Afrikaanse Taalraad vereer taalvoorstanders

Al die wenners van die aand (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het onlangs hul jaarlikse Kokerfunksie gehou wat mense vereer wat Afrikaans in verskeie taalfunksies aktief bevorder, beskerm of die sprekers deur Afrikaans bemagtig.

Sewe Kokertoekennings is by dié geleentheid uitgedeel. Die TV-aanbieder en joernalis Heindrich Wyngaard, ’n voorstander van ’n vriendelike, inklusiewe Afrikaans, het die Koker vir die bevordering van Afrikaans ontvang.

“Hierdie toekenning gee erkenning aan my ma en die anties wat saam met haar op die uieland gewerk het. Dis waar ek voorskools my Afrikaans geleer het: in die koelte onder die plaaslorrie. Dit moedig my ook aan om meer te doen vir die opheffing van bepaald bruin en swart Afrikaanssprekendes wie se beeld steeds nog dié van ‘tekortskietende wesens’ in Jakes Gerwel se woorde is,” het Wyngaard gesê.

Heindrich Wyngaard aanvaar sy toekenning (Foto: Verskaf)

Die Koker in die beskermkategorie het aan prof. Ina Wolfaardt-Gräbe gegaan. Sy het die voortbestaan van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, die enigste Afrikaanse akademiese tydskrif met internasionale aansien, verseker.

Volgens Wolfaardt-Gräbe het ’n gasredakteur dié tydskrif onlangs as “een van die laaste vestings van Afrikaans as akademiese taal” bestempel.

Vanjaar se bemagtigingstoekenning het gegaan aan vader Vernon Macaskill Meyer as verteenwoordiger van die Oratorium van Sint Filip Neri van Oudtshoorn. Meyer en sy kollegas

bedryf die Afrikaanse Taalapostolaat van die Konferensie van Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe onder die vaandel van die Afrikaanse Taal Pastorale Streek.

YOMA (Claudia Witbooi) (Foto: Verskaf)

Hulle werk behels onder meer die verskaffing van amptelike Afrikaanse vertalings van kerkdokumente en geestelike en pastorale leesstof in gedrukte en elektroniese formaat.

Drie jeugtoekennings is ook uitgedeel aan die kletsrymer YOMA (Claudia Witbooi), die dramaturg en regisseur Nico Scheepers, en aan Sonia Elie wat die boekwinkel Die Boekfeetjie uit haar huis in Eldoradopark bedryf.

’n Spesiale Kokertoekenning is aan Sakkie Kotze oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans deur die bevordering van gehalteonderwys en onderwysleierskap. Hy het ook ’n wye reeks dinamiese kultuurprojekte in Afrikaans en oor taalgrense heen geïnisieer.

Tim Du Plessis was die spreker van die aand (Foto: Verskaf)

Hy sê hy is baie lief vir Afrikaans en praat dit met trots. “Dit bly ’n voorreg om ons taal op allerlei wyses te bevorder.”

“Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat,” het Japie Gouws, voorsitter van die ATR, by die funksie gesê.

“Ons moet hierdie bate tot voordeel van alle sprekers daarvan gebruik, en ook die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

Tim du Plessis, hoof van aktuele sake by kykNET en die genooide spreker by die geleentheid, het gesê die ATR is ’n belangrike ruimte waarin die gemeenskaplikheid van bruin, swart en wit Afrikaans verken word. Hy het bygevoeg dat dit altyd ’n proses sal wees en nie ’n einddoel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.