Afrikaanse Taaldag by taalmonument gevier

Die Afrikaanse taalmonument in die Paarl. Foto: Nico Strydom

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Afrikaanse Taalraad (ATR) bespreek gedurende hul gesamentlike Taaldagvieringe op 26 Augustus 2017 in die Paarl ʼn aantal interessante vrae oor die herkoms en vestiging van Afrikaans as volwaardige taal.

Hoe en waar het Afrikaans ontstaan en wie se taal is dit? Hoe verstaan mens vandag, met die agterna-insig van baie jare, die bydrae van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 tot die ontwikkeling en vestiging van Afrikaans as ’n volwaardige taal?  Wie het almal bygedra tot die wording van Afrikaans? Hoe gaan Afrikaans in 2040 daar uitsien?

Die Taaldagprogram sal bestaan uit ’n paneelbespreking oor die herkoms van Afrikaans en ’n kultuurprogram wat die diverse herkoms en kulture van die Afrikaanse taalgemeenskap sal vier.

Die sprekers is prof Christo van Rensburg, skrywer van So kry ons Afrikaans, Anzil Kulsen, skrywer en projekbestuurder by die ATKV, Imam Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council, en prof. Charlyn Dyers, mederedakteur van die boek Kaaps in fokus.  Die gespreksleier is Rian Cloete, ’n bekende in mediakringe.

Michael Jonas, direkteur van die ATM, sê: “Die agt stigterslede van die GRA is vir almal ’n bemoedigende voorbeeld van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal: “Afrikaans verkeer vandag weer onder geweldige druk, hoewel dit vir baie mense hul enigste vorm van kommunikasie is. Die ATM wil graag deel vorm van debatvoering oor brandpunte in ons Afrikaanse taalgemeenskap, veral dié wat die saak van Afrikaans, en al haar sprekers, benadeel.”

Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, sal hierdie Taaldag “help om etlike negatiewe narratiewe oor die herkoms en eienaarskap van Afrikaans te takel en daarmee samehorigheid tussen Afrikaanssprekendes bevorder”.  Met behulp van afrikaans.com sal die Taaldagboodskap wyd uitgedra word.

Die Taaldagvieringe vind plaas by die saal van die Toringkerk in Paarl, hoek van Hoof- en Van der Lingenstraat. Die paneelbespreking begin om 09:30, gevolg deur die kultuurprogram om 13:30. Bywoning is gratis, maar sitplekke is beperk. Bespreek by Ria Olivier, [email protected] of Nkita Pietersen, [email protected]. Skakel gerus 021 872 3441 of 021 951 4391 vir meer inigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.