Afrikaanse jeugboek ’n finalis in internasionale kompetisie

jaco jacobs boekJaco Jacobs se jeugboek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word (LAPA Uitgewers) ding tans teen ’n indrukwekkende lys internasionale skrywers in verskeie tale mee om die nuut gestigte Found In Translation-toekenning.

Die toonaangewende Britse literêre agentskap Rights People, wat kinderboeke wêreldwyd verteenwoordig, het dié kompetisie van stapel gestuur met die oog daarop om belowende internasionale fiksie vir kinders te vind wat nie oorspronklik in Engels verskyn het nie, en dit deur vertaling en internasionale verteenwoordiging aan ’n breër gehoor bekend te stel.

Jacobs se boek verskyn op die langlys van finaliste saam met boeke in onder meer Kroasies, Deens, Nederlands, Fins, Frans, Duits, Italiaans, Koreaans, Romeens, Sweeds, Taiwannees en Turks.

’n Paneel bestaande uit kenners in die kinderboekbedryf sal nou die geleentheid kry om die titels op die langlys te beoordeel. Professionele voorbeeldvertalings van die wentitels sal aanstaande jaar ingesluit word in die Found In Translation-bloemlesing, en die wentitels sal ’n aanbod van internasionale verteenwoordiging van Rights People ontvang.

Die wenners word in Maart 2015 by die Bologna-kinderboekfees in Italië bekend gemaak, en die bloemlesing sal in e-boekformaat aan Engelstalige uitgewers regoor die wêreld versprei word.

Die paneel wat die titels op die langlys beoordeel, bestaan uit Anthea Bell (bekroonde vertaler), Barry Cunningham (uitgewer by die uitgewery Chicken House), Adam Freudenheim (uitgewer by Pushkin Press), Laura Godwin (visepresident en uitgewer by Henry Holt) en Beverly Horowitz (visepresident en uitgewer by Delacorte Press).

Klik hier vir meer inligting en die volledige lys benoemdes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.