Afrikaanse opvoeding onder skoot

skool

Argieffoto

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Pretoria FM se Vasbyt-tydskrif.

Dit wil voorkom asof Afrikaanse skole en universiteite en alles wat deel is van hul wese – hul Christelike karakter, hul onderrigtaal, die betrokkenheid van hul beheerliggame en hul inherente kultuur – toenemend onder skoot kom. Is daar ’n doelbewuste aanslag deur die regering op Afrikaanse skole, oftewel die ou model C-skole, asook universiteite?

Afrikaanse skole en universiteite is die afgelope jaar gereeld in die nuus. Transformasie word op Afrikaanstalige Universiteitskampusse versnel om die Suid-Afrikaanse rassedemografie te weerspieël. Afrikaanssprekende skole wat nie tot hul volle vermoë benut word nie, word geoormerk om na parallelmediumskole verander te word, sodat die beskikbare kapasiteit tot voordeel van anderstalige skoliere aangewend kan word. Die Christelike karakter van ’n klompie skole is tans in ’n hofsaak onder die loep, en die voorgestelde konsep dat suksesvolle skole moet saamsmelt met skole wat minder goed presteer (sogenaamde “tweelingskap”) sodat die sterker skool die swakker een kan bystaan, sal hoofsaaklik die toppresterende Afrikaanse skole die spit laat afbyt.

Die Solidariteit Beweging beskou hierdie situasie en die impak daarvan op Afrikaanse onderrig as só ernstig dat hulle dit ingesluit het by die mosie van wantroue wat tydens die Beweging se Krisisberaad in Mei vanjaar by die Voortrekkermonument teen pres. Jacob Zuma en sy regering aanvaar is.

“In praktyk het veeltaligheid ná 1994 eentaligheid geword,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê. “Afrikaanse skole word deurlopend vir transformasie geteiken en die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop.”

Die Beweging het in die mosie gesê die geskiedenis het bewys dubbelmediumstatus is bloot die eerste stap om instellings soos Afrikaanse skole uiteindelik totaal te verengels. Die huidige proses om Suid-Afrika se rassedemografie op alle universiteitskampusse te weerspieël, sal tot gevolg hê dat Afrikaans op kampusse verdwyn.

Vir die geveg om Afrikaans en Christenskap in skole te behou, sien die burgerregte- organisasie AfriForum egter kans. “Dit is ’n internasionaal erkende beginsel dat kultuurgemeenskappe die reg het op skole waar hul kultuur oorgedra en hul kinders in hul moedertaal onderrig word. Daarom sal AfriForum waar nodig skole finansieel bystaan om regstappe te doen vir die behoud van Afrikaans as voertaal,” lees die mosie waarmee hulle by die Krisisberaad dié stryd opgeneem het.

Openbare druk sal op universiteite geplaas word om Afrikaans as onderrigtaal te handhaaf en daar sal gesprekke met die regering gevoer word oor die taal se lot.

Afrikaans aan universiteite

Buys se uitspraak oor veeltaligheid versus eentaligheid het in Mei weerklank gevind in die woorde van dr. Blade Mzimande, minister van hoër onderwys, toe hy gesê het daar is nie meer iets soos ’n Afrikaanse universiteit nie. “In hierdie land het ons Suid-Afrikaanse universiteite.”

Volgens Nzimande het hy niks teen Afrikaans nie, maar wil hy nie hê die taal moet gebruik word om ander uit te sluit nie. Oor die Noordwes-Universiteit (NWU) se planne om ’n unitêre universiteit met drie kampusse te word, wou hy hom nie uitlaat nie. Dié plan sal beteken dat die taalbeleid van die NWU se Potchefstroomkampus, een van twee oorblywende Afrikaanse universiteite uit die 38 in die land, in die slag bly. Die druk kom ook nie net van buite nie: Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het reeds aangedui dat die Potchefstroom-kampus se taalbeleid binnekort hersien sal word.

Onderbenutting van Afrikaanse skole

In April het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, ’n taakspan aangestel om te bepaal of Afrikaanse skole “onderbenut” word. Die uiteinde was dat verskeie top- Afrikaanse hoër- en laerskole deur hom geïdentifiseer is om in parallelmediumskole omskep te word.

“Daar is ouers wat hul kinders by ʼn skool wil inskryf, maar dit nie kan doen nie omdat die onderrigtaal grotendeels Afrikaans is. Dit is byvoorbeeld Engelssprekende of Indiër-leerlinge. Ons het nie ’n probleem met Afrikaans nie, maar dit word vir die verkeerde redes misbruik,” het Lesufi gesê.

Lesufi het benadruk dat Afrikaans net soos die ander tien amptelike tale deur die Grondwet erken word. Wat hom pla, is dat Afrikaanse ouers dink dié taal is bo ander verhewe.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verskil van hom. Volgens Kriel is die regering se plan met Afrikaanse skole duidelik, as ’n mens kyk na wat met Afrikaanse universiteite gebeur het en besig is om te gebeur.

Die harde werklikheid is dat Afrikaanse skole inderdaad van die beste skole in die skoolstelsel is, verduidelik Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

“Die slaagsyfer onder gr. 12-leerlinge in Afrikaanse skole is 96% teenoor die 73% van die onderwysstelsel in geheel. Die deurvloeisyfer van leerlinge wat gr. 1 begin en gr. 12 voltooi, is 90% in Afrikaanse skole, maar so laag soos 35% in die onderwysstelsel in geheel. Dié syfer was al so laag soos 23%.

“Van die 100 topskole in die land, is tussen 80 en 90 Afrikaanse skole. “Dit is vir die regering ’n reusagtige verleentheid, want hulle kan dit nie verklaar nie. Die departement van basiese onderwys beskou dit as deel van die oorblyfsels van apartheid.

Die SAOU meen egter die antwoord lê in verskeie faktore, waaronder die gehalte van onderwysers wat voorbereid na die klaskamer kom, die betrokkenheid van ouers, funksionele beheerliggame en goeie dissipline wat gehandhaaf word,” het Klopper gesê.

Paul Colditz verduidelik die regering sit jaarliks met die uitdaging van ’n tekort aan plek in Gautengse skole vir al die leerlinge wat wil inskryf.

“Dit word veroorsaak deur die afgelope klompie jaar se swak beplanning deur die departement,” verduidelik hy. “Boonop wil al meer ouers hul kinders in goed funksionerende skole inskryf weens die departement se onvermoë om onderpresterende skole reg te ruk.

“Die boodskap was aanvanklik dat Lesufi net op Afrikaanse skole fokus. Hy ontken dit, so kom ons gee hom die voordeel van die twyfel. Gegewe die druk waaronder Gauteng is, is dit net billik dat enige skool, Afrikaanse skole inkluis, moet verstaan dat hul kapasiteit nie onderbenut kan word terwyl ander skole uit hul nate bars nie.”

Volgens Colditz moet onderbenutte enkelmediumskole wat hul status wil behou, oorweeg om met ander Afrikaanse skole saam te smelt om te verseker dat die skool vol is. Skole is grondwetlik en ingevolge die bepalings van die Skolewet geregtig daarop om enkelmedium te wees.

Tweelingskap tussen skole

Nog ’n plan waarmee Lesufi onlangs vorendag gekom het, is die idee van “tweelingskap” tussen skole (“twinning”). Die plan is om ’n topskool, soos die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, te laat hande vat met ’n swakker presterende skool, soos Mamelodi Secondary School. Sulke “tweelingskole” sal dan hulpbronne, ʼn bankrekening en ’n beheerliggaam deel.

Lesufi het in April verlede jaar gesê hy wil met dié plan sy stempel op sy ampstermyn afdruk, omdat dit volgens hom hulpbronne wat tot nou toe net vir sekere leerlinge beskore was, tot alle leerlinge se beskikking sal stel.

“Die konsep van deelgenootskap, om mekaar te help, is nie die probleem nie,” verduidelik Klopper. “Maar ons praat hier van voormalige model C-skole wat weinig deur die regering gefinansier word en waar ouers reeds ʼn vennootskap met die staat het. Dit is te danke aan ouers dat dié skole tot uitstekende skole uitgebou is. Nou wil die regering sommer vir die skole ’n liefdadigheidsprojek toewys. Dit is nie langer staatskole nie, maar openbare skole.”

Lesufi glo egter die tweelingplan is die enigste manier om die ongelykhede in die onderwysstelsel te oorbrug. “ʼn Kind moet nie van geleenthede ontneem word net omdat hy of sy in die verkeerde gebied woon nie,” het hy gesê.

Colditz meen die plan is ’n foefie wat nie die beste belang van onderwys, leerlinge óf die betrokke skole as oogmerk het nie.

“Die model van tweelingskap is tot mislukking gedoem. Dit kom neer op gedwonge sosiale ingenieurswese wat nie kan slaag nie. Fedsas het dié model amptelik verwerp,” verduidelik Colditz.

Volgens Colditz is gedwonge tweelingskap tussen skole onwettig en onregmatig.

Hy het Lesufi daarop gewys dat skole vanweë hul verbintenis tot die onderwysstelsel nog altyd betrokke was in uitreikprogramme en bystand aan ander skole, en dat hulle sal voortgaan om dit op ʼn vrywillige grondslag te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Probleem is dit:

Selfs al is baie van die Afrikaanse skole beter as die meeste ander skole, is die onderwys wat daar aangebied word steeds swakker as die wêreldwye mediaanvlak.

Die onderwysstelsel waarvan hulle deel is, is verouderd en probeer nog steeds kinders voorberei vir ‘n negentiende-eeuse fabrieksamelewing.

Afriforum, SAOU, FEDSAS en dies meer is besig om te baklei vir die beste dekstoele op die Titanic.

Bruno Stef ·

Waarom word Afrikaanse model C skole uitgesonder as dit dan as privaat skole bestuur word en streng dissipline toegepas word.Daar is oral privaat Portugese/Griekse/Duitse en Joodse skole en gemeenskappe wat nie blootgestel word aan die selfde heksejag as wat Model C aan uitgelewer is nie.Die onderwerping van die Afrikaanse taal en die Afrikaner kultuur is hoog op Lesufi se agenda waarsonder hy nie vorentoe sy eie agenda kan laat slaag nie.

Leonard van der Dussen ·

Die opskrif “Afrikaanse opvoeding onder skoot” is tekenend daarvan dat “onderwys (onderrig)” en “opvoeding” steeds verwar word, met interessante gevolge vir denke oor onderwys en hoe die rol van die regering daarin toegelaat en verwerk word.

‘n Christelikele samelewing behoort te verstaan dat die gesin die bousteen van die volk is, en dat opvoeding primêr die gesin, en dus primêr die ouers, pa en ma, se verantwoordelikheid is. Sodra opvoeding in ons taalgebruik en ons samelewingsdenke aan die skool gedelegeer word – en eintlik in baie gevalle – oorhandig word, is die Christen en die Afrikaner maar met ‘n ander vorm en doelwit van sosialisme besig waar die kind gesien word as ‘n stukkie van die massa van die gemeenskap wat hom vorm; en dis vanuit hierdie beskouing dat die staat (regering) nie net toegelaat word nie, maar eintlik ingenooi word om oor die kind te heers en van die staat verwag word om onderwys te versorg.

Wat nie so duidelik raakgesien word nie, is dat een vorm van owerheid soms ook maar net met ‘n ander vorm van owerheid vervang kan word, maar dat die onderliggende denkfout dieselfde bly, naamlik dat opvoeding aan die skool oorgelaat word, en dat die eie owerheid (soos bv ‘n organisasie vanuit eie geledere) net so maklik toegelaat kan word of selfs opgedra word om onregmatig in die kind se opvoeding in te dring. “Lewensoriëntering” is ‘n voorbeeld hiervan: of jy dit nou deur die kommunis laat aanbied, en of jy dit nou “Christelike Lewensoriëntering” maak, jy is besig om ‘n kind ‘n punt te gee vir sy “lewensoriëntering”, en sodoende maar net jou eie vorm van “sosiale ingenieurswese” te pleeg.

Elke kind is ‘n indiwidu en elkeen is by die naam geroep en mag nie onderhewig gemaak word aan bepunting van sy “lewensoriëntering” nie.

Natuurlik moet die Christen se kind verkieslik in ‘n Christelike skool wees, en natuurlik moet ons veg vir moedertaalonderrig en baie goeie dinge in die onderwys; maar ons moet aanhoudend teen die sosialisme waak, ons moet die gesin weer in ere herstel, die kerk as die plek waar die Woord ten eerste verkondig word (m a w gereeld bywoning van eredienste, en herstel van eredienste as eredienste met die Woord sentraal), en die skool se onderwysrol reg verstaan en beteuel.

Die stryd wat organisasies voer teen die regering se onregte verdien steeds ondersteuning en die weerstand teen die huidige regering se onderdrukking, valsheid en afbrekendheid moet voortgaan en steeds verhoog; maar laat nie na dat ons in die onderlinge regering van onsself ook werk het om te doen en nie in die slaggat moet trap om te dink die skool kan of mag die opvoeder wees nie.

Leendert van Oostrum ·

Mnr Van der Dussen skryf: “‘n Christelikele samelewing behoort te verstaan dat die gesin die bousteen van die volk is, en dat opvoeding primêr die gesin, en dus primêr die
ouers, pa en ma, se verantwoordelikheid is. ”

Ja, ‘n Christelike samelewing behoort dit te verstaan, want die heidene verstaan dit baie goed!

Die VN Konvensie oor die Regte van die Kind bepaal dat ouers die primêre verantwoordelikheid het vir die opvoeding van die kind. Die Afrika Handves oor die Weslyn en Regte van die Kind bepaal presies dieselfde. En albei dokumente is deur die Parlement verklaar tot wet in Suid-Afrika.

Verder stel die Kinderwet dit uitvoerig duidelik dat die ouers die plig en ook die reg het om die kind se onderwys te rig, te bepaal en te verseker. Let op die woord “bepaal” (Eng: “to direct”). Dit beteken dat die ouers se oordeel in hierdie saak deurslaggewend is, en voorrang geniet bo enige ander, insluitende dié van onderwysers, skoolhoofde, amptenare en ministers. Die ouerlike oordeel oor wat, hoe, waar, wanneer en van wie ‘n kind sy onderwys ontvang kan slegs deur ‘n hof ter syde gestel word.

Die staat het inderdaad ook ‘n verantwoordelikheid om onderwys beskikbaar en toeganklik te maak, maar die staat se plig is sekondêr. Die Grondwetlike Hof het dit in die saak van Grootboom ook duidelik gemaak – die primêre aard van die ouerlike sorgplig beteken dat die staat se plig slegs in werking tree as dit bewys is dat die ouers hul pllig versuim. Die geld die onderwys en elke ander aspek van ouersorg.

Maar ons val letterlik oor ons voete om die verantwoordelikheid en die seggenskap oor die inhou en die aard van die onderwys te oorhandig aan skole, amptenare en politici.

Die gevolg is dat die magte van beheerliggame in openbare skole volkome uitgehol is, en weinig betekenis oor het vir die onderwys wat die kinders kry. Privaatskole, insgelyks, voer die kinders presies dieselfde slop wat hulle in staatskole kry – net met ‘n silwer lepeltjie.

Johann Marx ·

En terwyl die aanslae van buite in felheid toeneem, is ons as Blanke Afrikaanssprekendes nog besig om mekaar ook uit te mergel. Skole fokus meer op “rugby” as op opvoeding. Skoolfonds neem in sommige gevalle toe met tot 122% oor vyf jaar. Beheerliggame “beheer” skole asof dit aan hulle behoort. Ouers word in sekere besluite in gestoomroller…en waag net om jou mond oop te maak, dan ontgeld jou kind dit. In sommige gevalle is die munisipale dienste-rekening van ‘n skool soveel as ‘n derde van ouers se skoolfonds. Openbare skole word ook gebruik as “werk-sekuriteit” vir blanke onderwysers….Al baie skole gesien wat se leerder getalle afneem, sonder dat ‘n enkele beheerliggaams-pos afgeskaf word. In my dae het die St 9’s vir die Matrieks in die skoolsaal matriekafskeid aangebied….met die hulp van die St 9 Ma’s….Ongelukkig het dit ontaard in ‘n geld-mors uitspattigheid….waar menige ouers al by oop grafte gestaan het oor “after-party” saam met ‘n rykmans-bloedjie wat toegang tot sy pappie se sportmotor gehad het. Die hele onderwysstelsel het sy fokus en doelstellings verloor…..en ons jonger geslag ly daaronder.

Disselboom ·

Dis waar dat ons eintlik maar baie uiterlik en plesiersoekend geword het en ons skoolbegrip dalk so bietjie moet terugsnoei na calvinistiese begrippe soos soberheid, netheid, afgerondheid, uitnemendheid en so aan.

Dalk tyd vir ‘n Afrikaner-onderwysberaad: maar een met ‘n verskil. ‘n Beraad wat nugter kyk na wat in die werkswêreld aangaan, wat onderwys respekteer en dit nie maar net nog ‘n slagveld en geleentheid vir uitleef en deurvoer van politieke strewes wil maak, en veral nie terughunker na die verlede “toe dit nog goedgegaan het” nie. Dit moet die nou in die oë kyk, en die toekoms in ag neem.

‘n Onderwysberaad wat op onderwys fokus, en hoe dit opgestel, gekapitaliseer en bedryf moet word om Afrikanerkinders ekonomies te bemagtig, in die regte christelike-kultuureie milieu behou, maar gefokus op onderwys.

‘n Skool is nie die plek om kerklike versplintering te probeer regmaak nie.

‘n Skool is nie die plek om nasionalisme te probeer uitleef omdat ons dit nêrens anders op die oomblik regkry nie.

Die kind se skool is vir die kind wat nou en binnekort in die toekoms moet kan leef en bestaan en sy eie vermoë moet hê om op sy manier sy geloof, liefde, land en lewe te kan leef.

Theresa ·

Afriforum en almal besig met die belangrike taak om te keer dat parasitisme nog op skoolvlak ook plaasvind – DANKIE!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.