Afrikaanse organisasies se sukses beïndruk Vlaamse besoekers

Tom Laloo, Paul Beheyt, Christiaan Veroughstraete, Wouter Opdenacker, Dieter Alyn en Luc Pausenberger van die Marnixring. (Foto: Verskaf)

“Die werk wat julle hier in Suid-Afrika doen is uiters inspirerend en hartverwarmend. Dis werklik ʼn voorbeeld vir ons.”

Só sê Wouter Opdenacker, voorsitter van die Marnixring-kultuurbeweging in Brugge, België, oor die werk wat daar by die Solidariteit Beweging en sy 21 instellings en onafhanklike vennote, waaronder Helpende Hand en AfriForum, gedoen word om gemeenskappe te dien en Afrikaans as taal te bevorder.

Die Marnixring is ’n internasionale diensklub met takke in 55 Vlaamse dorpe en stede en beywer hulself vir die ontwikkeling en beskerming van die Nederlandse taal en kultuur, waarby Afrikaans as ʼn “dogterstaal” ingesluit word. Daarom is dié diensorganisasie se leierskap ook verbind tot die bevordering en beskerming van Afrikaans.

Die diensorganisasie is ook een van verskeie vriendskapsverenigings wat die Solidariteit Beweging vanuit Europa op verskillende terreine ondersteun.

Die groep het verlede jaar tydens die Solidariteit beweging se massaklagtoer na Europa R200 000 geskenk om projekte wat Afrikaans bevorder te ondersteun en het ook voorheen geld vir die Beweging se liefdadigheidsinisiatiewe beskikbaar gestel.

Die groep het die Voortrekkermonument in Pretoria besoek. (Foto: Verskaf)

Opdenacker is een van ses Vlaamse-besoekers wat tans saam met lede van die Solidariteit Beweging deur Suid-Afrika toer om meer te leer oor die Afrikanerkultuurgemeenskap en “hoe Afrikaanse organisasies sukses behaal”.

Die groep het Maandag as deel van hul toer die Voortrekkermonument in Pretoria besoek waartydens hulle die geleentheid gekry om die Jakarandastad vanaf die dak van die monument te besigtig. Hulle is later ook met potjiekos, malvapoeding en melktert vir aandete bederf terwyl ʼn plaaslike boereorkes vermaak verskaf het.

Een van die Marnixring-lede, Christiaan Verougstraete, besoek tans Suid-Afrika vir die negende keer en vertel dat sy belewenis van die toer uiters positief is. “Suid-Afrika bly darem ’n pragtige land.”

Die groep gaan vir die res van die land plat toer en verder verken. Hul volgende besoek gaan aan die Krugerwildtuin wees waarna hul die Wes-Kaap sal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.