein word vir die ambisieuse projek.
Uit die aard van die saak is vakgebiede soos Regte nie ‘n probleem nie, daar word nog steeds aldaar baie (so ver my kennis strek) handboeke in Afrikaans geskryf en is dit beskikbaar.
Hier moet eerder gefokus word op gebiede soos Medies, wetenskap en veral dan ingenieurswese, die Lettere en Wysbegeerte, en Veeartsenykunde.
My nederige mening is dat Afrikaanssprekendes; wanwee die feit dat lesings wat in Afrikaans aangebied was, bedreig word; te lank reeds gemaklik was met handboeke in Engels, dis logies.
Nou is die bordjies net mooi verhang! Daar moet dus naarstigtelik gewerk word om hierdie sameloop van omstandighede teen te staan.Daarmee word nie bedoel dat aktiewe taalburgerskap vis a vis voertaal nie aangepak moet word nie, maar dit is maar net logies dat om Afrikaans se lewensvatbaarheid in die omstandighede te verseker; dit belangrik is dat nou dadelik met vertalings begin word soos nog nooit tevore nie.
Die nodige fondse moet ingesamel word vir die prysenswaardige projek sodat dit so vinnig moontlik aangepak kan word.

Casper Labuschagne ·

@JC, jy raak-raak nou so aan iets waaroor ek al gewonder het. Nie net is dit so dat gespesialiseerde vakliteratuur in Afrikaans kwyn nie (iets wat grootliks deur vertalings reggestel kan word) maar die kern van Afrikaanse akademiese onderrig, ten minste op tersiêre vlak, is al vir meer as drie dekades aan die kwyn. Die Afrikaanse professore word al hoe ouer, die Afrikaanse lektore en junior lektore word al hoe minder en Afrikaans verdwyn selfs heeltemal namate jy by die jongste persone kom. En wanneer daar wel ‘n nuwe Afrikaanse akademiese gees opgang sou maak, dan is daardie persoon se politiek so rooi en marxisties dat jy boerewors kan gaarmaak sonder ‘n gasvlam. Ek vermoed dat wat ek sien is die oortjies van die seekoei en dat hierdie kwynende poel van Afrikaanse akademiese kennis dalk een van ons grootste uitdagings mag wees.

Casper Labuschagne ·

Ek het net gister ‘n 18 jarige meisie teëgekom wat woon en grootgeword het op ‘n Vrystaatse plaas en later die jaar in die buiteland sal studeer. Haar vrees is presies dieselfde as myne, naamlik dat gratis fooie die universiteite so sal oorlaai dat die uitkoms van ons universiteite dramaties sal versleg. Vandat gratis fooie aangekondig is, kon tot dusver nog nie een woord êrens lees van iemand wat sê dat dit nie sal gebeur nie.

My vraag is dus of dit hoegenaamd nie moeite werd is om te baklei vir Afrikaans in instellings wat in elk geval van binne af sal verrot, of moet ons eerder onsself toespits om etlike private Afrikaanse Universiteite asook praktiese opleidingskolleges te stig geskooi op die model van Akademia?

Eish ·

Eie instellings. Ons spoeg eenvoudig teen n stormwind in deur staatsinstellings se taalbeleid teë te gaan.

JC ·

Die antwoord op die vraag in jou lg. paragraaf Casper: ‘n oorweldigende en oordonderende ja!
Ek het reeds my begroting uitgewerk sodat ek die einde v/d maand weer ‘n skenking aan Akademia kan maak.
Dit wat jy beskryf het (bemagtiging deur privaat Afrikaanse instellings) moet ALLE Afrikaanses (wit en bruin) se lewensdoel word.

Henriette Jacobs ·

Mag die NWU ook bogenoemde artikel onder die oe kry en ernstig besin waarheen hulle op pad is!!

peanut ·

Wat vir my interressant is, is dat Afrikaans, wat nou eers amper 100 jaar n erkende taal is, reeds n gerekende ‘Wetenskaps taal’ is, terwyl geen van die Afrika tale in Suid-Afrika, wat al honderde jare aankom, dieselfde kan se nie.

Nou wonder ek maar net of die gekrap aan Afrikaans nie blote suur druiwe is nie.

Patriot ·

Jy is doodreg Peanut. Ander etniese tale in Afrika ontwikkel eenvoudig glad nie. In Afrikaans kry jy verskeidenheid van woorde vir byvoorbeeld `n computer ( Rekenaar, komper, skoot rekenaar ens) terwyl ek weet in Zulu is daar 1 woord : Ama-pc. Engelse afleiding ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.