Afrikaanse iPad-app vir blokkiesraaisel-liefhebbers

ʼn Splinternuwe app (toepassing of applikasie) is pas bekendgestel wat blokkiesraaisel entoesiaste en verslaafdes se tone sal laat omkrul van plesier.

“Vir jare al kry ‘n mens blokkiesraaiselwoordeboeke wat baie inligting bevat en ondersteunend is tot die invul van blokkiesraaisels,” sê Pierre Marais, een van die ontwikkelaars van dié app. “Dit is egter nie altyd die maklikste proses om by die regte inligting (vinnig) uit te kom nie, juis vanweë die uitleg en volume data in naslaanboeke.”

Pierre Marais het dié gaping in die mark raakgesien en besluit om die blokkiesraaiselwoordeboek te moderniseer om aan te pas by die nuutste tegnologie. “Dit is nou baie makliker om die antwoord te vind waarvoor jy soek,” het hy bygevoeg. Marais het ‘n toepassing ontwikkel wat tans op Apple-produkte gebruik kan word.

Hoewel die app in dié stadium nog net op die iPad beskikbaar is, sal dit binnekort ook vir iPhone-gebruikers beskikbaar wees. Die app bevat ‘n databasis van meer as 100 000 verskillende leidrade en antwoorde en bied vier unieke soekmetodes.

“Een van die twee belangrikste soekmetodes in die app is iets wat blokkiesraaisel-liefhebbers glad nie met ‘n boek kan doen nie. Met dié soekmetode hoef jy slegs die letters in te vul wat jy klaar het, terwyl die ontbrekende letters oopgelos word, en dan soek die toepassing deur die totale databasis na al die verskillende moontlike woorde wat daardie kombinasie van letters bevat,” verduidelik Marais.

Die ander soekmetodes sluit die gebruik van die leidraad, die gebruik van standaard antwoordgroepe en die soek vir ‘n antwoord van ‘n spesifieke aantal letters in. Die databasis sal gereeld uitgebrei word, aangesien nuwe leidrade gereeld bygevoeg gaan word.

Marais en Marius Greeff is verantwoordelik vir die data in dié nuwe toepassing. Jacques Auret bied die tegniese ondersteuning. Greeff is ‘n Afrikaanse- en Engelse raaiselontwerper vir bekende Suid-Afrikaanse tydskrifte. Hy is ook outeur van ‘n aantal blokraaiselboeke, waarvan die jongste aan die einde van die jaar verskyn.

Die app is op iTunes beskikbaar en kos R159.99 ($19.99). Klik hier om die toepassing af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanlie Fischer ·

Dit sal gaaf wees, wanneer die blokkiesraaisels op die Samsung Galaxy besikbaar gestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.