Afrikaanse Wiki maak inligting meer toeganklik

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Daar is reeds ongeveer 41 916 Afrikaanse artikels op Wikipedia gelaai en Maroela Media is trots om ook ʼn bydrae te kan lewer. Maroela Media se Afrikaans op Wikipedia-projek, moedig kenners aan om artikels op Wikipedia te publiseer.

Só ʼn kenner is dr. Estelle Kruger, oud-dosent by Stellenbosch Universiteit, wat in onderrig en kreatiewe skryfwerk spesialiseer.

“Ek het besef ek kan ʼn bydrae lewer met ʼn lot inligting. Ek het verskriklik baie artikels geskryf wat gepubliseer is, maar dit was baie akademies en toe dink ek, ek wil dit meer toeganklik maak vir die algemene publiek.”

Dr. Kruger sê dié artikels was veral gemik op onderwysers omdat sy ʼn groot behoefte het om op só ʼn manier ʼn bydrae te lewer. Sy was self ook in die onderwys en dit is veral die oordra van inligting wat haar na aan die hart lê. Vir dié oud-dosent is Wikipedia soos ʼn brug wat akademiese inligting meer toeganklik maak vir die breër publiek. Sy sê sy was aangenaam verras oor die moderering van haar skryfwerk en dat dit vir haar goed was om te sien dat die keuringsproses redelik streng is.

“Hoe sterker die keuring is, hoe beter is die gehalte. Ek het besef toe ek daarmee besig was, dat die artikels nie dadelik gelaai word nie omdat iemand dit eers deurgaan, en die foute raaksien. Daar is ʼn sterk keuringsproses, en as akademikus, weet ek, beteken dit beter gehalte.”

En die belangrikheid van so ʼn projek? Dr. Kruger sê vir haar voel dit of sy Afrikaans help bevorder het.

“Dit gee my ʼn groot genoegdoening, ten spyte van die feit dat ek Engelse en Switserse kleinkinders het,” skerts sy, “ek het my deel gedoen.”

As jy ook jou deel wil doen, stuur ʼn e-pos na [email protected] vir enige navrae oor opleiding of as jy idees en artikels wil stuur.

Lees meer oor die Wikipedia-projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Die afrikaanse wiki is nie ‘n projek van Maroela Media nie, dis deur vrywilligers op die been gebring en baie ouer as MM. Maar dis gaaf as MM hulle ondersteun

Landi Slatter ·

Dagsê Chris

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning indien die artikel verwarring geskep het oor Maroela se bydrae tot Afrikaanse artikels op Wikipedia. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.